Historiese roman beïndruk

Die kind uit die wingerd deur Helene de Kock word uitgegee deur Human & Rousseau.

Hierdie emotiewe verhaal met die mooie voorblad word op die flapteks tereg beskryf as ’n “meesleurende verhoudingsroman met ’n digverweefde historiese intrige”. Op ’n milde okergeel herfsmiddag in 1916 stap ’n onbekende driejarige seuntjie, met die naam Laurens Erasmus teen sy bors vasgespeld, by die roesbruin steenwingerd uit. Die Erasmus-familie ontspan op Vredenhoek se opstal se stoep, en dis klein Carijn den Hagen, die buurdogtertjie, wat hom eerste sien en sy vingertjies styf vasvat in hare.

Laurens heet nie net ’n Erasmus nie, maar hy het ook die Erasmusse se donker hare en hoë patrisiërneus. Janus en Peet, die twee Erasmusbroers, swyg, en dit lyk of hulle vroue ’n spook gesien het. Oupa Fritz tel die seuntjie op en dra hom huis toe. Die predikant kom Vredenhoek toe en bring nog ’n leraar saam. Hulle vergader lank met die twee broers. Daar word besluit dat Laurens by Janus-hulle op Vredenhoek sal bly, maar vakansietye moet hy by Peet-hulle op Bontevlei deurbring. Só word Laurens op ’n manier deel van die Erasmusse – altyd maar “die een wat naby is, maar steeds buite bly”, soos “’n gas wat nie weer vertrek nie”.

Só begin hierdie grootse roman deur een van ons mees bekende en geliefde Afrikaanse skrywers.

As jong man gaan studeer Laurens op Janus se aandrang nagraads in die regte aan die Universiteit van Leiden. Laurens sou graag eerder wou bly en brandewyn maak in die Vredenhoekkelder, maar besef dat hy sy herkoms moet gaan soek. Intussen duik gerugte van ’n naderende oorlog al meer op. Dan val Hitler Pole binne. Brittanje se eerste minister, Neville Chamberlain, kondig aan dat Brittanje in ’n staat van oorlog met Duitsland verkeer. Nog meer lande se oorlogsverklarings volg – die Tweede Wêreldoorlog het amptelik aangebreek. Die Nederlanders sal die vyand in die geheim beveg, en Laurens word aanbeveel vir só ’n tipe diens. Die verloop van die oorlog word behendig saamgevleg met Laurens se soeke na sy wortels. Sal die oorlog sy lewe nog meer omver gooi of sal dit vir hom deure oopmaak?

Ek het heerlik aan hierdie blitsblaaier van ’n historiese liefdesverhaal gelees en beveel dit sonder skroom aan. Die skrywer is bedrewe daarin om die leser se aandag vanaf die eerste paragraaf vas te vang. Haar skryfstyl is vloeiend en onderhoudend, die karakters, gebeure, taalgebruik en milieu oortuigend. Terwyl die naderende oorlogswolke dreigend saampak en uiteindelik tot volle uitbarsting kom, wonder die leser heeltyd saam met Laurens of die raaisel rondom sy ma en pa se identiteite ooit opgelos sal word. Die kind uit die wingerd is ’n roman waarin verhoudinge sentraal staan.

Uittreksel: “Hy het as bitterklein seuntjie net eendag uit die wingerd aangestap gekom en toe word hy een van ons. Soort van. Ek het gesien wat dit aan iemand doen as hy deur die samelewing begenadig word, maar tog heel effektief uitgeskuif word.”

Meer oor die skrywer: Dr. Helene de Kock is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy skryf voltyds. Beide haar Somersneeu (2010) en Debora gaan huis toe (2018) word onderskeidelik gekortlys vir die ATKV-liefdesromanprys.

Skaf gerus Die kind uit die wingerd hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.