Boekresensie: Die kind se naam is Anneke

Die kind se naam is Anneke deur Juliana Coetzer word uitgegee deur Human en Rousseau.

Hierdie outobiografiese vertelling volg op Juliana Coetzer se blitsverkoper getiteld Bloedvreemd waarin sy vertel van die stelselmatige agteruitgang van haar dogter, Anneke, wie se brein op sewejarige ouderdom aangetas is toe die waterpokkievirus daar beland en verwoesting gesaai het. In Die kind se naam is Anneke skryf Coetzer oor die tydperk sedert Bloedvreemd verskyn het. Dit is aangrypende, hartroerende leesstof.

Ek het nie die eerste boek gelees nie. Coetzer gee egter genoeg agtergrond in haar tweede boek om haar lesers op hoogte te bring van die uitdagende omstandighede rondom die versorging van Anneke op haar onomkeerbare pad van agteruitgang. Sy sê aan ’n vriendin op bladsy 150: “Ek moet dit nou eens en vir altyd besef: Anneke is nie net verstandelik gestrem nie, sy is ’n psigiatries versteurde mens. Daar is nie orde in haar brein nie, geen besef van wat aanvaarbaar is nie. Instink het oorgeneem. Soos ’n dier word sy voortgedryf: eet, drink, slaap en koop. Daar is geen denke wat haar rig nie. Die ou mense sou gesê het sy is kranksinnig. Hoe verskriklik dit ook al mag klink dat ’n ma dit van haar eie kind sê, maar Anneke is nou ’n mal mens.”

Sy noem ook dat sy en haar man, Fanus, verstom is dat hulle dit regkry om elke oggend op te staan en aan te gaan. “Ons is sprakeloos oor die bomenslikheid van die situasie. Nie net om ons onthalwe nie, maar ook oor haar.”

Coetzer vertel eerlik en sonder om doekies om te draai oor hoe Anneke se siekte haar en haar gesin se lewens gekaap het. Sy skroom nie om selfondersoek te doen oor die wyse waarop sy as ma en mens probeer staande bly te midde van die uitmergelende eise wat voortdurend in felheid toeneem namate Anneke se toestand versleg nie. Sy moes mettertyd noodgedwonge leer om afskeid te neem van die sewejarige dogtertjie waaraan sy vir lank vasgehou het. “Ons moet iets begrawe wat nie in ’n kis pas en sy laaste rusplek tussen ander grafte kry nie. Daar is nie as wat gestrooi kan word nie. Ons lê ter ruste wat nie met die oog gesien kan word nie. Nie die persoon nie, maar die persoonlikheid. Onontginde potensiaal. Net die naam bly oor” (39).

Deur dit alles heen is daar altyd die seker wete: “Anneke is ons verantwoordelikheid en daarom moet ons vir haar toekoms sorg. Ons kan dit van niemand anders verwag nie” (17). “Ek is ingetrek in die wesenlikheid van Anneke. Sy het die mens geword rondom wie ek my lewe beplan. Die verantwoordelikheid agtervolg my soos my skaduwee” (103). Hierdie oorweldigende pligsbesef dryf die Coetzers om aan te hou en uit te hou deur onder meer die ontelbare hospitaalbesoeke, die talle kere wat Anneke val en seerkry, die skrikwekkende hoeveelhede epileptiese toevalle wat sy kry, en die aggressiewe gedrag wat toeneem soos haar verstandelike vermoëns en sosiale vaardighede afneem. Dinge eskaleer tot op ’n punt waarby geen ouer ooit behoort te kom nie, maar juis dan triomfeer die liefde wat ’n ouer vir ’n kind het. “Vandag weet ek: toe ek tot op die uiterste uitgedaag is deur my kind, het ek die liefde op sy sterkste gevoel” (234).

Coetzer skryf dat sy onbeskryflik dankbaar is vir die ondersteuning en belangstelling van vele onbekende mense. Sy kry jare ná se verskyning van Bloedvreemd steeds briewe van lesers wat vra hoe dit met Annake en die res van die gesin se welstand gaan.

Skaf gerus jou kopie van Die kind se naam is Anneke hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.