Boekresensie: Veronika besluit om te sterf

Veronika besluit om te sterf deur Paulo Coelho word uitgegee deur Protea Boekhuis

Ek het Veronika besluit om te sterf meer uit nuuskierigheid opgetel as iets anders en was nie eintlik van plan om dit dadelik te begin lees nie. Maar toe begin die boek só: “Op 11 November 1977 besluit Veronika die oomblik om haarself dood te maak het – uiteindelik! – aangebreek. Sy maak die kamer wat sy in ’n klooster huur sorgvuldig netjies, skakel die verwarming af, borsel haar tande en gaan lê (p. 7). Nodeloos om te sê, hierna kon ek die boek nie neersit nie. Dit word beskryf as ’n roman oor verlossing, maar dis soveel meer. Dit is ook ’n deernisvolle, maar eerlike inkyk in die psige en die uitlig van die eierdopbrose en tog ook rateltaai menslike. Dit is ’n besielende en ontroerende balanseertoertjie tussen dit wat as die norm gesien en beleef word en die abnormale.

Ek wou weet wat ’n jong vrou sou besiel om die skrikwekkende besluit te neem om te sterf, veral aangesien sy oënskynlik alles het wat haar hart maar kan begeer. “Op vier-en-twintig, noudat sy alles ervaar het wat sy moontlik kan ervaar – en dis geen geringe prestasie nie – is Veronika amper seker dat alles met jou dood ten einde loop. Dit is hoekom sy selfmoord gekies het: vryheid, uiteindelik. Ewige vergetelheid” (p. 15). “Sy maak haarself nie dood weens ’n gebrek aan liefde nie. Dis nie omdat sy voel haar familie het haar nie lief nie, of omdat sy finansiële probleme of ’n ongeneeslike siekte het nie. Veronika het besluit om te sterf op daardie lieflike middag in Ljubljana, met Boliviaanse musikante wat op die plein speel, met ’n jong man wat verby haar venster stap, en sy is gelukkig met wat haar oë kan sien en haar ore kan hoor. Sy is selfs gelukkiger dat sy daardie selfde dinge nie nóg dertig, veertig of vyftig jaar lank hoef te sien nie, want al die oorspronklikheid daarvan sal verlore gaan en verander in die tragedie van ’n lewe waarin alles herhaal word, en waar een dag presies soos die vorige een is” (p. 17). “Maar binnekort sal sy die laaste ervaring van haar lewe hê, wat beloof om heeltemal anders te wees: die dood” (p. 14).

Die leser is bewus van Veronika se laaste gedagtes terwyl sy op die dood wag nadat sy ’n oordosis slaappille gedrink het. Dis reeds hier in die eerste bladsy van die boek waar die storie my vasgryp, nie oor die tragiek van die situasie nie maar oor die onverwagse humor (hoewel geensins ligsinnig nie!) wat die teks subtiel maar briljant verlig. Sy besluit onder meer om nie haar polse te sny en ’n bloedbesmeerde kamer agter te laat vir die nonne om skoon te maak nie, want “mense glo steeds in spoke” (p. 9). “Nou lê sy hier, bly dat sy tot die daad oorgegaan het, en verveeld omdat sy nie weet wat om te doen met die bietjie tyd wat nog vir haar oor is nie” (p. 9).

Veronika se selfdoodpoging slaag nie. Sy word wakker in Villete, die beroemde en gevreesde psigiatriese inrigting – “’n plek waaruit niemand nog ooit ontsnap het nie, ’n plek waar ware waansinniges – soontoe gestuur deur die howe of deur ander hospitale – verkeer met diegene wat voorgee om sielsiek te wees” (p. 21). Die dokter lig haar in: “Jou hart is onherstelbaar beskadig, en dit sal binnekort ophou om te klop” (p. 36). Sy het hoogstens ’n week oor om te leef. In Villete voel sy dinge “wat sy nog nooit voorheen ervaar het nie – haat, liefde, vrees, nuuskierigheid, ’n begeerte om te lewe” (p. 118). Die leser leer ook ander baie interessante karakters wat om Villete gesentreer is, ken. Dit maak van die 240 bladsye lange boek ’n volronde roman waarin die leser herinner word “dat elke oomblik in ons lewe spesiaal en kosbaar is.”

Die Brasiliaanse topverkoperskrywer, Paulo Coelho, het ’n manier om absoluut meesleurend te skryf en die leser te oorrompel. Time Out skryf só oor Veronika besluit om te sterf: “Dis ’n kragtige en onthutsende vingerwysing dat ’n mens die meeste van elke dag moet maak.” En net soos The Express, beskryf hulle Coelho se skryfwerk as “poëties”. Coelho is immers volgens Independent on Sunday ’n “publikasiefenomeen”. Hy is in 1947 in Rio de Janeiro gebore. Daar is al meer as 215 miljoen eksemplare van sy romans in meer as 170 lande verkoop. Sy werk is in 81 tale vertaal. Een van sy mees bekende boeke is The Alchemist wat in Afrikaans uitgegee is as Die alchemis. The Alchemist is volgens ’n inskrywing op Exlusive Books se webtuiste al deur 62 miljoen mense gelees en was heel boaan 74 lande se topverkoperlyste.

Die veelbekroonde Kobus Geldenhuys het Veronika besluit om te sterf in Afrikaans vertaal. Geldenhuys doen nie net vertaalwerk nie. Hy skryf ook televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Skaf Veronika besluit om te sterf gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.