Ontdek só Suid-Afrika se stedelike erfenis

Hidden Pretoria is nie bloot ʼn bestekopname van Pretoria se mees ikoniese geboue nie.

In dié boek word ongeveer 28 argitektoniese en erfenisskatte, waaronder die Paleis van Justisie, die Gereformeerde Kerk Pretoria, die Smuts-huismuseum en Vryheidspark, op ʼn kleur- en woordryke wyse uitgebeeld.

Van die geboue is welbekend aan die publiek, terwyl ander minder bekend of selfs heeltemal ontoeganklik vir besigtiging is.

“Die lokomotiefherstelwerkswinkels by Rovos Rail, die hoof se kantoor by die Afrikaanse Hoër Seunskool en die woonruimtes van die beeldhouer Angus Taylor en skilder Rina Stutzer se huis, wat terselfdertyd as galery dien vir hulle kunswerke, is met vergunning aan ons oopgestel,” vertel Johan Swart, skrywer van Hidden Pretoria.

Die inhoud van die publikasie bestaan uit ʼn kombinasie van Swart se navorsing oor die onderskeie geboue, asook kunsfotografie deur Alain Proust.

Lesers kry só die geleentheid om sommige van Pretoria se voorste erfenisgeboue van naderby te beskou. Selfs die museums en aanbiddingsplekke het argitektoniese en ontwerperskwaliteite wat maklik misgekyk word.

Hidden Pretoria is die ideale koffietafelboek waarin die argitektoniese erfenis van Pretoria verteenwoordig word deur die keuses van die skrywer en fotograaf .

In Hidden Johannesburg word fragmente van die Goudstad se geskiedenis onthul, maar dit bied terselfdertyd ook ʼn kritiese blik op die bewaring van Johannesburg se erfenis en historiese geboue.

“Dié boek is egter nie ’n pleidooi vir die herstel en herlewing van die ou geboue in Johannesburg nie,” meen Paul Duncan, skrywer van Hidden Johannesburg. “Inteendeel, Parkstasie is die enigste gebou wat vervalle is en aandag nodig het.”

Dit word nes Hidden Pretoria as ’n koffietafelboek, eerder as ’n gidsboek, beskou.

Dit is deur Paul Duncan, ʼn ervare uitgewer en joernalis, geskryf en Alain Proust was verantwoordelik vir die fotografie. Gesamentlik maak hulle dit vir die leser moontlik om van Johannesburg se versteekte skatte te ontdek.

Ruimtes en geboue soos St. John’s College, Ron L Hubbard, die stigter van die Sciëntologie, se huis, Nelson Mandela se grootwordhuis in Soweto en Anglo America se hoofkwartier in Marshalltown word onthul.

Duncan en Proust het ook saam aan Hidden Cape Town gewerk wat in Junie 2016 gepubliseer is.

In dié uitgawe het hulle weer eens saamgespan om kunswerke en argitektoniese skatte van dertig geboue in en om die Moederstad bloot te lê. Dit vorm deel van ʼn kollektiewe erfenis, wat die kulturele invloede op die Suid-Afrikaanse geskiedenis weerspieël.

Dié erfenisskatte sluit in die Sendinggestig Museum, die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika, die stadsaal, Palmboommoskee in Langstraat, die Bertram Huis op die Hiddingh-kampus van die Universiteit van Kaapstad, die St. George-katedraal en die Groote Schuur-hospitaal.

Genre: Nie-fiksie
Uitgewer: Penguin Random House

Prys: R430-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Penguin Random House

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.