Geliefde Babalela-skrywer sterf

Martie Preller, skrywer van die gewilde Babalela-kinderboeke, is in die ouderdom van 74 dood. (Foto: Martie Preller/Twitter)

Martie Preller, skrywer van die gewilde Babalela-kinderboeke, is Maandag in die ouderdom van 74 dood.

Lapa Uitgewers het dié nuus op Facebook bevestig en Martie as “een van die mees geliefde Afrikaanse kinderboekskrywers” beskryf.

“Dit is met groot leedwese dat ons bekendmaak dat die geliefde Babalela-skrywer, Martie Preller, oorlede is. Ons bied ook ons innige simpatie aan Martie se vriende en familie. Mag haar nalatenskap lank voortleef.”

Fanie Viljoen, jeugboekskrywer van onder meer Onderwêreld en Donker web, is een van die skrywers wat Martie se dood as ʼn verlies bestempel het.

“Babalela se mamma is oorlede. Martie was ʼn wonderlike mens. Haar kop het gewemel van stories. Sy het altyd so passievol oor haar karakters en boeke gepraat. Haar dood laat ʼn groot leemte in die wêreld van kinder- en jeugboeke,” het hy op Facebook geskryf.

Martie het verskeie pryse vir haar skryfwerk gewen. In 2003 en 2006 het sy die Tienie Holloway Medalje vir Kleuterliteratuur onderskeidelik vir Babalela, Lisa het ʼn plan en Diep, diep in ʼn donker bos gewen.Die MER-prys vir Kinderliteratuur is in 2004 aan haar toegeken vir Ek is Simon.

Ander pryse wat sy ook ontvang het, is die Alba Bouwerprys vir Kinderlektuur (2001), verskeie ATKV-kinderboektoekennings (1994, 1996 en 2002) en die Sanlamprys vir jeuglektuur (1994 en 1996).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet Snot ·

Wat ʼn vrou. My kinders het met haar boeke grootgeword.
“Los my uit, ek is ʼn Babalela!”

Nettie ·

Innige simpatie aan haar familie en vriende. Sy was ‘n wonderlike skryfster.

Koeksuster ·

Babalela sal voortleef tot in ewigheid. Wat ‘n legende! En wat ‘n voorreg om haar literatuur te kan geniet tot haar herdenking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.