Boekresensie: ’n Kat se kans: Verhale van vurige en kordate katte

’n Kat se kans: Verhale van vurige en kordate katte deur Kimberley Hamilton word uitgegee deur LAPA Uitgewers.

Katliefhebbers kan gerus naderskuif. ’n Kat se kans: Verhale van vurige en kordate katte deur Kimberley Hamilton is ’n baie besonderse boek. Dit is voorwaar die purrr-fekte boek vir lesers wat dol is oor katte. Dit word voorgeskryf vir kinders nege jaar en ouer, maar volwassenes sal die boek ook van waarde vind.

Die netjiese hardebandboek van 160 bladsye is tjok en blok vol ware vertellinge en hordes feite oor katte. Ek het heerlik aan die boek gelees en het my omtrent verstom aan watter ongelooflike en vindingryke diere katte nou eintlik is. Die ongelooflike vertellinge van meer as 30 fantastiese katte se heldedade en suksesverhale sal jou laat glimlag soos ’n kat wat room gekry het.

Ek het die tydlyn voor in die boek wat die geskiedenis van katte uitbeeld, baie interessant gevind. Reeds teen 7500 v.C. word die eerste troetelkat saam met sy eienaar begrawe. En in 2006 is nuwe wette in Amerika onderteken wat sê dat eienaars saam met hulle troeteldiere, soos bv. hulle katte, gered moet word tydens rampe. Die gedeelte oor belaglike bygelowe oor katte laat die wenkbroue lig, bv. dat jy ’n kat se snorbaard in jou beursie moet sit om geld te lok!

Op ’n dag het ’n sukkelende straatmusikant in Engeland genaamd James ’n honger en beseerde mannetjieskat, wat hy Bob gedoop het, se lewe gered en hom aangeneem. James en Bob was onskeidbaar. Bob het bo-op James sy kitaarkas gesit wanneer hy op straathoeke gespeel en gesing het. James het selfs ’n blitsverkoperboek geskryf met die titel, A Street Cat Named Bob, en daar is toe ’n Hollywood-fliek met dieselfde naam gemaak. Bob het ook in die fliek homself gespeel. Hy het selfs die hertogin van Cambridge, Kate, ontmoet. Dit wil nogal gedoen wees! En dis maar net een van die baie inspirerende katverhale in die boek.

Ons lees ook oor beroemde skeepskatte, entrepreneurskatte, reisende katte en katte wat muise in allerlei geskiedkundige geboue vang. Selfs spookkatte en katte wat musiek maak of mense se lewens red se merkwaardige verhale verskyn in die boek. Sommige katte word selfs as oorlogshelde of spookjagters beskou en dan het katte boonop geneeskrag!

Daar is ook oorlewingsverhale van katte wat die dood gefnuik het, soos bv. Lucky, die kat wat 26 verdiepings ver van haar eienaar se balkon in New York geval en oorleef het. Vensterskoonmakers het die vreeslike ver val afgeneem, so niemand kan stry dat dit waar is nie. ’n Kat met die naam Félicette was al selfs ruimte toe. Sy is in die vroeë sestigerjare in ’n ruimtekapsule op ’n vuurpylversterker vasgemaak en amper 160 km ver die ruimte ingeskiet. Ná ’n kwartier het haar kapsule aarde toe gesweef en is sy fris en gesond uit die kapsule gehaal.

Skaf gerus hierdie oulike blitsblaaier aan. Jy sal nooit weer dieselfde na ’n kat kyk nie!

Koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Katteman ·

Ek het ‘n paar jaar terug ‘n Siamees gehad wat nie verstaan het van honde nie. Hy het gereeld met van die buurt se honde gaan baklei. Jy kon aan die getjank van die honde bepaal waar hy was. Gereeld huistoe gekom nog nat van honde spoeg en bytmerke oraloor. ‘n Week of twee later as hy beter voel dan gaan pla hy weer die honde. Toe ons hom veearts toe neem om te laat regmaak kom hy uit en verdwyn. Waarskynlik nie lus gewees vir ‘n rustige lewe nie. Hom nooit weer gesien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.