Donkies baat by Eseltjiesrus Boekefees

Donkies baat by Eseltjiesrus Boekefees. (Foto: Verskaf)

Boekliefhebbers- en versamelaars in die Robertson-omgewing kan vanjaar weer met groot opgewondenheid uitsien na die Eseltjiesrus Boekefees wat van 16 tot 18 Junie plaasvind.

Dié fees is eintlik ʼn bielie van ʼn boekuitverkoping wat in die NG kerk Robertson-Oos se kerksaal gehou word met die doel om Eseltjiesrus, ʼn permanente tuiste vir bejaarde, verwaarloosde en mishandelde donkies net buite McGregor, te ondersteun.

Meer as 14 000 boeke kan by vanjaar se fees verwag word en dit sluit ʼn wye verskeidenheid van items in: Van skaars en buitengewone boeke, tot kookboeke, reisverhale en geestelike boeke. Dan is daar natuurlik ook vragte vol winskopies vir fiksie-, niefiksie- en kinderboeke.

Die algehele opbrengs van hierdie geleentheid word aangewend om bejaarde en verwaarloosde donkies wat uit haglike omstandighede gered is, te versorg.

Volgens ʼn verklaring deur Eseltjiesrus word donkies gereeld gespot en geminag, maar ten spyte hiervan is hulle saggeaard en herken hulle swaarkry in mense. “Hulle leer die mens gedurig dat nederigheid ʼn teken van krag is, eerder as ʼn swakheid.”

Die musieklegende David Kramer het kort ná die ontstaan van Eseltjiesrus in 2008 ingestem om die beskermheer van hierdie veilige hawe vir donkies te wees.

Maroela Media het vroeër vanjaar juis berig oor Kramer se trefferliedjie Donkiehemel wat hy spesiaal vir die donkies van Eseltjiesrus geskryf het. Dié liedjie is op 8 Mei, oftewel wêreldwye Donkiedag, uitgereik ten bate van bewusmaking oor dié veelsydige diere.

Kyk hier na die video:

Vir meer inligting skakel 023 625 1593, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die amptelike webwerf op www.donkeysanctuary.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.