Luister: ’n Ware verhaal wat generasies van Christene inspireer

Broer Andrew word dikwels beskryf as God se eie smokkelaar. (Foto: Verskaf deur Geopende Deure)

Broer Andrew is die stigter van Geopende Deure en is wyd bekend vir sy roeping om vervolgde Christene wêreldwyd by te staan. Sy lewe getuig van talle wonderwerke en die Here se kragtige werking om sy Woord aan gelowiges wat vir hul geloof vervolg word, te verkondig.

Andrew van der Bijl was egter ’n doodgewone Hollandse man met ’n beskeie agtergrond. Op 92-jarige ouderdom kan hy beslis terugkyk op ’n pad vol avonture as “God se smokkelaar”. Broer Andrew, soos hy alombekend is, het in 1955 Bybels na vervolgde Christene agter die Ystergordyn begin versprei. Vandag gaan Geopende Deure voort met hierdie baanbrekerswerk onder meer as 260 miljoen Christene in meer as 60 lande, en kan Broer Andrew se voetspoor wêreldwyd gesien word.

“Ons is opgewonde oor die nuwe Afrikaanse vertaling van Broer Andrew se biografiese boek, God se Smokkelaar, wat tans beskikbaar is en op Geopende Deure se webtuiste bestel kan word. Sy roeping om die Liggaam van Christus te versterk, kry opnuut lewe in dié internasionale topverkoper,” het Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure, gesê.

Gouws het gesê dié boek se ongelooflike storie kombineer ’n hartseer avontuur met gebroke lewens wat verander is en die realiteite van geestelike oorlogvoering.

“Dit alles saamgevat in ’n boeiende verhaal wat agter die Ystergordyn afspeel. Die aangrypendste van alles is die feit dat dit ’n ware verhaal is, wat al soveel generasies Christene sedert die eerste publikasie sowat 40 jaar gelede geïnspireer en uitgedaag het.”

Gouws vertel verder dat Broer Andrew talle pryse en eerbetonings in sy lewe ontvang het. Hy is, onder andere, deur koningin Beatrix van Nederland tot ridder geslaan en het in 1997 die Wêreld Evangeliese Gemeenskap se gesogte Godsdiensvryheid-eerbewys ontvang vir sy lewenslange diens aan die vervolgde Kerk.

“Die erkenning wat hom egter die meeste behaag, is kopieë van die Komitee vir Staatsveiligheid (KGB)-verslae wat hy ná die val van die Ystergordyn in die hande gekry het. Daar was meer as 150 bladsye oor hóm, met volledige inligting oor sy werk in die Sowjetunie en Oos-Europa, maar hulle kon steeds nie sy werk onder vervolgde Christene stop nie.”

Die nuwe Afrikaanse vertaling van hierdie internasionale topverkoper bied ’n vars blik op Broer Andrew se roeping om die Liggaam van Christus te versterk. Volgens Gouws sal lesers hulself tussen die bladsye inleef in sy geloofsreis en sy roeping om vervolgde Christene te help.

Die nuwe Afrikaanse vertaling van Broer Andrew se biografiese boek, God se Smokkelaar, is nou beskikbaar. Besoek Geopende Deure se webtuiste by www.opendoors.org.za vir bestellings.

Wen:

Een gelukkige leser kan ’n gratis kopie van God se Smokkelaar wen deur die volgende vraag te beantwoord: “Met watter soort motor het Broer Andrew gery toe hy Bybels oor die grens na Roemenië gesmokkel het?

Luister na ’n volledige onderhoud boaan hierdie berig om die antwoord vir die kompetisie te kry, of lees ʼn uittreksel uit dié boek hier op Maroela Media.

SMS “Maroela” en die antwoord na 43 699 voor Donderdag 16 April 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.