Boekvoorlesing: Kowie Brönn van Montagu

“Want om te maak of jy grênd is, is een ding, maar as jy wakker word, sit jy nóg met jou eie dorse.”

Meer oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog- en radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf. Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

***

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal Kowie Brönn van Montagu deur Abraham H de Vries wat in Spekskiet verskyn.

Kowie Brönn vertel, hy sê, ek droom ek stap in Engeland en ek stap by Buckingham Palace verby, toe staan die bodeur oop, en daar trek darem ʼn rokie uit die skoorsteen uit. Slaap darem nie meer nie, dog ek.

“Ek staan nog so, hier kyk die Prince of Wales oor die bodeur, handevryf-handevryf. Toe sien hy my. Maar wás hy bly.

“Oom Kowie Brönn, maar dis mos Oom!” sê hy. “Kom in, Oom. Pa sal darem graag met Oom ʼn woordjie wou breek, hy skeer net gou.”

Ek daar in, hier kom die koning ook aan. Val my byna om die nek.

“K-k-kowie B-b-rönn van M-m-ontagu, w-w-aar in die wye w-w-êreld kom jy vand-d-d-aan?” vra die koning, want hy’t mos so gehakkel.

“Nee,” sê ek, “ek stap maar hier in Engeland rond. Ek is nou nie aangetrek nie, want ek het nie gedink ek sou aankom nie.”

“Maak gʼn niks s-s-s-aak nie,” sê die koning en hy vat my aan die arm. “Hoe gaan dit met Mo-hon-tagu? Leef ou Epsie Jou-jou-jou, leef ou Epsie nog?”

“Uitgespaar, die Jouberts almal,” berig ek.

“En met ou Tjops le Roux-hoe?”

“Ook,” sê ek. “Spekvet en gesond.”

“Ag, en met oumatjie Rachel Keet? Voel sy nog die badwater so met die elm-elmbohoog?”

“Skop nog vas,” sê ek. “Bietjie rumatiek, maar sy vang hulle nog.”

“Toe ons daar was, was Liesbet en Magriet al opgeskote. Ek is so jammer, want vandag se ki-ki-ki, kleingoed, mis so baie.”

“Maar, Kowie,” sê die koning, “van rumatiek gepraat, kom ons stap vorentoe, Buckingham Palace is lekker in die somer, maar in die winter trek die ou kasarmte. Trap net mooi, hulle het vanoggend die kombuisvloer gesme-heer.”

***

Spekskiet is deur Dineke Volschenk saamgestel en in 2008 deur Lapa Uitgewers uitgegee. Die verhaal het aanvanklik in Rooikoos Willemse is soek – Die plaaswinkelstories uit die Klein Karoo verskyn wat deur Human & Rousseau uitgegee is.

 

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van Kowie Brönn van Montagu deur Johny Klein. Die voorlesing is in samewerking met Lapa Uitgewers moontlik gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.