Dalene Matthee se ‘Kringe in ʼn bos’ eersdaags in Arabies

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het vandeesweek bekendgemaak dat Kringe in ʼn bos eersdaags in Arabies vertaal gaan word.

Kringe in ’n bos, die eerste boek van Matthee se bekende bosromans, het in 1984 by Tafelberg verskyn en dit is in 1985 met die ATKV-prosaprys bekroon. Die roman is al in Engels, Portugees, Nederlands, Frans, Yslands, Spaans, Hebreeus, Duits, Sweeds, Italiaans, Fins en Noorweegs vertaal.

Dit sal die eerste keer wees dat dié ikoniese Afrikaanse roman in Arabies vertaal word. Karim Kilani is die vertaler en die uitgewer is Mahrousa Publishing, wat reeds in 2020 ʼn Arabiese vertaling van Fiela se kind uitgegee het. Die Arabiese vertaling van Kringe in ʼn bos sal na verwagting in Augustus 2023 verskyn.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn Albanese vertaling van Irma Venter se Minder as niks ook deur die vertaalfonds ondersteun word.

Dit volg ná die uitgewery Ombra GVG die vertaalregte vir Venter se topverkoperboek aangeskaf het.

“Ons is verheug om Minder as niks by ons lys van publikasies te voeg,” sê Vasilika Tafa, uitgewer van Ombra GVG.

Die beoogde publikasiedatum is in November 2022 en die vertaler is Sidorela Kotili. Dit sal in Albanië, Kosovo en Noord-Masedonië versprei word.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.