Boekresensie: Môre en gistraand en die einde van die maand

Woordgoëlaar Philip de Vos se jongste bundel verse getiteld Môre en gistraand en die einde van die maand word deur Human & Rousseau uitgegee.

Hierdie lieflike bundel getuig van die immergewilde en geliefde Philip de Vos se kreatiwiteit en produktiwiteit as versmaker van formaat. Hy is voorwaar ’n wandelende versfabriek. Miskien verklap hierdie vers op bladsy 65 so ietsie van sy skryfproses, wie weet?

’n Letter word ’n woord / en woorde word ’n sin / en dit is hoe dit hoort / en dit is die begin. / En ál wat dit dan vra, / is ’n enkel druppel ink – / en ’n waterval van woorde / ná ’n bietjie bietjie dink.

Môre en gistraand en die einde van die maand beslaan 96 bladsye en is opgedeel in die hoofstukke “Van soetlemoen tot suurlemoen”, “Tussen son en tussen maan”, “Vlytig en soms stuitig”, “Freneties alfabeties” en “Bondig en soms sondig”. De Vos dra die bundel op aan “vir hulle wat ek eenkeer liefgehad het”. Dit wil voorkom of hy moeiteloos met rym omgaan, maar is dit dan nie juis hoe meesters hulself van ander onderskei nie? Neem nou maar ’n sweefstokarties wat asof gewigloos deur die lug sweef en jou laat glo álmal kan dit sommer maklik doen. Toe nie. Ek reken mens moet oor besondere taalaanleg en ook fyn waarnemingsvermoë en mensekennis beskik om verse uit te dink wat by oud en jonk byval vind.

Ek hou van De Vos se verse in hierdie bundel omdat dit toeganklik en onopgesmuk is. Maar moenie jou laat mislei deur die oënskynlike eenvoud daarvan nie. Die versies het verskuilde lae soos ’n ui – en wat jy ontdek, hang net af van hoe diep jy kyk. As ’n klippie in die water plons, kan jy tevrede voel om die patroonagtige rimpelings op die oppervlak dop te hou, want dit het ’n fassinerende mooiheid van hul eie. Of jy kan af en nogmaals af duik om die bodem te gaan verken. Op bladsy 30 vind ek hierdie vers as voorbeeld:

Ek had ’n onderonsie / met ’n dame van die nag. En wat daar toe gebeur het, / het ek nimmernooit verwag. / Die Delila van die donker / het haar dienste my gebied. / En toe die storie oor was, / sit ons steeds met ons verdriet.

Die veelsydige De Vos gaan haal ook inspirasie uit die Bybel. Nie net maak hy versies oor Bybelfigure soos Lot se vrou en Moses nie, maar die bundel open met verskeie Skeppingsverse. Op bladsy 13 staan:

Toe was dit klaar / en als voltooi / en als was goed / en als was mooi: / Mens en dier / en voël en vis. / Die tyd was daar / om nou te rus. / En Hy was bly, / maar ook verdrietig – / sy mensekind / sou als vernietig.

Sy eiesoortige weergawe van Spreuke 21:19 (op bladsy 49) gaan só:

’n Skinderkous / en swadderbek / maak mense / spoedig stapelgek. / Verwys dié skepsels dus na Spreuke / oor al daai nare skinderstreke, / want daar sê Salomo mos wrintig / in hoofstuk / nommer een-en-twintig: / “’n Gawe vrou / om te vertrou, / is ene wat haar bek sal hou!”

De Vos dring gewoonlik daarop aan dat sy verse áltyd hardop gelees word. Hierdie paar woorde het ek hier en daar uit sy verse bymekaar gemaak, want dit rol so lekker op die tong: “snotterblok”, “hippetip”, “pandoeka”, “poelpetater”, “pampelmoes” en “tierelier”. Hy speel heerlik met woorde, hul klanke en betekenisse. Dis reeds hierdie ongebonde genieting van die “mallemeuleman” soos Piet Grobler na hom verwys, wat ook deurtrek na die waarderende leser toe.

Op Môre en gistraand en die einde van die maand se agterblad word spesiaal melding gemaak van De Vos se slinkse, aweregse humor en sy tong-in-die-kies stuitigheid. ’n Goeie voorbeeld hiervan is te vinde op bladsy 74: Kom die lente, / kry jy hooikoors. / Pla jou lende, / kry jy kooikoors. Hier is nog een op bladsy 82: Die tante op die straathoek / lok ouens met haar lipstiek. / Die kêrel met die BMW / lok vrouens met sy dipstiek.

Ek geniet dit om daagliks op Facebook te gaan loer na die kwatryne wat De Vos in die gimnasium uitdink. Hy is ook ’n talentvolle fotograaf wat graag van sy pragfoto’s deel. Die omslagfoto van Môre en gistraand en die einde van die maand is syne. Sy Tokkelossiebossie en ander gedoentes met Piet Grobler as illustreerder (hul dertiende boek saam) het vroeër vanjaar by LAPA verskyn.

Môre en gistraand en die einde van die maand is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar, maar jy kan dit ook hier bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.