Boekresensie: Leef jou emmerskop-lys nóú

Leef jou emmerskop-lys nóú deur Henk Gous word uitgegee deur CUM Uitgewers

Dr. Henk Gous se Leef jou emmerskop-lys nóú is die ideale boek om enige tyd van die jaar byderhand te hou op die bedkassie. Wie van ons het nie ’n ellelange lysie met Nuwejaarsvoornemens opgestel nie? En aan die einde van elke jaar stel ons mos vir ons doelwitte wat ons graag sal wil bereik. Van hierdie doelwitte is eintlik niks meer as net blote versugtinge nie.

Ons droom oor eendag as ons wel geld het, as ons omstandighede anders is, as ons nie meer hierdie of daardie verpligtinge het wat ons bind nie. Of soos dit op die agterblad van Leef jou emmerskop-lys nóú uitgestippel word: “Eendag as ek afgetree het, as die kinders uit die huis is, as my skip inkom, dán gaan ek op daardie toer Europa toe, of die Serengeti-migrasie sien, of met ’n helikopter oor die Victoria-waterval vlieg, of leer kitaar speel.”

Dr. Gous reken dat ’n emmerskop-lys eintlik ’n lééf-lys moet wees. “Dan wys hy jou stap vir stap hoe om daardie ver en vae eendag-dinge te omskep in dinge wat jy nóú reeds moet leef. Hy help jou om dit te ontwikkel, te deurdink, te praat, te skryf, te sorteer en uiteindelik te doen en te geniet.”

Die sagtebandboek van 115 bladsye lees lekker en die skrifgrootte is lesersvriendelik. Dit beslaan nege interessante hoofstukke plus ’n inleiding wat die klem lê daarop dat mens nou reeds doelgerig moet lewe en nie moet wag op eendag nie. Die hoofstukke is verder ingedeel in die volgende vier afdelings, nl. Inleiding, Nadenkend, Werkend en Afsluitend.

Dr. Gous reken dat mens nie met ’n emmerskop-lysie in jou agterkop moet lewe nie. Volgens hom is die lewe ’n geskenk wat elke dag ten volle geniet en gebruik moet word. Hy poog om “’n deurlopende ingesteldheid van bewuswording, nadenke en bestuur te kweek” (21). Onder die hofie, Hoe om hierdie boek te gebruik, neem die skrywer die verskillende geaardhede van mense in ag en ook dat almal nie op dieselfde wyse leer en lees nie. Hy stel metodes voor wat die leser kan toepas om die meeste uit die boek te kry, bv. as jy ’n doener is, is dit raadsaam om onmiddellik by die praktiese implementering van die voorstelle in die boek te begin. Die aanbeveling is dan ook dat jy by afdeling 3 “Werkend” kan begin – dit is die “hoofstukke wat handel oor hoe jy ’n leeflys aanmekaarsit en stap vir stap doen”.

Ek is beïndruk met die Skrifgefundeerde praktiese en wyse raad en voorstelle wat dr. Gous maak. Hy bemoedig dan ook die leser op bladsy 68 met die volgende woorde: “Klein stappies is reeds ’n begin. Die bekende Chinese spreekwoord is juis: ’n Reis van 1 000 kilometer begin met die eerste tree. Dit beteken dat die wye doelwitte gefokus moet word tot spesifieke dade.”

Meer oor die skrywer:

Dr. Henk Gous is leraar van die NG Kerk (Quellerina, PUK-Kandelaar en Vanderbijlpark-Suid). Hy was voorheen Moderator van die Sinode van Wes-Transvaal en ook Voorsitter van die Algemene Jeugkommissie. Hy bring graag tyd in die natuur deur en hou ook baie van fietsry en stap.

Skaf gerus Leef jou emmerskop-lys nóú hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.