Boekoorsig: Heimwee

Heimwee deur Sophia Kapp word deur Boekdiva Uitgewers uitgegee.

As skrywer van meer onlangse (en uiters gewilde) boeke soos Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, Kanaän, Kantelpunt en Wimpers op lakens het Sophia Kapp geen bekendstelling nodig nie. Haar skrywes is altyd ’n bederf, want nie net is dit deeglik beplande stories wat die hart roer nie, maar haar taalgebruik is altyd besonder keurig. En dis geen wonder nie, want Kapp het jare se ervaring as taalpraktisyn.

Heimwee beslaan 515 bladsye en twee afwisselende storielyne. Een speel net ná die Tweede Wêreldoorlog af en een in die hede. Dit is naas Kanaän Kapp se tweede boek met ’n geskiedkundige storielyn. Die familieplaas, Heimwee, dien as basis vir albei storielyne en bind die karakters saam.

Vroue figureer in beide storielyne as hoofkarakters. Daar is die briljante maar gereserveerde pediater, professor Mart-Mari Louw, in die teenswoordige storielyn en die bloedjonk Liesbet Vermaak in die geskiedkundige storielyn. Mart-Mari en Liesbet se lewens is onlosmaaklik verweef aan Heimwee en sy mense. Mart-Mari se ma is ná ’n siekbed oorlede, en sy moet begrafnis toe op Humansburg. Dáár wag haar sibbe en al die dinamika rondom gekompliseerde familieverhoudings op haar. Vir hulle tel haar geleerdheid nie veel nie; hulle is getroud en wil graag ’n man aan haar sy sien. Sy huur die nutsman-tuinwerker van langsaan, Anton Niewoudt, om voor te gee dat hý die man aan haar sy is. Dié knutselaar kwyt hom natuurlik heeltemal té uitstekend van sy taak. Liesbet weer, moet ná ’n ontsettende tragedie, alleen op Heimwee agterbly en haar twee jonger broers grootmaak. Maar dan daag Gert Niemand op. Is Anton en Gert net tydelik in Mart-Mari en Liesbet se lewens, of is hulle daar om te bly ten spyte van die twee vroue se (en hulle eie) bagasie?

Met bogenoemde as wegspringplek, spin Kapp twee lekkerleesliefdesverhale wat haar lesers oorrompel én smoorverlief laat op Anton en Gert. Hierdie verhoudingsfiksie is beslis nie spookasem nie. Kapp slaag uitstekend daarin om nie in die slaggat van verromantisering te trap nie. Ja, daar is attraksie én seks, maar die intriges is behóórlik diggeweef. Die verhoudinge tussen sibbe, man en vrou en ma en kinders word ondersoek. Dit gaan oor verlies, verantwoordelikheid, opofferings, eerlikheid, selfondersoek, vergifnis, aanvaarding, vertroue en behoort. En liefde, natuurlik. Hierdie sin som dit vir my so mooi op: “Dit is moontlik om lief te hê, ten spyte daarvan dat dinge nie soos in ’n sprokie verloop nie …” (373).

Dit sal vir my baie moeilik wees om te kies tussen Mart-Mari en Liesbet se aangrypende stories. Beide het my enduit geboei. Mart-Mari se lewe is een groot skans, want ten spyte van haar akademiese geleerdheid het sy emosioneel nog baie om te leer. Daarteenoor moet Liesbet feitlik oornag grootword, haar jongmeisiedrome laat vaar en rugknakkende verantwoordelikhede op haar skouers neem wat haar aan Heimwee vasketting. Anton en Gert is baie lojale manne, maar elkeen het ’n verlede waarin hulle geleer het hoe belangrik familiebande is.

Een van die aangrypendste tonele in Heimwee is hierdie gewaarwording deur een van die karakters: “Hierdie aand sal hy opdiep, weet hy, wanneer hy oud en moeg en mal is en hy selfs sy eie lewe vergeet het. Selfs dan sal hy onthou hoe dit is om in die lamplig by ’n kombuistafel te staan en te voel hoe verander jou hele lewe in ’n halleluja” (362). Dis vir my so mooi geskryf.

Skaf gerus jou kopie van Sophia Kapp se Heimwee hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.