Liefdesverhale vir jou boekrak

Wat is nou lekkerder as om op te krul met ’n heerlike romantiese liefdesverhaal en jouself in die held en heldin se wel en weë te verloor? Die volgende verhale is tans by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

Omdat jy my liefhet (Elsa Winckler) (Tafelberg: Satyn)

Dokter Olivia Mulder moet ’n maand lank in haar oorlede tant Peet se huis in Greyton bly om sekere bepalings van dié se testament na te kom. Sy het nie lus om so lank op ’n klein dorpie te vertoef nie, maar sy het haar erfporsie nodig om ’n tehuis vir mishandelde vroue in Johannesburg op te rig. Livie ontmoet vir Bart Coetzee, ’n voormalige kliniese sielkundige wat al vir vier jaar lank as handyman op Greyton werk. Die vonke spat vanuit die staanspoor tussen die hardkoppige en uitgesproke Livie en die aantreklike Bart wanneer hy haar noodgedwonge telkemale uit ’n penarie moet red – en dít wanneer hy sy bes doen om komplikasies – veral vroumense – in sy lewe te vermy. Hy sukkel immers om met sy verlede vrede te maak en het na die dorpie gekom om stil te lewe. Hierdie lekkerleesboek boei die leser vanaf bladsy een.

Uittreksel: “Dankie,” sê Livie en probeer nie eens die irritasie uit haar stem te hou nie. “Ek stel egter nie belang in ’n man nie – nie om mee te trou of om enige ander rede nie. Totsiens.”

Koop die boek by Graffiti Boeke

 

In my drome (Malene Breytenbach) (Tafelberg: Hartklop)

Daar is nie een vervelige oomblik in hierdie boek nie. Die een ramp ná die ander tref die skatryk en spandabelrige Swift-familie. Dokter Stella Swift beland self ook in die hospitaal met baie ernstige beserings. Sy het nog altyd probeer om onafhanklik van die Swift-miljoene haar eie ding te doen, maar word tog ook geraak deur die moeilike tye waardeur haar familie gaan. Boonop is daar die hooghartige en ambisieuse dokter Arend Barnard op wie sy sedert haar skooldae heimlik verlief is. Hy wil egter niks met ’n bedorwe rykmansdogter te doen hê nie. Hy moet tog teenoor homself erken dat Stella baie hard moes gewerk het om as algemene praktisyn te kwalifiseer. Gaan die noodlot hierdie twee talentvolle dokters uit mekaar se arms hou, of is daar tog ’n kans dat hulle ’n toekoms saam kan hê?

Uittreksel: “Vir so ’n bedorwe brok het hy nog nooit kans gesien nie, al is sy mooi en intelligent. Sy is ’n Swift, en haar pa en broer is afstootlik.”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Ter wille van geluk (Naretha Franken) (Tafelberg: Hartklop)

Marina is afdelingshoof van haar afdeling by die SARR-kliniek waar sy as fisioterapeut werksaam is. Die enorme hospitaalkliniek is ’n hawe vir erg getraumatiseerde pasiënte wat hier kom aansterk. Die kliniek is ook al vyf jaar lank Marina se toevlugsoord nadat sy gevlug het van die dwelmverslaafde man wat haar siel geknak het. Maar nou word daardie einste man een van haar pasiënte ná ’n onsuksesvolle selfdoodpoging. Sal Marina dit regkry om hom te help? En wat as hy sou uitvind van haar groot geheim? Hierdie romantiese boek oor vergifnis en wéér probeer sal menige leser se hart warm laat klop.

Uittreksel: “Jy is hier met ’n probleem en ek is hier om jou te help. Ek is van vandag af jou fisioterapeut en jy is my pasiënt. Kom ons hou dit so. Dit sal makliker vir ons albei wees as niemand hier van ons verlede weet nie.”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Winterdroom (Alma Carstens) (LAPA: Romanza)

Wanneer ’n aantreklike vreemdeling die taxi voor haar neus wegraap in New York, skel ’n vlugvoos Simoné hom uit as ’n “verdomde, blessitse, onbeskofte oeraap” en ’n “onopgevoede, arrogante skurk”! Tristan is egter ’n bekende sportster en beland met ’n sportbesering in Simoné se spreekkamer waar sy instaan vir dokter Esterhuizen. Die vonke spat tussen hulle. Simoné weet wat sy wil hê en die lyflike is deel daarvan. Sy is “vir ewig klaar met mans”, maar stel tog nog belang in “bedkapperjolle”. Gaan haar blatante, en ietwat ongewone, voorstel vir Tristan afskrik? Kort voor lank kom hy met ’n ultimatum van sy eie en Simoné moet die belangrikste besluit van haar lewe maak.

Uittreksel: “Hierdie girl het ’n wintershart en so gaan dit bly. Geen man, en ek bedoel géén man, gaan ooit weer hierbinne toegelaat word nie,” sê sy en klop liggies met haar hand daar waar haar hart in haar borskas sit.”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Die meisie langsaan (Nellie Alberts) (LAPA: Romanza)

Adamia ken al Liebert se truuks, want “sy het so in die seunsbondel saam met hom grootgeword hier op die plaas” en soos hy self sê: “Buitendien, ons ken mekaar so goed; dis amper asof ons broers is.” Sy is een van die boys – eintlik hoë lof komende van hom. Nou het Liebert se sussies hom teen sy sin ingeskryf vir ’n vrousoekprogram op TV. Liebert is egter doodgelukkig as vrygesel. Nie net is Adamia altyd daar nie, sy sussies sorg ook dat sy lewe heel gemaklik verloop. Liebert kies wraggies die meisies wat die minste klere op hulle foto’s dra en binnekort kom die “popsies” plaas toe. Wel, solank hy net nie sy popsie-moves op Adamia wil oefen nie! Maar hoekom verloor Adamia gewig en versorg haarself meteens beter? Hierdie is ’n héérlike verhaal!

Uittreksel: “Ek ís nie jaloers nie; nie op daardie klomp … matraskopwilgerlatte sonder klere nie! Wat gee sy om! Dis nie asof sy vir Liebert wil hê nie …of wil sy?”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

’n Geur vir elke vrou (Ida Bester) (LAPA: Romanza)

Theana moet Parys toe gaan om vir Jean-Luc Celliers, hulle kompetisie se aankoper van skoonheidsmiddels en ook die ontwerper van sy eie parfuum, te werf. Sy hou egter niks van die skoonheids- en parfuumbedryf se goue seun nie, want hy skroom nie om diereprodukte te gebruik nie. En sy wat Theana is, is ’n diereregteaktivis! Sy neem haar voor om hom daarvan te laat afsien om peperduur olies waarvoor diere met hulle lewens boet, te gebruik. Theana moet egter gou erken dat die talentvolle Jean-Luc nie net uiters aantreklik is nie; hy is ook innemend, hoflik en sjarmant. Hy blyk ook aangetrokke tot haar te wees. Kort voor lank raak sy egter daarvan bewus dat daar meer tussen haar baas en Jean-Luc is as wat enigiemand kon droom. Staan hierdie twee begaafde mense ’n kans op geluk, of nie? Durf hulle dit oorweeg om ’n lewe saam te bou?

Uittreksel: “Hoe sal sy nie weet wie Jean-Luc Celliers is nie? Hy is maar net die mees besproke en opgehemelde “neus” in die besigheid. … En die doring in haar sy.”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Vir ’n oomblik, vir altyd (Ciska Olivier) (LAPA: Romanza)    

Anita is moeg daarvoor dat haar ma haar kêrels afvry. Sy wil liefs nooit weer iets met mans te doen hê nie. Maar dan loop ’n aantreklike vreemdeling haar uit die aarde uit en dra haar kort daarna na haar kamer toe en soen haar dat haar ore tuit. Haar ma kom op die romantiese toneeltjie af en gooi onbeskaamd haar flikkers vir die blonde dokter. Sy reken Anita is nes sy met dié dat sy ’n hottie soen sonder om eens sy naam te ken. Anita besef tot haar skok dat dokter Guan van Wyk een van die dokters is by wie se spreekkamer sy as die nuwe ontvangsdame begin werk. Boonop vind sy uit dat Guan haar buurman is. Sal Anita en Guan liefde kan vind wanneer hy haar saam met ’n ander man sien en wonder hoeveel minnaars sy nou eintlik het?

Uittreksel: “Liefde is goedkoop,” val sy hom bitter in die rede. “Wispelturig. Dit is ’n emosie wat tyd verg en ewige trou belowe, maar die waarheid is dat die ware Jakob maar dun gesaai is. Daar is net ’n paar gelukkiges wat dit ontdek.”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Logika van die liefde (Marilé Cloete) (LAPA: Super Romanza)

Emmerentia se bors is pas verwyder nadat kanker by haar gediagnoseer is. Sy is broos en baie moeg. Sy voel ook skuldig omdat sý die siekte geklop het, terwyl haar ma op ’n jong ouderdom daaraan dood is. Haar pa sleep haar saam op ’n akademiese reis Australië toe. Hulle word vergesel deur ’n stil, toegewyde akademikus wat saam met Emmerentia se pa kongresse gaan bywoon. Die menssku Brent met die mooi oë verdiep homself in sy werk. Hy is gedurig besig met sy skootrekenaar en bestudeer ook vaktydskrifte. Hy blyk net so min lus te wees vir geselskap as Emmerentia. Tog is daar tye wanneer hy warm, menslik en besorg oorkom. Hy neem haar onverwags in sy vertroue en vertel haar van sy tragiese verlede, maar daarna onttrek hy hom weer van haar. Emmerentia is hartlik geïrriteerd daarmee dat haar pa en Brent sulke treurige geselskap is en heeltyd sit en werk. Mettertyd vorm daar egter wedersydse begrip en ’n band tussen Emmerentia en Brent. Gaan hulle die moed hê om saam ’n pad te stap en hulle seermaak verledes agter te laat? Die bedrewe en geliefde skrywer lig Emmerentia se ervaring met borskanker baie deernisvol uit. Lees gerus hierdie pragtige boek!

Uittreksel: “’n Knocker is ’n bors, onnosel. Ek brei vals borste vir vroue wat nie ’n prostese kan bekostig nie.”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

 

Skaf gerus bogenoemde liefdesverhale aan om die komende vakansie te lees. ’n Mooi liefdesverhaal waar die held en heldin ná vele struikelblokke wel by mekaar uitkom, laat die leser gelukkig en tevrede voel – so asof jy deel is van ’n sprokie. Dit help om jou van al jou sorge te laat vergeet en om te ontspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.