Boekresensie: Jou kind en verlies

Jou kind en verlies deur Solet Scheeres word uitgegee deur LAPA Uitgewers.

Kinders is nie gevrywaar teen verlies en rou nie. Hulle beleef, nes volwassenes, heftige emosies wanneer ’n geliefde, maat of troeteldier sterf of hulle lewens deur egskeiding geraak word. Hierdie uiters waardevolle gids en aktiwiteitsboek bied spel-, aktiwiteit-, lees-, en gespreksidees vir ouers, onderwysers, familie en vriende van kinders (alle ouderdomsgroepe) wat verdriet ervaar. Hoewel kinders veerkragtig is, kan hulle tog hulp nodig hê om deur hulle emosies te werk. Dié boek rus volwassenes toe om kinders hierin te begelei.

Jou kind en verlies beslaan 176 bladsye en nege hoofstukke. Ek lys graag die hoofstuktitels hier omdat dit so ’n goeie oorsig bied oor waaroor die boek handel en wat die leser kan verwag: Hoofstuk 1 – Wat word verstaan onder verlies en rou?; Hoofstuk 2 – Hoe om oor die dood te praat; Hoofstuk 3 – Laerskoolkinders: Hoe gaan jy om met verdriet?; Hoofstuk 4 – Tieners: Ongeërg beteken nie onaangeraak nie; Hoofstuk 5 – Protokol vir skole; Hoofstuk 6 – Hoe om met kinders oor egskeiding te praat; Hoofstuk 7 – Egskeiding en verskillende ouderdomsgroepe; Hoofstuk 8 – Grootouers, vriende en die skool; en Hoofstuk 9 – Interaktiewe verwerking van enige verlies.

Daar is ook ’n leeslys vir diegene wat meer oor die onderwerp wil oplees. Ek hou ook daarvan dat daar heelwat plek vir persoonlike aantekeninge agterin is en die klem deurgaans op spel geplaas word.

Scheeres wys daarop dat kinders die reg het dat hulle verlies erken word, hulle behoorlike ondersteuning ontvang en genoeg tyd gegun om word om hulle hartseer te verwerk. Sy skryf: “My hoop is dat die idees en praktiese aktiwiteite in dié boek jou ’n klein bietjie sal help om beter te luister, die tekens te sien wanneer professionele hulp nodig is en sodoende ’n groot verskil in die lewens van kinders te maak” (11) Sy motiveer haar raad en wenke aan die hand van voorbeelde. Die aktiwiteite wat sy voorhou, is maklik en ook prakties uitvoerbaar. Die goeie voorstelle wat sy maak rakende ’n “herinneringboek” wat ’n kind kan byhou wanneer hy of sy deur verlies werk, verdien melding. Dan is daar ook ’n “onthouboek” vir wanneer ’n kind se ouers skei.

Irma Eloff, professor in opvoedkundige sielkunde, beskryf Jou kind en verlies só op die voorblad: “’n Uitstekende en broodnodige boek. Toeganklik en sensitief geskryf met baie gesonde advies.” Ek kan dit beaam. Hierdie is veel meer as net ’n boek want goeie wenke uitdeel oor hoe om kinders in ’n tydperk van rou by te staan. Dit is ’n oop en eerlike gesprek oor hoe dood en egskeiding kinders affekteer en belig hulle misverstande en vrese. “Deur die regte gesprekke met kinders oor die dood en verlies te hê, kan jy hulle soveel beter steun en hulp bied as wanneer jy niks sê nie en hoop dat dit vanself weer sal oorgaan (9). Die boek beklemtoon die feit dat volwassenes moet leer om te luister en ag te slaan op kinders se emosies.

Uittreksel: “Wanneer ’n kind verlies ervaar, wat dalk vir jou as volwassene onbenullig lyk, en die versoeking groot is om die kind se emosies te ignoreer of te verkleineer, moet jy onthou dat jou reaksie op die verlies grotendeels bepalend sal wees in hoe die kind sy emosies en gedrag verder gaan navigeer deur die see van ellende. Verdriet is ’n normale en natuurlike reaksie op verlies. As ’n kind verdrietig is oor ’n verlies, moet mens dit altyd in dié perspektief sien; die kind het nie ewe skielik ’n afwyking of patologiese streep ontwikkel nie. Dit is maar net ’n kind wat rou oor verlies” (17).

Daar behoort ’n kopie van Jou kind en verlies in elke huishouding en klaskamer te wees.

Meer oor die skrywer: Solet Scheeres is ’n dosent in Engels by d’Oultremontcollege in Drunen, Nederland. Sy is ook die skrywer van onder meer Die leeutemmer se assistent en die gewilde Glam-divas-reeks.

  • Jou kind en verlies is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars en kan ook hier bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.