Gʼn grootgapery in dié seerowerstorie

Voor by die stuur kyk kaptein Rufus Rottus op die kompas. Sy een hand gryp die stuur vas, terwyl sy ander hand ʼn koperfluit uit sy tas haal.

“Amper daar, my skatties! Ek gaan skerp na stuurboord swenk, so maak julle gereed om te swem!”

Só begin Kobus Geldenhuys se allerheerlikste kinderboek, Die seerowers en kaptein Rufus Rottus, waarin Matilda, Basjan en die Van der Branders tevergeefs probeer om Grootgaapbaai se kinders te red.

Dié penarie is as gevolg van Herman Heethoof, Grootgaapbaai se burgemeester, wat geweier het om ʼn geheimsinnige towerfluitspeler te betaal vir sy dienste om van ʼn lastige knaagdierplaag ontslae te raak.

“Ek sal graag wil sê kaptein Rufus Rottus is my gunstelingkarakter, omdat hy die bad guy is, maar ek hou ook nogal van Basjan en Matilda. Hulle is vir my lekker karakters,” vertel Kobus aan Maroela Media.

Ander karakters waarmee lesers ook kennismaak, is Arnoldus Ginnegaap, Grootgaapbaai se hawemeester, hoofinspekteur Kleitrap, Grootgaapbaai se polisiehoof, en Knoetsie, Basjan se sussie wat tot dusver grootliks onsuksesvol is in haar poging om die viool te bemeester.

Die seerowers en kaptein Rufus Rottus is die vierde titel in die reeks. Dit volg op Die seerowers en die spookskip, Die seerowers en die grot vol goud en Die seerowers en die monster se skat. Die reeks is deur Jonny Duddle in Engels geskryf en deur Kobus in Afrikaans vertaal.

“Ek is gek oor Duddle se spel met woorde, sy humorsin en die wacky situasies wat hy skep. Die storie oor ʼn moderne seerowerfamilie wat nie sleg is nie, maar eintlik goeie seerowers is, fassineer my geweldig,” brei Kobus uit.

Dit het telkens vir Kobus heerlike genot verskaf om veral Duddle se name en rympies te vertaal.

“Die lekkerte lê eintlik daarin om dit in Afrikaans te herskep. Ek het byvoorbeeld kop gekrap oor om Dull on sea te vertaal, en op die ou end op Grootgaapbaai besluit. Daaruit het Grootgapers, die inwoners van die dorp, gekom.

Kobus Geldenhuys. (Foto: Verskaf)

“Dit moenie soos ʼn vertaling klink nie. ʼn Afrikaanse kind en voorleser moet dit in hulle eie taal kan geniet. As die Engelse name net so oorgeneem word, is dit asof daar ʼn deel van die leeservaring verlore raak.”

Op die lukrake vraag oor watter temalied Kobus sou kies as Die seerowers en kaptein Rufus Rottus in ʼn rolprent verwerk sou word, antwoord hy opgewonde.

“Ek dink dit kan nogal ʼn lekker kort-animasiefliek maak. Ek sal eerstens ʼn wacky komponis kry wat lekker eksentrieke en oorspronklike musiek sal komponeer, en daar sal beslis vioolmusiek wees, omdat kaptein Rufus Rottus self viool speel.”

Die seerowers en kaptein Rufus Rottus kos R185 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.