Resensie: Ingrid Jonker was ʼn vernuwer in Afrikaans

(Foto: Verskaf)

In die Afrikaanse poësie is daar twee groot kultusfigure: Eugène Marais en Ingrid Jonker. Die opvallendste ooreenkoms tussen dié twee is dat albei selfmoord gepleeg het – Marais op 29 Maart 1936 en Jonker op 19 Julie 1965. Dikwels word hul kultusstatus toegeskryf juis en uitsluitlik aan die feit dat hulle hul lewens self beëindig het – Marais met ʼn haelgeweer by Pelindaba en Jonker deur verdrinking by Drieankerbaai.

Daar is egter ander digters wat ook selfmoord gepleeg het – Pieter Claassens en Rika Cilliers, byvoorbeeld – en nie naastenby die verering ontvang wat Marais en Jonker kry nie. Daar moet dus ook ander faktore wees wat tot die bekendheid en gewildheid van dié twee bydra, ondanks die relatief klein aantal verse wat elkeen geskryf het.

Marais het in 1905 die groot deurbraak van die ernstige Afrikaanse digkuns bewerkstellig met sy “Winternag” wat vandag nog klassieke status het. Daarna het ʼn aantal gedigte gevolg wat meer as ʼn eeu lank op skool en universiteit voorgeskryf is: “Waar Tebes in die stil woestyn”, “Skoppensboer”, “Die dans van die reën” en “Mabalêl”.

Jonker was ook ʼn vernuwer in Afrikaans – veral met haar tweede digbundel, Rook en oker, van 1963. Sy was, onder die invloed van Uys Krige se vertalings van die Franse digter Paul Éluard, die eerste beoefenaar van die surrealisme in Afrikaans. Sy was ook ʼn voortsetter van die vrye versvorm waarvan Marais se “Die dans van die reën” die eerste geslaagde voorbeeld in Afrikaans was.

Daar is wel ʼn opvallende verskil met haar voorganger. Marais se gedigte is, net soos Jonker s’n, deurdrenk van ʼn doodsbewussyn: “Want swart en droef, / die hoogste troef / oor ál wat roer, / is Skoppensboer”. Jonker se doodsgedagtes gaan egter ʼn stap verder. Sy voorspel reeds in die eerste gedig van haar debuutbundel, Ontvlugting van 1956, die wyse van haar dood: “My lyk lê uitgespoel in wier en gras”. Dit gee aan haar ʼn mistieke allure wat by Marais ontbreek.

Die belang en uniekheid van Jonker se gedigte word opnuut belig deur Louise Viljoen se insiggewende en helder inleiding by hierdie jongste uitgawe van die versamelde gedigte.

Soos Marais is sy ʼn digter wat ʼn prominente plek in die literatuurgeskiedenis verdien, onafhanklik van die selfmoord, en ook onafhanklik van die ander opspraakwekkende dinge in hul lewens – dwelmverslawing by Marais en ʼn onstuimige liefdeslewe by Jonker.

Viljoen begin deur te wys op die stereotipe opvattings in verband met Jonker se persoon: haar kinderlikheid, kwesbaarheid, impulsiwiteit, nimfagtige seksualiteit, rebelsheid en doodsdrang wat alles met haar gedigte in verband gebring word. Sy sê dan: “ʼn Mens moet toegee dat hierdie soort tipering van Jonker as die wispelturige kind, die seksuele ikoon, die doodsgedrewene en die dissidente digter dikwels gespruit het uit haar familie, vriende, minnaars en biograwe – ook navorsers en eksegete – se pogings om ʼn greep te kry op haar kwiksilweragtige persoonlikheid…”

Hierdie mitevorming wat ontstaan het uit die biografiese gegewens van haar kort lewe, het gelei tot ʼn vertroebelde blik op die ware aard en waarde van haar gedigte. Sy was byvoorbeeld ʼn selfbewuste digter wat deeglik aan haar gedigte geskaaf het voor publikasie – in teenstelling tot die beeld wat van haar geskep is as ʼn impulsiewe en instinktiewe skrywer.

Viljoen ontleed die gedig “Ontnugtering” – waarin die inskiklike “rooiwang-pop” gekontrasteer word met “die verwronge digter” – en kom tot die gevolgtrekking: “Dit is opmerklik dat Jonker haarself bewustelik posisioneer as digter eerder as seksuele speelding. Só gee sy dus heel vroeg in die Afrikaanse literêre tradisie ʼn aanduiding van wat dit behels om ʼn vroulike digter in ʼn man-gesentreerde sisteem en wêreld te wees.” In dié opsig is sy ʼn pertinente voorganger van Antjie Krog.

Jonker is ook gestereotipeer as ʼn “kinderlike” digter weens die kinderverse, liedjievorm, die herhaalde gebruik van die pop-beeld en talle verkleinwoorde. Viljoen wys dan daarop dat dié dinge “dikwels die draers van ʼn donker ondertoon en ʼn emosionele kompleksiteit” is.

Die gedig “Toemaar die donker man”, wat Jonker aan haar dogter, Simone, opgedra het, noem Viljoen tereg ʼn “dark lullaby”. In “My pop val stukkend” word daar op selfmoord gesinspeel. En die verkleinwoorde getuig eerder van ʼn ironiese as kinderlike aanslag, soos in die gedig “Korreltjie sand”. Dit wat betref Jonker se gewaande kinderlikheid.

Vervolgens bespreek Viljoen Jonker as ʼn politieke digter. Haar bekendste gedig in dié verband is “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate in Nyanga”. Oudpres. Nelson Mandela het dit voorgelees by die opening van die eerste demokratiese parlement in 1994 – vier-en-dertig jaar nadat dit geskryf is. Dit het uiteraard ʼn nuwe impuls gegee aan Jonker se posisie as kultusfiguur. Talle digters het verse geskryf wat Jonker se “Die kind” eggo. Sy het klaarblyklik ʼn essensiële waarheid omtrent menswees in ʼn gewelddadige tyd raakgevat.

Ingrid Jonker (Argieffoto)

Die landsomstandighede van die vyftiger- en sestigerjare in Suid-Afrika vind nie net neerslag in die drietal uitgesproke politieke verse in haar oeuvre nie, maar die “politieke nood van die tyd” word, volgens Viljoen, deel van haar taal- en beeldgebruik. Sy sluit haar betoog soos volg af: “Dit is dus duidelik dat Jonker se werk gereken kan word tot dié van die Sestigers wat die belangrikste voorstanders van politieke betrokkenheid in die Afrikaanse letterkunde was – ʼn erkenning wat sy nie altyd kry nie.”

Lees ʼn mens opnuut van voor tot agter deur Ingrid Jonker se drie digbundels, Ontvlugting, Rook en oker en Kantelson, besef jy dat sy onherstelbaar deur die liefde en haar land ontnugter is. Sy het met die blote oog in die son gekyk en die verblindende waarheid aanskou. Hier is die laaste strofe van “Ek dryf in die wind” – ʼn gedig wat sy aan haar suster, Anna, opgedra het:

Die son sal ons bedek
                die son in ons oë vir altyd bedek
                met swart kraaie.

Hierdie besonder aantreklike uitgawe van Ingrid Jonker se versamelde gedigte is ook edisie-wetenskaplik goed verantwoord. Louise Viljoen se voorwoord gee ʼn meerwaarde daaraan wat by die vorige uitgawes ontbreek. Sy het my oortuig dat Jonker se reputasie nie net op sensasionele lewensfeite berus nie, maar inderdaad deur haar gedigte gerugsteun word.

  • Lees meer oor die boek Die papie roer en ek word digter op Maroela Media.
  • Ingrid Jonker: Die papie roer en ek word digter word deur Protea Boekhuis uitgegee en die bundel kos R220 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om dit by Graffiti Boeke aan te skaf. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.