Boekresensie: Grilgrypers-reeks

Hierdie reeks laat lesers gril en ril.

De Wet Hugo, werksaam by die Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië, se uiters gewilde Grilgrypers-reeks vlieg van die boekwinkels in Suid-Afrika se rakke af. Die boeke kom sowaar met ’n waarskuwing op die agterblad: “Die Grilgrypers-reeks is grillerig, rillerig en hoendervleis-lekker leesstof”.

Lesers tussen 9 en 12 jaar oud spog lustig onder hulle maters as hulle dapper genoeg was om ál vyf grieselrige boeke in die reeks te lees.

Hugo wéét hoe om sy lesers se arms in hoendervleis te laat uitslaan soos hulle ril en gril vir sy stories wat mens behoorlik die ritteltit en bewerasie gee. Een ding is seker – niemand lees ’n Grilgryper sonder dat jou hart nie in jou keel tamboer en elke haartjie op jou lyf penorent staan nie. En dís die lekkerte van lees: wanneer ’n boek jou aandag só gevange neem dat jy dit nie kan of wil neersit nie, want jy geniet elke oomblik van die leeservaring, al loer jy kort-kort bang oor jou skouer of ’n weerwolf of ’n krokodil jou nie dalk vanuit die skadu’s bekruip nie.

Die Grilgrypers-reeks bestaan uit Die vloek van Vreesbaai, Web van die mummie, Kamp vir monsters, Die meisie in die maanlig en Die groen watergraf. (Klik op die eerste drie boeke om my resensies daaroor te lees.)

Myns insiens is die Grilgrypers-reeks so gewild omdat kinders opnuut die krag van oningeperkte verbeelding ontdek wanneer hulle hierdie boeke verslind. Mens se verbeelding kan jou mos liederlik op ’n knop jaag en jou veel banger maak as enige beelde op die televisieskerm. Geen spesiale effekte in ’n fliek kom by dít wat jou verbeelding kan optower nie.

Die volgende paragraaf verskyn op bl. 122 van Die meisie in die maanlig: “Babette tree agteruit, maar stamp teen iets agter haar. Voor sy kan omkyk, hoor sy ’n swaar roggelgeluid. Haar oë skiet vol trane en sy gee ’n tree vorentoe en draai stadig om. Reg voor haar staan die bloedbelope meisie van haar nagmerries en sy strek haar arms uit asof sy Babette aan die nek wil gryp!” Nou sê nou vir my dié toneel gryp nie met ysvingers aan jou hart nie! Arme Babette. Sy word gekonfronteer met onsterflikes én zombies wanneer sy by haar tannie Theodora op Rustfontein gaan woon. Pure bangmaakgoete!

Grilgrypers 5, Die groen watergraf, het weer nie bonatuurlike elemente in nie, maar moenie vir een oomblik dink dat dié storie die leser nie ook slapelose nagte gaan besorg nie. Wian de Wet word in pleegsorg geplaas by baie eienaardige mense wat hom doodbenoud maak. Boonop kom woon die boelie, Pierre, ook by hierdie pleeggesin wat jouwaarlik ’n mak krokodil met die naam Cornelia aanhou. Blykbaar het die einste “onskadelike” Cornelia ’n onversadigde eetlus en durf mens nie haar gevoelens seermaak nie; jy beter haar met liefde en respek stukke stink, bloederige vleis voer. Die troetelkrokodil kyk glads saam met die gesin na ’n film “oor ’n prehistoriese, monsteragtige krokodil wat mense verskeur en verslind”. Gaan Wian daarin slaag om uit die mensvreterkrokodil se kake uit te bly? Of gaan hy soos soveel ander die dier se prooi word en opgevreet word? Lees die boek om uit te vind ás jy dapper genoeg is.

Kinders hou van bangmaakstories, maar natuurlik binne perke. Hugo se Grilgrypers-reeks behou ’n fyn balans deurdat dit kinders laat ril en gril met die wete heeltyd in die agterkop dat dit net ’n storie is. Hugo beaam dit dan ook: “Ek dink kinders hou van my boeke omdat die hoofstukke kort is en met naelbyters eindig. En kinders hou van ril en gril omdat dit hulle vir kort tydjies gespanne maak en laat hoendervleis kry, maar veral omdat hulle weet rillers is opgemaakte, uitgedinkte stories wat hulle verbeelding lekker op hol jaag!”

Lesers identifiseer ook graag met die doodgewone, aanvanklik bangerige hoofkarakters wat deur die loop van die stories hulle vrese konfronteer en oorkom. Volwassenes kan gerus ook maar die Grilgrypers lees as hulle dapper genoeg is.

Die Grilgrypers-reeks word uitgegee deur Human & Rousseau.

Luister hier na ’n opname wat Maroela Media-ateljee gemaak het waarin DeWet Hugo meer oor sy rillerboeke vertel.

Skaf die boeke by Graffiti Boeke aan:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.