Nuwe tassieprojek bring pure luistergenot

Prof. Cecile Schultz, skrywer van die Fletcher-boeke. (Foto: Verskaf)

Prof. Cecile Schultz, skrywer van die Fletcher-boeke wat eersdaags in oudioformaat hier op Maroela Media verskyn, wou met haar eenvoudige storie oor ʼn perd graag ʼn verskil maak.

Fletcher is in 2008 geskryf toe Schultz se seun, Christiaan (9), besig was met skoolgereedheidstoetse. Haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), was in daardie stadium ses.

“Deel van Christiaan se terapie vir skoolgereedheid was perdry. Toe ek die eerste keer vir Fletcher sien, het ek my hart op dié wit perd met bruin kolle verloor,” vertel Schultz, ʼn professor in menslikehulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria.

Sy het die behoefte gehad om ʼn storie te skep wat ouers sal help om vir hul kinders waardes en meer oor God en die Heilige Gees te leer.

Meer as ʼn dekade later het Schultz opnuut ʼn behoefte ervaar om ʼn verskil met Fletcher se storie te maak en so het sy begin om voelers uit te steek. Haar pad het met Solidariteit Helpende Hand sʼn gekruis en so is die proses aan die gang gesit om dié verhaal in pure luistergenot te omskep.

René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Helpende Hand, vertel aan Maroela Media dat sy dadelik die potensiaal en waarde van die stories raakgesien het. “Ek het gedink dit sal lekker Afrikaanse inhoud wees om met ons kinders te deel en daarom het ek begin om die moontlikhede te ondersoek.”

Schultz was in ekstase toe Roux haar laat weet dat hulle belangstel om die verhaal te gebruik.

“Maggies! Dit is baie opwindend. Ek was buite my kassie, want ek sou self nooit aan so iets gedink het nie. Die voorlesings is ʼn fantastiese en heerlike manier om die storie oor te dra en dit is ook sommer ʼn geleentheid vir ouers en kinders om saam tyd deur te bring,” sê sy.

Die perd, Fletcher, wat Cecile Schultz se storie in 2008 geïnspireer het. (Foto: Verskaf)

Fletcher word deur Elana Barker voorgelees en dit word in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek aangebied.

Volgens Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, is dit ʼn gemeenskap se verantwoordelikheid om na sy kinders om te sien.

“Solidariteit Helpende Hand doen presies dit deur te sorg dat elke graadeentjie ʼn tassie het wanneer hulle op die eerste dag by die skool instap, ongeag hul huislike omstandighede.

“Dit is vir ons as Maroela regtig ʼn voorreg en ʼn vreugde om te help om ʼn projek soos hierdie, waardeur ons ons lesers die geleentheid bied om ʼn verskil in die Afrikaanse gemeenskap te maak, vlerke te gee.”

Sy hoop ook dat Fletcher sommer gou in menige huishouding ʼn tuiste sal vind.

“Ons glo dat Fletcher die perd ʼn geliefde inwoner van elke huishouding gaan word, net soos Heidi en Nils Holgerson en Dawie die Kabouter van ouds. Ons vertroue is dat hy diep in kinders se harte gaan kruip en vir hulle waardevolle lewenslesse gaan oordra.”

‘n Voorblad van die ‘Fletcher’-boekreeks se eerste oplaag.

Roux sê die voorlesings skep ʼn kanaal wat Helpende Hand in staat stel om met kinders in die gemeenskappe daarbuite op ʼn kindervriendelike manier te kommunikeer.

“Dit bied ook die geleentheid om agterna oor belangrike onderwerpe te gesels en vir kinders te leer hoe om op die regte manier om te gee, mekaar te help en ʼn sin vir verantwoordelikheid te ontwikkel,” voeg Roux by.

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met die Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.

Fletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek. Gaan luister gerus hier na die Fletcher-stories.

  • Boekvoorlesings sal weekliks vanaf 23 September 2022 op Maroela Media verskyn en ook binnekort op ʼn gemeenskapradiostasie in jou omgewing uitgesaai word.
  • Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.