‘Donkerdrif’ wen prys

Deon Meyer (Foto: Facebook)

Die wenners van die Suid-Afrikaanse Boekpryse vir 2021 is Woensdag (6 Oktober) aanlyn bekendgemaak.

Deon Meyer ontvang die boekprys vir volwasse fiksie vir sy spanningsroman Donkerdrif.

In Donkerdrif hou ʼn koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront dalk verband met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch na ’n verdwene student soek. Dan volg hulle die spoor van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ’n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.

Rudie van Rensburg (Hans gee Herklaas horings), Angela Makholwa (Critical But, Stable) en Jackie Phamotse (Bare III: Ego) was saam met Meyer op die kortlys in die kategorie.

Die prys vir volwasse niefiksie is aan Stephen McGown en Tudor Caradoc-Davies toegeken vir Six Years with Al Qaeda, en Refiloe Moahloli het die kinderboekprys gewen vir How Many Ways Can You Say Hello? Moahloli is ook as die algehele wenner van die SA Boekpryse aangewys.

Die pryse, wat al 21 jaar bestaan, word deur plaaslike boekhandelaars aangewys en vereer boeke wat in Suid-Afrika geskryf en gepubliseer is. Dit word deur Nielsen Book aangebied en deur die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) en die Suid-Afrikaanse Boekhandelaarsvereniging (Saba) ondersteun. Die pryse bou voort op die sukses van die jarelange Booksellers Choice Award. Verlede jaar se wenners was Trevor Noah, Jackie Phamotse en Pieter du Toit.

Maroela Media het vroeër berig dat Deon Meyer onlangs met ʼn seremoniële ridderskap, die Chevalier des Arts et des Lettres (Ridder in die Orde van Kuns en Letterkunde), vereer is. Dié Franse eretitel is aan Meyer toegeken vir sy werk en spesiale verhouding met Frankryk, wat in talle van sy boeke weerspieël word. Meyer se romans het al in meer as 25 tale verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Klink my die boek is geskryf met al die groot moorde in Kaapstad wat by mekaar gevoeg word.
Die studente girl in stellenbosch, dan Mr Rhoode en gooi sommer in ons polisie hoof en `n paar ander.

Pieter9 ·

Het Six years with AL Qaeda as geskenk gekry;het ophou lees toe die skrywer Islam as sy geestestuiste begin aanbeveel. Daar is baie beter boeke om te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.