Paarl-juffrou wen Woordveertjie vir storie oor kinders met angs

Zuléka Smit is ʼn onderwyseres van Paarl Boys’ Primary School in die Paarl. (Foto: Verskaf)

Zuléka (uitgespreek as “Zoe-lie-ka”) Smit, ʼn onderwyseres van Klein Boishaai – ook bekend as Paarl Boys’ Primary School – in die Paarl, se storie vir kinders oor die onsekerheid van skool toe gaan, is vanjaar met ʼn ATKV-kinderboektoekenning, ʼn Woordveertjie, bekroon.

“Op daardie oomblik toe ek gehoor het ek het ʼn Woordveertjie gewen, was ek in my klas. My graad R-seuns het die geleentheid saam met my aanlyn gekyk en daar was ʼn groot gevoel van opwinding in die klas,” onthou sy, en voeg by: “Ek het heel eerste vir God dankie gesê. Alle eer aan Hom.”

Zuléka het die Voorleeskategorie: Graad RR tot 1 gewen vir Ben gaan skool toe, wat in 2022 by Luca – ʼn druknaam van Lapa Uitgewers – verskyn het. Johann Strauss het die prys vir sy werk as illustreerder van die boek gewen.

Daar het intussen nog ʼn storie, met die titel Ben en die groot toets, uit Zuléka se pen verskyn. In hierdie boek leer Zuléka vir kinders hoe om die angstigheid van skoolgaan en toetsskryf te oorkom.

Die storie gaan oor Ben wat sy eerste groot toets moet skryf, maar hy is bang dat hy nie al die spelwoorde gaan onthou nie. Sy ma herinner hom daaraan dat hy nooit bang hoef te wees nie, want God is by hom.

“Dit is uit en uit vir kinders wat angstig by die skool raak, veral wanneer iets gebeur wat buite hulle daaglikse roetine is.

“Baie ma’s sal vereenselwig met daardie gevoel wanneer die skoolsekretaresse bel om te laat weet dat jou kind nie lekker voel nie, en jy weet jy het ʼn gesonde kind skool toe gestuur.”

Zuléka is al vir twee dekades in die onderwys betrokke. Sy beskou dit as ʼn lewenstaak om kinders te help om ʼn stewige fondasie te lê en hulle vir die lewe voor te berei.

“Dit is my twintigste jaar in die onderwys en ek sien daagliks watter struikelblokke kinders ervaar. Ek het begin om die Ben-boeke te skryf om kinders te help om onsekerheid en angs te hanteer, en om vir ouers riglyne te gee oor hoe om kinders te help wanneer hulle hierdie emosies ervaar.”

Afgesien van haar dagtaak as juffrou, deel Zuléka ook raad, riglyne en wyshede op haar persoonlike blog, Uit die pen van ‘n mamma en juffrou. Dié Facebook-blad het meer as 56 000 volgelinge.

Haar stories word met groot lof deur lesers ontvang. “Ek ontvang ongelooflik baie positiewe terugvoer van ma’s. Hulle laat weet veral dat die boek hulle kinders help om uitdagings te oorkom,” sê Zuléka.

Sy werk reeds aan ʼn volgende boek in die reeks, en dit sal na verwagting vroeg in 2024 die winkelrakke tref. Zuléka sê in hierdie stadium lyk dit asof die boek se titel, Ben en die boelies, gaan wees.

  • Ben en die groot toets kos R160 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.