Boekresensie: My Stasie Straat Kombuis

My Stasie Straat Kombuis deur Mynhardt Joubert word deur Penguin Random House uitgegee.

Mynhardt, ’n geliefde TV-sjef, dra dié kleurvolle kookboek van 176 bladsye op aan sy ma, Wilhelmina Cornelia (Winnie) Joubert, – ’n hooggeskoolde kok – met die boodskap: “Dankie vir al die jare van ondersteuning en onuitputlike liefde. Dankie dat ek met jou kallers kan ploeg!” Sy twee oumas – Nonna en Rosa – was ook vir hom ’n groot bron van inspirasie.

Donna Lewis het gesorg vir die pragtige foto’s van die geregte, en dis duidelik dat sy, nes sjef Mynhardt, daarin glo dat mens eers met jou oë eet. Daar is sowat 100 resepte vir alle geleenthede. Die resepte wissel van die heel eenvoudige (bv. vetkoek met kaiings) tot die meer eksotiese (bv. Trippa Alla Romana oftewel pens in Romeinse styl). Die resepte is ingedeel in die volgende hoofstukke: Mengeldrankies & canapés, Brood & botter, Slaaisouse, emulsies & mayonnaise, Slaaie, sop & voorgeregte, Hoofgeregte, en Nageregte.

Nie net het ek die kommentaar en anekdotes geniet wat sjef Mynhardt bo-aan elke resep lewer nie, maar ek hou veral van die beskrywende name van die geregte. Hier is ’n paar voorbeelde: vars Weskus-oesters met mignonette- & eksmeisiesous, koffiegeroosterde snoek met kaneel- en- gemmerpatats, seekat-inkpasta met kappertjie-en-olyfpesto, stadiggeroosterde varkwang-ravioli met heuning-en-saliebottersous, lamsnek-breyani met blatjang, komkommer-raïta, poppadoms & tamatie-en-uiesambal, en heel geroosterde hoender met botter, tiemie & eendvet-aartappels.

Sjef Mynhardt se kosreis het in die Oos-Vrystaat begin. “Wanneer ek my oë toemaak, kan ek die fluistering van die hooglandwind in die gras hoor, en die sagte eggo’s van singende Sesotho-stemme. Ek kan die horison sien strek tot in die ewigheid, van die bopunt van ons plaas, Tempelhof, tot by die wyd uitgestrekte voorheuwels en majestueuse berge wat dit omring.”

Hy skryf dat ’n kaleidoskoop van gaste, familie en vriende op die plaas verwelkom is met Vrystaatse gasvryheid. “Elke geleentheid is met kos gevier, en van jongs af is ons toegelaat om deel van die voorbereiding en opwinding in die kombuis en rondom die etenstafel te wees. Ek is oortuig dit was die ware oorsprong van my bekoring met kos – die krag wat dit gehad het om boodskappe van liefde oor te dra, die mees vermoeide reisiger op te kikker en familiebande en vriendskappe te verstewig. Die boodskap en kosfilosofie van my kookkuns vloei direk daaruit … en ek gebruik my kos om mense te laat welkom, versorg, vermaak en geliefd voel. Die ware dryfkrag in my kombuis is soveel meer as resepte en bestanddele – dit is die boodskap van gasvryheid.”

Sjef Mynhardt het op sesjarige ouderdom balletklasse begin neem. Hy het ná skool die uitvoerende kunste en musiekteater gaan bestudeer. Later jare het sy beroep as balletdanser hom na fantastiese plekke geneem, alvorens hy opgeëindig het as ’n kelner in ’n wynkroeg in Kaapstad. Hy het verlief geraak op die restaurantbedryf en het kort voor lank vir Anton Espost ontmoet. Dié het ’n visie gehad om ’n plattelandse werkers-tipe-kroeg en -eetplek te begin. Sjef Mynhardt het die restaurant, Bar Bar Black Sheep, aan die onderpunt van Kortstraat in Riebeek-Kasteel vir vyf jaar bestuur en diep gedelf in “outentieke plattelandse kookkuns in Mediterreense styl” (7). Hy het daarna deelgeneem aan die Afrikaanse werklikheidstelevisie-program, Kokkedoor, en die Makietie-reeks van dertien episodes gewen. Tans is Stasiestraat 24 in die Paarl sy tuiste waar hy sy eie huisrestaurant bedryf waar gaste kan kom aansit aan sy kombuistafel in sy dakkombuis.

Gaste aan sjef Mynhardt se My Stasie Straat Kombuis word bederf met ’n rojale G&T, mengeldrankie of glas vonkelwyn. Hy reken dit gee die toon aan vir die res van die ondervinding, lig die gemoedere en koel die temperatuur af (9). Van hierdie drankies se name is net so beskrywend soos die disse. Ek noem enkele voorbeelde: heuningbos-jenewerdrankie met komkommer, roosmaryn, heuning & suurlemoen, hibiskus-jenewerdrankie met komkommer, kruisement, bessies & versuikerde beet, en maroela-jenewerdrankie met komkommer, peerpuree, grenadella & kaneel.

Ek is baie bly oor my kopie van Mynhardt Joubert se My Stasie Straat Kombuis. Die kookboek herinner my aan Lientjie Wessels se Geure en ook Herman Lensing se Dit proe soos huis. Gaan loer gerus op sjef Mynhardt se webwerf.

My Stasie Straat Kombuis is by goeie boekwinkels beskikbaar en kan ook hier bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.