Breyton Paulse: Flikflakkoning van die Koue Bokkeveld

Hier volg ʼn uittreksel uit Hendrik Hancke se boek, Onkant! ‘n Rugbyliefdesverhaal.

***

In die aanloop tot die Rugbywêreldbeker het die joernalis Hendrik Hancke die land deurkruis om met oud-Springbokke, provinsiale spelers en breiers te gesels oor hul liefde vir rugby. In die boek Onkant! deel spelers soos Jean de Villiers, Gcobani Bobo, Schalk Brits en Frik du Preez persoonlike oorwinnings en teleurstellings, die lesse wat rugby hulle al geleer het en spesiale kleedkamer-oomblikke.

Hy was dalk ʼn baanbreker vir “klein mannetjies” in rugby, maar in sy hart is Suid-Afrika se flikflakkoning steeds ʼn kaalvoet- plaasseuntjie van die Koue Bokkeveld en sy oorlede ma bly een van sy grootste inspirasies.

Toe die 20-jarige Breyton Paulse in 1996 hoor hy is vir sy geliefde WP gekies, het hy sy ma, Setta Visagie, heel eerste gebel.

“Sjoe, dit was ʼn groot ding vir my om só jonk die WP-trui aan te trek. Die plaasmense, eintlik almal van die Koue Bokkeveld, het amper mal geword van vreugde. Ek kon dit self nie glo nie,” vertel Breyton, gepantser in ʼn mussie en ʼn jas teen die eerste ernstige Bolandse winter in lang jare.

“My pa het gewaai toe ek so een jaar oud was en my ma, tannie Setta, het my grootgemaak. Sy het baie gedoen om my te kry tot waar ek vandag is.”

ʼn Golf het haar en haar suster, Marie Galant, in Julie 2022 van die ou hawemuur in Hermanus afgeslaan. Al twee vroue het verdrink.

Breyton frons. Sy stem is effens sagter wanneer hy weer praat. “Ek wil amper sê my ma het haar lewe opgeoffer sodat ek al die kanse kon kry wat ek nodig gehad het. Sy was my ma én my pa.”

Die oproep om haar te vertel hy gaan vir die WP speel koester hy vandag nog. “Ek het haar vertel, toe is daar hierdie doodse stilte vir ʼn paar sekondes en toe begin sy te skree en te raas. Daai lekker raas, die een van opgewonde wees oor iets moois wat gebeur,” vertel Breyton.

“Ek kan nou nog daardie opwinding aan die ander kant van die lyn hoor. Toe sê my ma: ‘Ek hoop hierdie is die begin van groot dinge. Doen jou beste, die beste wat jy kan, maar jy beter sorg dat jou voete op die grond bly.’ In daardie oomblikkie van geluk het daai boodskappie van my ma mooi deurgekom.”

En dit het wortel geskiet. “Dis belangrik, want as jong speler moet jy versigtig trap vir bekendheid. Jy kan meegevoer raak. Jy gaan nou vir WP speel en nou dink jy jy is die kat se snorbaarde en al daardie dinge. Ek moes daai hoor dat ma Setta sê: ‘Breytie, jy hou daai voete op die grond.’”

By iemand wat honderd persent net só bly soos hy was. “Dit was ʼn emosionele oproep. My ma het geweet wat ons alles deurgemaak het om tot by daardie oproep te kom.”

Dié lang pad het op die plaas De Keur in die berge van die Koue Bokkeveld anderkant Ceres begin. Sy laerskooldae het hy in ʼn klein plaasskooltjie deurgebring. “Daar was ʼn skool bo-op die berg waarheen al die plaaskinders, ek ook, later gegaan het. Ek het uiteindelik in 1994 my matriek daar by Skurweberg Sekondêre Skool voltooi,” sê Breyton.

In die Koue Bokkeveld was rugby alles. “In die plaasomgewing was almal rugbymal toe ek klein was. Eintlik nog maar altyd. In die Bokkeveld was daar twee kampe – die WP en die Bulle.”

Breyton was nóóit vir die Bulkamp bestem nie. “Toe ek my oë oopmaak, was ek ʼn WP-ondersteuner. Jy weet, toe ek besef waaroor rugby gaan,” verduidelik hy.

“Die plaaseienaar, Charl du Toit, het my na die Universiteit van Stellenbosch toe gestuur. Hy woon nog op die plaas, maar is afgetree. Sy seun boer nou daar.”

Breyton glimlag effens. “Dit was ʼn groot besluit. Ons plaaskinders het nie vreeslik ambisie gehad nie, so dit was ʼn aanpassing.”

Met sy skuif na die Boland het die res van sy lewe begin. “Alles het so vinnig gebeur. Ek het gegaan om sielkunde te swot. Rugby was egter in my agterkop. ʼn Mens het maar gehoop en gedroom, maar soveel groot manne – manne wat Cravenweek gespeel het, ouens met titels – kom Maties toe … ”

In Stellenbosch was Breyton skielik ʼn bitter klein vissie in ʼn baie groot dam. “Ek moes toe baie vinnig begin swem,” reken hy.

En hy het. Kort voor lank was dié blitsige Bokkevelder ʼn ster, eers in Maties se o.19-span en toe in die eerstespan.

“Dis waar ek besef het: wag ʼn bietjie, hierdie is nogal cool. Jy moet weet, hier speel ek nou op groen grasvelde. Ons was sandvelde gewoond in die Koue Bokkeveld. Dit was vir my ʼn groot step-up.”

Sy studies het later agterweë gebly. “Ek moet nog so een jaar se sielkundestudies iewers inpas.”

Hoewel Breyton in die geskiedenisboeke bekend sal staan as een van die beste regtervleuels wat ooit vir Suid-Afrika gespeel het, was dit nie eintlik sy posisie nie. “Ek was losskakel vir my skool en kaptein ook. Toe speel ek losskakel vir Maties onder-19 en toe die eerstespan.”

Was hy die vinnigste losskakel in die Bokkeveld?

“Man, dit moet seker iets soos daai wees. Ons het altyd appels gesteel en dan het die boer ons gejaag. Ek dink dis waar ek my spoed vandaan gekry het!” skerts hy.

Kleintyd het hy die prins van vleuels bewonder. “Ek het die groot gees Carel du Plessis en sy manne ondersteun toe ek nog ʼn tjokker op die plaas was.

“My groot held was maar Carel omdat hy so baie drieë gedruk het. Ek het miskien losskakel gespeel, maar ek het ook baie drieë gedruk. Carel se spoed, sy vernuf en sy aftrappe het my vreeslik beïndruk. Jare later het Carel my by die WP afgerig. Dit was nogal ook ʼn groot oomblik vir my.”

Dinge draai nie altyd in die lewe uit soos jy gedink het dit gaan nie. “Soms werk dit vír jou, ander kere teen jou. Ek moes hard veg om by die WP in te kom.”

Breyton onthou sy eerste keer op die groen gras van Nuweland. “My eerste wedstryd op Nuweland was vir Maties teen die Ikeys in 1995. Dit was net só ʼn groot oomblik vir my. Die aand voor die tyd kon ek nie slaap nie. Dit het die hele tyd deur my gedagtes gehardloop dat ek môre in die legendariese Nuweland se kleedkamer my tokse gaan aantrek. Nóg beter, ek gaan op die heilige grond se gras speel. Dieselfde gras waarop Carel-hulle gespeel het!”

Hy glimlag. “Ek is baie sentimenteel oor sulke dinge. Ek dink ook as ʼn ou iets wil hê, moet jy sorg dat jy weet wat die geskiedenis van daardie omgewing is. Voordat ek daardie eerste keer by Nuweland opgedraf het, het ek hoendervleis gekry. Toe ek die laaste keer daar opgedraf het, was dit nog al die pad só.”

In 1996, omtrent ʼn jaar ná die Ikeys-wedstryd, haal Breyton die WP-span. “Ek het redelik vinnig by Maties geblom. Dinge het vir my gebeur en toe in ʼn stadium moes die coach, Alan Zondagh, vir my plek maak, toe gooi hy my daar op die vleuel in.”

Was die man agter 26 drieë in 64 toetse dus eintlik ʼn toevallige vleuel?

“Louis Koen was daardie tyd die losskakel. Ek het gesê dis fine, al speel ek haker, ek wil net spéél.”

By die WP het Breyton gou ingepas, maar sy kookwaterspel het nie ʼn groot genoeg indruk op die Bokafrigters gemaak nie. “Dít ná twee jaar van konstante spelpeil in Superrugby. Jy weet, ek het daardie twee jaar omtrent die meeste Superrugbydrieë van al die Suid-Afrikaners gedruk, maar ek kon net nie by die Bokke plek kry nie.”

Breyton glo sy grootte het teen hom getel. “Jy moet onthou Nick Mallett was daai tyd die afrigter. Hy het nie altyd gehou van die klein mannetjies nie.”

Dít het die “klein” Breyton nie gekeer nie. “Ek moes ekstra hard werk om in daardie span te kom. In die 1999-Wêreldbekerjaar kon hy dit nie meer uitstel nie en toe móés Nick my ʼn kans gee.”

En daar kom een van die héél belangrikste oproepe van sy lewe. “Net ná die 1999-Superseisoen is ek by my huis in die Kaap. Dis die week voor die Bokgroep se saamtrek. My foon lui. Dis Nick.”

Hy skud sy kop soos sy gedagtes terugrol na daardie mylpaaloomblik. “Nick sê: ‘Luister, jy gaan vir my begin teen Italië.’ Ek kon my ore nie glo nie. Nick het régtig nie van klein mannetjies gehou nie. Dit was ʼn rêrig emosionele oomblik. Die vorige jaar wou hy my net nie kies nie, maar hier gebeur dit wraggies.”

Breyton die Bok.

“Dis moeilik om daardie gevoel te beskryf. Dis soos ʼn blur. ʼn Mens sukkel om dit te glo. Jy is sprakeloos en weet nie wat om te dink of te sê nie. Maar jy weet dadelik nou gaan daar ʼn job gedoen moet word.”

Hy lag saggies.

“Sjoe, wat ʼn wonderlike oproep om te kry … Dit was die begin van ʼn lang reis. Dis moeilik om te verduidelik as jy nie self daar was nie. Voor die tyd voel dit alles gebeur so stadig – dis asof jy deur gouestroop stoei na daardie Boktrui toe, maar wanneer jy die eerste keer gekies word, is dit asof alles voor daardie oomblik ʼn blur is.”

Dan kom die eerste wedstryddag. “Wanneer jy by daardie kleedkamer instap, is dit iets baie spesiaals. Dis só ʼn warm plek. Jy stap daar in en dis asof jy in ʼn onsigbare muur vasloop wanneer jy besef jou teenwoordigheid in daardie plek is meer ʼn voorreg as ʼn reg,” sê Breyton. “Seker die heel spesiaalste is wanneer jy by jou sitplek kom en jou nommer-14-Groen-en- Goud-trui hang daar en kyk vir jou!”

Dan kom nog ʼn besef: “’n Grote. Jy gaan vandag vir die eerste keer hierdie groen trui aantrek en saam met jou kamerade aantree om die volkslied te sing. Daar bou ʼn emosie op in jou wat jy net op een plek weer kan release – op die veld.

“Maar jy moet voor die tyd ook kalm bly, want jy het net soveel energie en jy wil dit nie mors voordat jy op die gras is nie. Soos ʼn ou ouer raak, begin jy te leer om daardie emosie amper te bottel en net op die regte oomblikke op die veld uit te laat.”

Hy knik sy kop. “Dis soos ekstra petrol wat jy in jou hart dra.”

***

Hierdie uittreksel uit Hendrik Hancke se boek, Onkant!, is goedgunstig deur Jonathan Ball verskaf. Die boek kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.