Heidelberg skud vere reg vir Hessequa Harmonie

Niël Rademan (Foto: Verskaf)

Die Hessequa Harmonie-fees is vyf jaar gelede deur Niël Rademan met slegs ʼn handvol konserte in Heidelberg, Wes-Kaap, begin. Die fees het mettertyd gegroei en vanjaar is daar bykans 25 aanbiedings wat op kuns- en musiekliefhebbers wag.

“Ons sou dit nie kon doen sonder die ongelooflike ondersteuning van die plaaslike gemeenskap, die munisipaliteit, borge en feesvriende wat dit vir ons moontlik maak om hierdie fees vir die vyfde agtereenvolgende jaar aan te bied nie,” sê Rademan.

Feesgangers wat vanjaar dié fees van 20 tot 24 September bywoon, kan uitsien na ʼn keur van klassiekemusiekkonserte, boekbesprekings, kunsuitstallings, dramaproduksies, ligte musiek en leefstylaanbiedinge.

Rademan vertel aan Maroela Media dat hy opgewonde is om eersdaags saam met die Hessequa-gemeenskap kuns uit die boonste rakke ten toon te stel.

Clara gaan mirakelagtig wees, en ek kry sommer nou al hoendervleis wanneer ek aan die ATKV Galakonsert dink,” sê hy wanneer ʼn mens hom vra oor hoogtepunte op die program.

Clara is ʼn drama uit die pen van Riana Scheepers met Carla Smith in die rol van Clara Schumann, die beroemde pianis van die vroeë 1800’s, Nina Schumann as pianis en Lindi-Heila Smit as verhoogontwerper.

Die ATKV Galakonsert bestaan uit uitvoerings deur die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes, Elna van der Merwe (pianis), Anmari van der Westhuizen (tjellis) en ʼn koor van bykans 200 lede (almal sangers vanuit die Hessequa-omgewing). Die program is deur Betsie Ryke saamgestel en dit vind by die NG Kerk plaas.

Elsabe Daneel, Herman Lensing en Daniel Brodie is by vanjaar se Hessequa Harmonie-fees. (Foto’s: Verskaf)

Rademan, ʼn boorling van Heidelberg, verduidelik dat hy saam met ʼn span werk om ʼn program saam te stel wat nie net feesgangers en kunstenaars lok nie, maar wat ook ʼn diens aan die gemeenskap lewer.

“As kurator werk ek saam met ʼn intieme groep raadgewers en ons besluit dan saam wie en wat bymekaar pas. Die fees het ten doel om vir die platteland ʼn kulturele inspuiting te gee, en om uit te reik na gemeenskappe wat nie toegang tot die kunste op ʼn hoë vlak het nie.”

Elkeen van die feesproduksies is vir Rademan soos sy kinders. “Dit is kreatiewe maaksels uit my hart,” meen hy.

Musiekentoesiaste kan onder meer uitsien na klassieke uitvoerings van werke van Beethoven deur Daniel Brodie en Elna van der Merwe, en “Music of the Night” deur Janet Speelman (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzosopraan), Louis Loock (tenoor), Rademan (bariton), Van der Merwe (klavier), David Bester (viool), Petrus Coetzee (altviool) en Anmarie van der Westhuizen (tjello).

Coenie de Villiers. (Foto: Verskaf)

Konsertgangers kan ook naderskuif vir Coenie de Villiers se uitvoering van ou en nuwe verwerkings uit sy pen, ʼn piekniekkonsert met Pietman Geldenhuys en Schalk Joubert, en die Kaapse Filharmoniese Orkes se jeugorkeskonserte.

Skrywers soos Jan van Tonder, Erns Grundling, Marinda Engelbrecht en Hessequa-boorling Helena Gunter gesels met Elsabé Daneel by die gewilde “Boeke-brekfis”, terwyl kosliefhebbers na stories deur die glanskokke Herman Lensing en Yolani Abrahams kan luister.

Vir aanhangers van visuele kuns is daar uitstallings onder kuratorskap van Anne-Ghrett Erasmus (“Stil-wees”) en Louise Kluyts (“ʼn Lied in my hart” en “A New Dawn”).

Rademan hoop om in die toekoms Hessequa Harmonie se kunsaanbod verder uit te brei en voort te bou op dít wat reeds gevestig is.

“Daar moet in die toekoms ʼn komedie en ook ʼn dansproduksie aangebied word. Ek is ʼn persoon van my woord. Ek spreek my wense hardop uit en sorg dat dit gebeur.”

Kaartjies kan aanlyn by Plankton.mobi of by Karee Tree Designs in Heidelberg gekoop word. Klik hier vir die volledige feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.