Luister: Daniel Strauss se jongste boek wys pad na finansiële vryheid

Rolene Strauss gesels met Daniel Strauss oor sy jongste boek, ‘Werk soos ‘n miljardêr’. (Foto: Maroela Media)

Uitgesoekte gaste het Donderdag ʼn eksklusiewe bekendstelling van Daniel Strauss se jongste boek, Werk soos ʼn miljardêr, by Maroela Media se kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria bygewoon.

Gaste sluit in bekendes en vriende soos Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, Simoné Pretorius en haar man, Andries, Sue Pyler-Slabbert, en Die Kaplyn se Johan Vorster, Jacomien de Wet, Ilan van Staden en Deirdré Barnard.

ʼn Hoogtepunt van die geleentheid was toe Rolene Strauss, Daniel se eggenoot en ook self ʼn entrepreneur, ná afloop van die boekbespreking vir Daniel met ʼn video verras het. Die video is uit boodskappe van vriende en familie saamgestel waarin hulle Daniel onder meer met sy boek gelukwens.

Daniel mag dalk soos ʼn miljardêr dink en werk, maar sy grootste rykdom lê in die waarde van sy verhoudings met mense. Dit is een van die temas in Werk soos ʼn miljardêr: Om te midde van ʼn strewe na sukses en ʼn druk skedule tyd vir die belangrike mense in jou lewe te maak.

Werk soos ʼn miljardêr volg op Daniel se topverkoper, Dink soos ʼn miljardêr. In Werk soos ʼn miljardêr maak lesers kennis met Dan, ʼn doodgewone werknemer wat bloot van salaris tot salaris leef. Hy streef daarna om eendag sy eie onderneming te begin en sy eie baas te wees. Daar is egter ʼn string struikelblokke wat dié droom kelder.

Daniel Strauss is die skrywer van ‘Werk soos ‘n miljardêr’ en ‘Dink soos ‘n miljardêr’. (Foto: Maroela Media)

“Ek is nie Dan nie, en Dan is nie ek nie, maar daar is definitief iets van my in Dan en definitief iets van Dan in my. Net so is daar iets van my in al die ander karakters en iets van hulle in my. Die ding met ʼn storieboek is: jy kan maar net uit jou eie verwysingsraamwerk skryf,” het Daniel voor die bekendstelling in Maroela Media se ateljee gesê.

Daniel gebruik Dan se storie om wenke en raad te gee oor hoe om finansiële en persoonlike vryheid na te streef. Dit gaan ook oor hoe om jouself op die pad na sukses beter te leer ken, terug te gee en volhoubare ondernemingstelsels te ontwikkel.

Sy boek is gelyktydig in Afrikaans en Engels uitgegee, en dit is die afgelope week by verskeie geleenthede in Pretoria bekendgestel. Die Afrikaanse weergawe is deur Hanlie Retief vertaal en volgens Daniel was dit ʼn vreugde om saam met Hanlie te werk.

Gaste is op wyn deur Diemersfontein getrakteer. (Foto: Maroela Media)

“Dit is ʼn groot voorreg dat iemand soos Hanlie bereid was om iets soos dit te doen. Ek is ongelooflik dankbaar daaroor.”

Donderdag se bekendstellingsgeleentheid is deur Starburst Promotions aangebied en gaste is op vingerhappies, en wyn deur Diemersfontein, getrakteer.

Werk soos ʼn miljarder kos R320 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Daniel Strauss oor sy jongste boek, Werk soos ʼn miljardêr.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.