Luister: Meer genade met depressielyers, vra Ivor Swartz

Ivor Swartz. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

In die diepste, donkerste plek van sy depressie het Ivor Swartz gekies om te lewe.

Hy is nie meer dieselfde Ivor wat in 2013 ʼn selfdoodbrief geskryf het nie, en te danke aan verskeie ligpunte in sy lewe het Swartz nou op die somber dae iets om aan vas te hou wat hoop gee.

Die “wilde blou”, soos wat Swartz in sy jongste boek Kies die lewe na sy depressie verwys, is steeds deel van sy werklikheid, maar hy aanvaar en hanteer dit, en hy kies die lewe.

Swartz het teologie studeer en hy werk tans as jeugpastoor by die NG Gemeente Oosterlig in Pretoria. Sy debuutboek met die titel Die verlore seun vannie Gaatjie het in 2020 by Lux Verbi verskyn en hy is op die oomblik te sien in die VIA-reeks Kies die lewe!

“Hierdie een is vir elke depressievegter; vir jou wat voel jou stem word nie gehoor in die geraas van al die onkunde nie; vir jou wat voel daar is te veel op die spel as jy hardop sou erken: Ek leef met depressie. Jy is nie alleen nie” (uit Kies die lewe deur Ivor Swartz).

Met sy jongste boek nooi Swartz lesers in die binnekamer van sy hart en hy praat openhartig oor sy jarelange worsteling met depressie.

Van die mees hulpelose tye toe hy nie eers uit die bed kon opstaan om gordyne oop te trek nie, tot ondersteuningsgroepe en hanteringsmeganismes wat hom help om daarmee saam te leef.

Swartz gee raad vir jongmense wat met depressie sukkel, hy bied leiding aan ouers wie se kinders hulle eie lewe geneem het, hy fokus veral op dié gemoedsversteuring onder mans en hy vra hoe gewone mense, geliefdes en die kerk depressielyers kan ondersteun.

“Die beste manier om ʼn geliefde of persoon te ondersteun is om soms net daar te wees. Hulle gaan dikwels nie jou raad onthou nie, maar hulle gaan jou daar wees en teenwoordigheid beslis onthou,” meen Swartz.

Sy pleidooi is deurentyd dat lesers geen mens sal oordeel vir die keuses wat hulle in hulle donkerste oomblikke gemaak het nie.

“Ek hoop regtig dat mense minder sal oordeel as hulle nie depressie verstaan nie, maar ook dat depressievegters sal verstaan hulle is nie alleen nie,” sê hy.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Ivor Swartz. Hy gesels oor sy storie en die boek wat hy onlangs oor depressie geskryf het.
  • Kies die lewe kos R260 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.