Boekresensie: Die wet van Gauteng

Hannes Barnard se roman getiteld Die wet van Gauteng, word deur Human & Rousseau uitgegee.

Die wet van Gauteng is ’n naelbytriller wat die Suid-Afrikaanse politieke arena en gepaardgaande binnegevegte, korrupsie, magstryd en die kuns van toutjiestrek en beheer uitoefen uitstekend belig. Die uittreksel op die agterblad lui juis: “As jy in Suid-Afrika se politiek aan die top wil bly, het jy geld nodig. Dink jy mense stem omdat hulle in die kandidaat se visie glo? Nee, ou maat, die wet van Gauteng is ketjieng-ketjieng-ketjieng.”

Die spanning in die verhaal is snaarstyf gespan, en die skrywer se skryfstyl boeiend en sterk. Barnard terg die leser met sy lewendige verbeelding en leidrade wat soos landmyne regdeur die boek geplant is en jou aan die raai hou. Die tempo is dié van ’n wegholtrein en slim tegnieke soos onder andere terugflitse, plek- en tydperkwisselings en karakterspronge – wat sterk herinner aan hoe ’n aksiefliek aanmekaargesit word – gee die leser kans om tegelykertyd asem te haal en ook legkaartstukke inmekaar te pas.

Die leser is op ’n onvergeetlike wipwarit wat begin by ’n uitgeputte en uiters gespanne vrou wat die gesigte van verbygangers byna koorsagtig bekyk en prosesseer, wagtend op die persoon wat sy weet sal opdaag. Die gevoel van spanningsvolle afwagting van of na iets wat net-net buite jou beheer bly, vergesel die leser deur grusame moordtonele, hofprosedures en ander opwindende scenario’s. ’n Spesiale taakmag probeer om die skerpskutter gedoop “Oogarts” vas te trek en hulle weg deur ’n doolhof van onbekwaamheid, krimpende begrotings, politieke inmenging, geldwassery en korrupsie te vind.

Die karakters en gebeure word geloofwaardig en gemotiveerd oorgedra danksy Barnard se vermoë om die leser in die toneel in te trek met versigtig gekose woordgebruik en beskrywings. Hy verdien beslis ’n pluimpie vir die heerlike manier waarop hy met taal omgaan en tonele beskryf. Ek het sommige sinne wéér gelees en my verwonder aan hoe akkuraat en oorspronklik hy was met die kies van woorde om net die regte gevoel aan die leser oor te dra. Hier volg ’n paar voorbeelde: “Dit voel of sy in ’n kolkende watergat is, en sy weet sy verdrink” (17). “Stomheid het soos ’n luislang om hom gekrul en die asem uit sy longe gepers” (21). “Hy voel hoe sy hart inmekaartrek soos ’n leë bierblikkie wat jy in jou vuis verfrommel” (24). “Die regering is ’n olietenkskip, nie ’n verdomde opblaasbootjie nie. Draai, draai dit, maar dit vat lank” (162).

Uittreksel: “Die verskrikking van die parallelle wêrelde waarin hulle bestaan, laat haar keel toetrek. Hoe durf sy ’n kind grootmaak in hierdie plek? Hier waar ’n lewe minder werd is as die stof aan jou skoene. Waar moord die oplossing is vir enige probleem. Groot. Klein. Onbenullig. Maak nie saak nie. Waar mense soos sy wegsink in die onreg en hulpeloosheid van alles. Met hande wat daagliks stywer vasgebind word deur nuwe lae burokrasie en krimpende begrotings.” (16).

Meer oor die outeur: Hannes Barnard is die seun van ’n predikant. Hy het voorheen in Engeland en die Seychelle gewerk, maar woon sedert 2017 weer heeltyds in Suid-Afrika saam met sy vrou. Sy vorige boeke sluit in Wolk (Lapa, 2020), Roet (Lapa, 2021) en Halley se komeet (Wenkbrou, 2019).

Kry jou kopie van Die wet van Gauteng by ’n boekwinkel of bestel dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.