Luister: Nataniël se musiekdroom van 40 jaar bewaarheid

Nataniël kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

“Dit het my 40 jaar geneem om my klassieke opleiding, jare se verhoogervaring en liefde vir liturgiese musiek bymekaar te bring. Hierdie is vir my die geleentheid van ʼn leeftyd,” vertel Nataniël oor Mass for the Good Princes, sy jongste musikale skeppingswerk wat eersdaags op die planke te sien is.

Dié konsert word op 29 Oktober twee keer deur Momentum Beleggings Aardklop Aubade by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria aangebied.

Nataniël het ingestem om tussen repetisies, kostuumpassings en musikale voorbereidings telefonies met Maroela Media oor Mass for the Good Princes te gesels.

In hierdie podsending verduidelik Nataniël wat presies ʼn musikale mis behels, waar die idee destyds posgevat het, en wat gehore van die program kan verwag. Hy vertel ook meer oor sy jongste kortverhaalbundel, Help, Help, en die oorvertelling van sy peetkind, Giulia le Roux, se boek wat oorspronklik in Frans gepubliseer is.

Nataniël is eersdaags te sien in sy eerste musikale mis, ‘Mass for the Good Princes’. (Foto: Verskaf)

Musikale mis ʼn eerste vir Nataniël

Elke keer wanneer ʼn mens met Nataniël gesels is hy besig om aan meer as een produksie gelyktydig te werk. Intussen verkoop die kaartjies vir sy konserte deurentyd soos soetkoek.

Nataniël se benadering vir elkeen van sy produksies is presies dieselfde: tot op die fynste besonderheid deurdink, kostuumontwerp van die hoogste gehalte, keurige musiek wat gehore op reis neem en ontroer, en weldeurdagte stories wat tot die hart van mense spreek.

Met Mass for the Good Princes bou Nataniël voort op hierdie suksesresep, maar daar is een aspek wat uitstaan: Hy droom letterlik al vir jare daaroor om sy eie musikale mis aan te bied.

“Ek dink vir ure oor elke noot, dit moet vir absoluut almal mooi en roerend wees. Kollegas en klasmaats en vriende wat my pad ken, reis van die verste plekke om Sondag die twee konserte van Mass for the Good Princes by te woon.”

Dié konsert is op die klassieke struktuur van ʼn komposisie met vyf, ses of sewe dele gegrond, en dit is ʼn gebed vir goedheid, nuwe leierskap en die hoop van ʼn nuwe generasie. Die mis word in Latyns en Engels gesing, met vertellings en beskrywings in Afrikaans.

Nataniël deel soos soveel keer vantevore die verhoog met bekende en bekroonde musikante. Dit sluit Ockie Vermeulen (orrel), Charl du Plessis (klawerbord), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (bas), Peter Auret (tromme en perkussie) en die Akustika Kamerkoor, onder leiding van Christo Burger, in.

Nataniël herverbeel peetkind se Franse storie

Maroela Media het in 2022 berig dat die 9-jarige Giulia le Roux een van die jongste skrywers in Frankryk geword het ná haar pa, Erik le Roux, stilletjies haar boek, Cinq Plumes Perdues (Five Lost Feathers), laat publiseer het.

‘Vyf verlore vere’ is die Afrikaanse weergawe van die 9-jarige Giulia le Roux se boek, Cinq Plumes Perdues, wat deur Nataniël oorvertel word. (Foto: Nataniël News Page/Facebook)

Nataniël, Erik se broer en die peetpa van sy twee dogters, het destyds vertel dat hy ongelooflik trots op Giulia is en dat haar storie werklik aangrypend is.

“Giulia se storie maak jou bewoë wanneer jy dit die eerste keer in haar handskrif sien, in Frans, want sy skryf oor goed wat grootmense nie geleer het nie. Dit is ʼn pragtige verhaal met diere as hoofkarakters en met ʼn lewensles oor samesyn. Ek hoop dit word ʼn epic ding wat vir ewig sal bly bestaan.”

Intussen het hy daad by die woord gevoeg en saam met Giulia gewerk om haar storie in Afrikaans en Engels te laat lewe kry. Dié weergawes, met die titels, Vyf verlore vere en Five Lost Feathers, het pas by Lapa Uitgewers verskyn.

Nataniël sê die skryfproses was ʼn samewerking tussen hom, Erik en Giulia, wat ook Engels kan praat.

“Ek het langs Giula gesit en telkens vir haar gevra om vir my in haar eie woorde te sê waaroor die storie gaan. Erik het tussendeur ook gehelp waar die taal ons gepootjie het.

“Giulia se storie is dus nie woordeliks vertaal nie, omdat so iets byna onmoontlik tussen Frans en Afrikaans is. Die tale is ten opsigte van ritme en poëtiese taalgebruik ongelooflik verskillend.”

Daar het onlangs ook ʼn kortverhaalbundel uit Nataniël se pen die lig gesien. Help, help is ʼn samestelling van 29 stories, 5 in Engels en 24 in Afrikaans.

Met hierdie bundel wil Nataniël lesers op reis neem na die surrealistiese wêreld van gastehuise op die platteland; lapwinkels met geen mooi lap in sig nie; ʼn toonbank met die mees asembenewende olyfolie, geglasuurde, kristalhelder koemkwats en vlesige vanieljepeule; en Kersfees in klein dorpies wat lyk soos ʼn mini-heelal.

  • Kaartjies vir Mass for the Good Princes kos R260 en R290, en kan by Ticketpros bespreek word.
  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Nataniël oor Mass for the Good Princes, en sy twee jongste boeke, Help, help en Vyf verlore vere, wat pas verskyn het.
  • Lees ʼn uittreksel uit Help, help op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grens ·

Hy is ‘n nou ‘n regte drama queen, maar ek geniet sy konserte baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.