Boekresensie: Handige veldgids vir voëlkykers

VELD Voëls van Suider-Afrika: Die volledige fotogids word deur Sunbird Uitgewers, ’n druknaam vir geïllustreerde boeke van Jonathan Ball Uitgewers, uitgegee.

Hierdie omvattende en gesaghebbende publikasie met nagenoeg 2 000 kleurfoto’s beslaan ’n allemintige 560 bladsye. Dit is ’n onontbeerlike en nuttige bron vir voëlliefhebbers en kranige fotograwe. “Die boek is ’n kombinasie van ’n veldgids, in boekvorm, en ’n app. Deur die twee mediums te kombineer, bied ons aan lesers ’n ongekende oudiovisuele ervaring” (5).

VELD Voëls van Suider-Afrika: Die volledige fotogids bevat die jongste foto’s, navorsing en verspreidingsdata oor die 991 voëlspesies wat tot nou toe in Suider-Afrika aangeteken is. Die onderskeie voëls word in 10 groepe verdeel volgens hulle mees kenmerkende eienskappe. Die inskrywings is bondig, interessant en leersaam. Dit fokus op identifikasie en wys lesers op gedrag en habitat en verskille soos onder meer kleurvariasies en subspesies. Daar is ook bykomende inligting oor die onderskeie voëlspesies se bou, voedsel en sosiale gedrag.

Die bladuitleg is netjies georden en funksioneel. Daar is twee spesies per bladsy en twee foto’s per spesie. Kleurgekodeerde verspreidingskaarte dui die voëls se status en digtheid aan. ’n Woordelys en gedetailleerde sowel as verkorte register help om inligting blitsvinnig na te slaan. Die BirdScan-app met voëlroepe sorg vir luistergenot en ekstra foto’s van kleurvariasies. Hierdie app kan onafhanklik van die boek afgelaai en gebruik word. Laai dit van die Google Play Store of Apple App Store af met jou foon.

Ek het my verkneukel aan die beskrywende Afrikaanse voëlname. Hier is enkele voorbeelde: kaalwangkatlagter, kuifkopdobbertjie, bronsvlerkdrawwertjie, swempie, stekelkophelmlaksman, bleekkopklopkloppie, geelkeelkalkoentjie, groenkolpensie en beloogbosbontrokkie. Die wetenskaplike sowel as die Engelse name word ook gegee. Hoe meer ek deur hierdie boek geblaai het, hoe meer het ek onder die indruk gekom van die enorme voorbereiding en werk wat hierin moes gegaan het.

Ek besef dit is baie duur om boeke met ’n hardebladomslag uit te gee, maar ’n sagteband wat opwip sodra ek deur ’n boek geblaai het, frustreer my mateloos – verál as die boek so mooi is dat mens dit op die koffietafel wil uitstal. Die sagtebandomslag blaai egter baie maklik wanneer jy blitsig in die veld wil nalees oor ’n spesifieke voël. Hoewel effe aan die swaar kant, dink ek voëlliefhebbers sal hierdie gids graag in hulle rugsakke saamdra. Die bladsye binne-in die boek is stewig en het ’n aantreklike glansafwerking.

Uittreksel uit Hoofstuk 2: Swemmende watervoëls: “Hierdie voëls word gewoonlik gesien waar hulle in water swem of afduik, maar ook waar hulle op die oewer rus. Hulle is meestal goeie swemmers, met hulle bene na agter op die lyf geposisioneer wat hulle eienaardig laat lyk op land. Hulle het gewoonlik gewebde of gelobde tone waarmee hulle hulself in die water dryf.” (Voorbeelde van swemmende watervoëls: pikkewyne, pelikane, skedebek, bleshoender, waterhoenders, dobbertjies, watertrapper, slanghalsvoël, duikers, ganse, eende en slopeende.)

Meer oor die skrywers:

Burger Cillié is ’n fotograaf en die skrywer/medeskrywer van meer as vyftien boeke. Niel Cillié is ’n fotograaf, grafiese ontwerper en skrywer verbonde aan Game Parks Publishing. Phil Penlington, ook ’n fotograaf, is die medestigter van birdpics.co.za en neem gereeld deel aan BioChat. Trevor Hardaker, ’n ervare voëlkyker, is die voorsitter van die BLSA National Rarities Committee. Karin Wiesler, ’n voëlkyker en fotograaf, het ’n graad in omgewingsleer en ’n kwalifikasie van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Veldgidse.

VELD Voëls van Suider-Afrika: Die volledige fotogids is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars. Jy kan dit ook hier aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.