Fiksie oor reeksmoordenaars

Die blote gedagte daaraan dat daar oënskynlik doodgewone mense is wat onder ons woon en werk wat oneindige behae daaruit put om te moor – wéér en wéér te moor – is vreesaanjaend en ook fassinerend. Wanneer jy boonop ’n boek lees wat die donker psige en modus operandi van ’n reeksmoordenaar oopvlek, is dit soos om na ’n grusame ongelukstoneel te staar en nie in staat te wees om weg te kyk nie. Onderstaande twee boeke het my bloeddruk opgejaag en my senuwees aan flarde geskeur.

Zola

Zola deur Johan Jack Smith word uitgegee deur Penguin Random House

Met hierdie boeiende, briljante debuutverhaal – ’n grusame spanningsriller wat die leser soos ’n grommende rottweiler aan die keel gryp – vestig Smith hom stewig in die kring van top Suid-Afrikaanse misdaadskrywers soos Steyn, Rust, Meyer, Venter en ander.

Twee speurders, kaptein David Majola en adjudant Jason Basson, wat elkeen ook teen hulle eie persoonlike duiwels veg, moet saam ’n uitgeslape reeksmoordenaar vastrek wat jong meisies in Johannesburg wreedaardig doodmaak.

Die rooi Zola Monster saai dood en verwoesting en die lyke stapel op. Dié hardebaardroman gee grepe uit die apartheidsjare toe die polisie hulle eie skrikwekkende metodes gehad het om inligting uit verdagtes te kry. Die hedendaagse media, politici en taxibase is in rep en roer en die druk om die taximoordenaar vas te trek raak enorm.

Ek kon die boek van 302 bladsye nie neersit nie en kon ook nie vooraf die identiteit van die moordenaar raai nie. Zola skree om ’n opvolg of twee, want die outentieke karakters en grusame gebeure word visueel so sterk geskets dat die leser traag is om hulle te laat gaan.

Uittreksel: “You know, hierdie ding is genius. Trek hier ’n lever, dan val die seats plat. Flick daar ’n switch, dan slaan clamps vas. ’n Modified Siyaya killing machine. Van die lede kom neem selfies, ander is te scared en te superstitious om dit in die garage te waag. The Devil’s Taxi. Dis belaglik.”

Meer oor die skrywer: Johan Jack Smith is die redakteur van die Taalgenoot. Hy werk ook as uitgewer en skryf gereeld resensies en rubrieke, speel in toneelstukke en is deel van ’n woordkunsgroep.

Zola is ook beskikbaar in Engels. Kry ’n voorsmakie op YouTube.

Skaf Zola gerus hier aan.

Sondes van die vaders

Sondes van die vaders deur Lerina Erasmus word uitgegee deur Human & Rousseau

Die boek is die uitstekende opvolg vir die gewilde Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus is in Augustus 2018 oorlede waarna François Bloemhof haar manuskrip finaal afrond. Sy was as skrywer veral bekend om haar fyn aanvoeling vir karakters, dialoog en storie.

Weeskind Hansie (Horrelpoot) Roodt doen as agtienjarige galgdiens by Pretoria Sentraal Gevangenis waar terdoodveroordeeldes aangehou en tereggestel word. Sy kollegas noem hom Hansie-huilbalie omdat hy emosioneel raak wanneer gevangenes gehang word. Hy moet die Pit ná die tyd skoonmaak en die gehangdes se liggame was.

Op ’n dag stamp hy vir oom Kallie, die hoofbewaarder, na sy dood en word as waansinnig verklaar. Twintig jaar later word Hansie vrygelaat in die sorg van ’n pastoor wat glo dat Hansie sy opvolger by die Tabernakel sal wees. Hansie word Gabriël, ’n uiters slim reeksmoordenaar wat die nasate van dié wat hom te na gekom het, een vir een laat boet vir die sondes van hulle vaders.

Topspeurder Danny Hector en haar ondersoekspan moet kreatief dink en alles in die stryd werp om die moordenaar, wat sy eie reëls maak en glo dat hy die Voorsienigheid se gesalfde is, te vang. Dié blitsblaaier beslaan 328 bladsye wat die leser behoorlik laat naels kou. Die leser weet van die begin af wie die moordenaar (en sy handlanger) is, maar dit doen geensins afbreek aan die ril-effek op die leser nie; inteendeel.

Uittreksel: “Die staalkaste langs die muur aan die oostekant huisves verskillende sterktes galgtoue. In die middel van die vertrek is ’n tafel. Die huilende Hansie Horrelpoot was by tien teregstellings teenwoordig. Daardie arme mense roep al jare lank om wraak. Maar daar is ook ander gevalle waar straf uitgedeel moet word, aan dié wat die drakoniese reëls neergelê het waarvolgens die teregstellings uitgevoer is. Die derde en die vierde geslag van dié wat My haat, sê die Woord mos.”

Meer oor die skrywers: Lerina Erasmus se radiodramareeks, Die Mannheimsage, word in 1986 vir televisie verwerk. Haar eerste spanningsverhaal, Die leliemoordenaar, verskyn in 2016. Die veelbekroonde skrywer, François Bloemhof, het al meer as 40 boeke geskryf. Hy werk ook as vryskuttaalpraktisyn.

Skaf Sondes van die vaders hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Ek is mal oor misdaad/moord boeke, eintlik verslaaf aan lees. Ek het Leliemoordenaar maar moet hom nog lees maar wil eers Sondes van die vaders koop en beslis gaan ek Zola ook aanskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.