Jo Black: ‘Dis my Oupie daai’

Jo Black se debuutboek ‘Die Stories Agter die Stories’ is pas bekendgestel. (Foto: Jo Black/Facebook)

Hiermee ʼn uittreksel uit Jo Black se debuutboek Die Stories Agter die Storie wat pas verskyn het.

Vrede vind

Musiek se funksie is om jou vir drie minute weg te neem. As jy dink aan ʼn liedjie soos ʼn toeter op ʼn scooter of ʼn naweek-lyfie, daai musiek het ʼn rol, want vir drie minute dink jy aan niks nie. Jy geniet dit net.

Ek wil hê my musiek moet jou vir drie minute in jouself inkeer en hoe ons dit doen, is om by my vertonings die storie agter die stories te vertel.

Ek is van Pretoria-Noord af. In Pretoria-Noord het jou ouers nie die voorreg om jou groot te maak nie, jou pelle maak jou groot. Ek was bevoorreg, want ek het grootgeword by seker die coolste ou wat ek ken. Ek noem hom: Oupie.

My oupa vir my is dieselfde ou in jou storie. Om konteks te skep, dis die persoon na wie jy opgekyk het toe jy jonk was. Toe jy tussen drie en 13 jaar oud was, was hierdie ou die rykste, die sterkste, die grootste, die mooiste, die frisste, die vinnigste. Hy was so cool gewees dat as jy saam met hom in die kar gery het, jy nooit aan die hazard-knoppie mag geraak het nie, want hy het vir jou gesê dit gaan die kar laat opstyg.

Hy is ongelukkig dieselfde ou wat, toe jy tussen 13 en 18 jaar oud was, al daardie cool-geit verloor het. Hierdie is die zefste ou wat jy ken, want hy moan oor alles. Hy moan oor die hoeveelheid gel wat jy in jou kuif gooi. Hy sê: “Dit lyk of iemand jou met ʼn nat koerant pak slae gegee het.” Hy moan tot oor die tipe musiek wat jy luister. Hy sê: “Watse gemors is daardie?” en dan sê jy: “Oupie, dis Jo Black.” En dan sê hy: “Jis, maar daardie baardbek skree verskriklik.”

Hy begin sy sinne met: “Toe ek jonk was” of: “In my dae” en dan wil hy vir jou verduidelik hoe dit beter was voor teerpaaie, selfone en die internet. Maar hy is ook dieselfde ou, toe jy bietjie meer volwasse raak, na wie toe jy gehardloop het met jou oorwinnings, hy’s die ou na wie jy druipstert teruggekruip het met jou nederlae, want hierdie outop weet presies wat om te doen en wat om te sê in enige situasie.

Nou my Oupie is daai ou.

Oor die boek

Die Stories Agter die Storie is die eerste boek uit die rasperstemsanger Jo Black se pen. Die boek bied ʼn intieme blik op die merkwaardige lewe van hierdie sanger wie se kragtige stem en opregte lirieke die harte van miljoene aanhangers reg oor die wêreld verower het.

Jo vertel stories en deel van die lewensgebeure wat sy lewe en loopbaan beïnvloed het. Hy bring hulde aan gebeurtenisse in sy lewe wat as inspirasie vir sy liedjies gedien het, en steeds doen.

“Hopelik kan my stories bydra tot jou storie, miskien sien jy jouself in my storie. Dis wanneer jy besef ons almal het eintlik ʼn storie. Ek glo ook dis deur ons stories te deel dat ons mense help, hulle laat besef dat daar altyd hoop is en dat ons ons getuienisse kan gebruik om ʼn verskil en dinge beter te maak,” sê Jo.

Die Stories Agter die Storie is ʼn moet-lees-boek vir Jo se aanhangers, musiek-entoesiaste en almal wat op soek is na ʼn inspirerende verhaal van triomf oor teëspoed.

Die uittreksel is met vergunning aan Maroela Media verskaf. Die Stories agter die Storie kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Besoek Jo Black se webwerf om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.