‘Selfbestuur bevry ons van swak staatsbestuur’

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Suid-Afrika word tans deur twee omgekeerde grafieke geteister, een wat afgaan en een wat opkom. Die swak staatsbestuur wat die land teister, lei terselfdertyd tot die opkoms van groeiende selfbestuur. Waar die swak staatsbestuur neerdrukkend is, is die opkomende selfbestuur bevrydend.

Dit is die mening van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Hy het met Maroela Media gesels oor sy boek Die pad na selfbestuur – anderkant die mislukking van staatsbestuur. Die boek is in Oktober 2019 by die Kleinkaap-boetiekhotel in Centurion bekendgestel, met die oog op die Beweging se tweede Toekomsberaad.

“Staatsinstellings plof soms so hard in dat mense nie altyd raaksien dat selfbestuur nuwe oplossings meebring nie.

“Ons kan min doen aan die verval van die polisie, Afrikaanse universiteite, staatshospitale, Eskom, dorpe en die uitsluitende rassewette deur die swak staatsbestuur. Ons kan egter help bou aan buurtwagte, Afrikaanse private universiteite, kolleges, werkburo’s en maatskaplike netwerk,” sê Buys.

Hy meen die gees van Ramaforia wat vroeër in Suid-Afrika geheers het, het mense nou nog selfs meer moedeloos gelaat omdat dit lyk of pres. Cyril Ramaphosa nie die moeilike besluit wil neem nie en peperduur planne soos die Nasionale Gesondheidsversekering en grondonteiening sonder vergoeding voorstaan.

“In ʼn sekere sin het dit beter met Suid-Afrika gegaan onder oudpres. Jacob Zuma, omdat almal saamgestaan het om hom teen te werk. Nou is mense egter só moedeloos dat hulle net die land wil verlaat.”

Buys meen daar is wel staatkundige oplossings vir die land se probleme. Hy sê federalisme is ʼn antwoord op van Suid-Afrika se grootste uitdagings.

“Ons hoef ook nie die wiel heeltemal te herontwerp nie, want dit werk reeds in lande soos Switserland waar Duitse, Franse, Italiaanse en ʼn klein groepie Roemeense burgers saam woon. Ons sal natuurlik die stelsel moet aanpas vir Suid-Afrika se eie uitdagings, maar daar is kenners wat meen dié soort bestel kan selfs beter in Suid-Afrika werk as wat dit in Switserland doen.”

Buys is dit ook eens dat daar ʼn opvolgskikking moet kom soos met Kodesa voor 1994.

“Prof. Pierre du Toit van die Universiteit Stellenbosch het reeds in die vroeë 2000’s hiervoor gepleit. Hy het dit voorkomende instandhouding genoem. Du Toit het ook in 2009 gewaarsku dat as ons nie so ʼn opvolgskikking bereik nie, kan Suid-Afrika die pad van Zimbabwe stap.”

Buys skryf in sy boek wat die omstandighede is wat nodig is vir die ANC om in te stem tot so ʼn skikking. Hy sê terwyl van hierdie omstandighede reeds daar is, dink die ANC in hierdie stadium nog hulle kan alles self beheer.

“Tog sal daar op die einde verandering en hervorming in die land plaasvind en die party sal dit nie kan keer nie.”

Hy benadruk dat Afrikaners en die Afrikaanssprekende gemeenskap in die tussentyd nie op moedverloor se vlakte kan sit nie. Hulle moet eerder op oplossings fokus en bou.

Foto: Kraal Uitgewers

Buys het twaalf doendinge geïdentifiseer waarop die 18 instellings van die Beweging sal fokus in ʼn 2030-blyplan:

  • Die bedinging van ʼn kultuurakkoord met die regering en werf van steun vir die akkoord;
  • Die beskerming van regte, vryhede en belange;
  • Die bou van kulturele infrastruktuur en die Afrikaanse leefruimtes vir saambestaan;
  • Die saambring van Afrikaners in ʼn Helpmekaar-netwerk en selfhelporganisasies;
  • Die bou van brûe na ander gemeenskappe en die owerhede;
  • Die versekering van veiligheid deur middel van buurtwagte en veiligheidsmaatskappye;
  • Internasionale steunwerwing en netwerk met die Afrikaanse diaspora;
  • Die skep van ʼn Belastingsveldtog wat ʼn waghondrol vertolk en kortings beding;
  • Samewerking in ʼn Afrikaanse gemeenskap;
  • Protestering teen ʼn swak regering;
  • Kapitaalmobilisering; en
  • Die beskerming van die regsorde.

Flip sê ʼn gemeenskap kan nie sy toekoms aan iemand of iets anders oorlaat as dit wil oorleef nie.

“Nie een van ons het enige beheer oor wat die regering doen nie. Ons moet op die ‘ons moet’-sake wat binne ons beheer is, fokus. Daarom is die Beweging se hele plan gegrond op ‘ons moet’- en ‘ons kan’-planne – dit is dinge wat ons kan uitvoer – al is dit moeilik.

“Ons moet alfaplanne maak met dit waaraan ons iets kan doen, want betaplanne oor sake wat buite ons beheer is, bly net goed bedoelde praatjies.

“As ek sien hoe Israel die woestyn oorwin en die Nederlanders die see terughou, is daar beslis nog baie rede om te hoop vir die Afrikaanse kultuurgemeenskap,” sê Buys.

  • Luister na die volledige onderhoud met Flip Buys boaan hierdie berig. Hy het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor sy boek getiteld Die pad na selfbestuur – anderkant die mislukking van staatsbestuur. Buys het ook vrae beantwoord oor die Solidariteit Beweging se 2030-blyplan en verduidelik waarom hy nog hoop vir Suid-Afrika het.
  • Flip Buys se boek Die pad na selfbestuur – anderkant die mislukking van staatsbestuur word uitgegee deur Kraal Uitgewers en kan aanlyn by die uitgewers bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kobus ·

Teoretiese getjommel vir mense met te veel geld en tyd. In die praktyk is dit nag vir die Afrikaner. Ons verloor ons werk en besighede en begin nou soos bywoners leef. Intussen word gewone mense versoek om te bly en die geldwa vol te hou. Polities is ons op ‘n syspoor op pad na uitwissing.

Jimmy ·

Hoe kan SA met Switzerland vergelyk word? Dis twee uiteenlopende wêrelde.

Jimmy ·

Ek het drie jaar daar gewoon en werk. Ek waarborg jou, dis ‘n ander wêreld.

aj ·

As jy nie ‘n beter plan kan voorstel nie … bly dan liewer stil.

Dwase kan meer vrae vra as wat enige wyse man kan beantwoord!

Laat waai Flip Buys!

‘Sapiens Qui Prospicit!”

Kobus ·

Betaal my miljoene rande met skare befondsing en ek doen dit sonskyn.

Neels ·

aj, ek het dalk ook nie oplossings nie, maar raak wel bekommerd indien ondemokratiese besluite geneem word wat my ook gaan raak. Ek vertrou nie meer op prinse nie.

Frik ·

‘n Familiebesigheid het stilweg die Afrikaner kultuur gekaap.

Wielspore ·

Selfbestuur is ‘n woord wat lekker op die tong val, my pa het my van kleintyd af geleer dat selfbestuur ‘n roete tot sukses is. Ek kan onthou hoe hy dit toegepas het en aan ons verduidelik het, in sy werkwinkel het hy verskillende take gedoen en daarvoor benodig jy gereedskap. Hy het die basiese gereedskap gehad maar van tyd tot tyd was meer spesifieke gereedskap nodig, my pa het ons geleer dat as jy ‘n gereedskap stuk nodig het, dan koop jy een vir jouself, jy leen nie by iemand anders. As iemand jou gereedskap stuk benodig, dan kom gebruik hy hom op jou perseel en dan koop daardie persoon sy eie.
In vandag se tye in SA, tref voorsorg vir jou eie veligheid saam met mense wie jy kan vertrou, gee vir jou kinders die beste opvoeding by mense wat jy kan vertrou, anders doen jy dit self. Moet nie toelaat dat iemand anders beheer het oor sake wat vir jou en jou gesin belangrik is, pas selfbestuur toe.
Selfbestuur onder Afrikaanse mense is die toekoms.

KrokodilBotha ·

Israel kry biljoene $ elke jaar van die VSA. Tyd sal ons leer.

Jerry ·

@aj. begin nou sinoniem raak met dwaasheid, maar ten minste slaan Wielspore die spyker op die kop, terwyl Flip die kitaar slaan. Tussen die dwase en minder dwase blyk dit uiteindelik dat Solidariteit tog daarin slaag om vir mense wat nie kan gly en diegene wie nie wil gly nie, hoop te gee. Die uitdagings is legio, daaroor is daar geen twyfel nie en dat daar verbroude werk gaan plaasvind en pap op die grond gaan val, dit is ook so, maar dit alles is oorkombaar, mits belange in SA ook na die buiteland uitgebrei word sodat Afrikaners van binne en buite sake doen en sake ondersteun. Terwyl dit weliswaar n familiebesigheid is, moet die familiebesigheid, maar net verder uitgebrei word ten einde langtermyn lewensvatbaarheid te verseker. Teen 2030 behoort meeste Afrikaners goed ingeskakel te wees by die familiebesigheid om mekaar van A tot Z te ondersteun. Polities het die Afrikaner nie n kat se kans nie, maar ekonomies met selfbestuur en help mekaar, nie net in SA nie, maar ook vanuit die buiteland, dan het die Afrikaner beslis n kat se kans en kort voor lank ook die hef in die hand. Dan sal die tyd aanbreek dat diegene wie die Afrikaner sy erfreg wou ontse, diegene gaan wees wat gemelk gaan word en wie na die pype van die Afrikaner sal moet dans. Alles kan vermag word en nog baie meer, deur bloot skouer aan die wiel te sit met nie net eiebestuur nie, maar gemeenskaplike selfbestuur!

humor ·

Jerry het ek jou in die verlede geheel en al verkeerd verstaan of het daar n soort van spigiese metaformose in jou plaasgevind. In elkgeval ek verbly my in dit wat jy stel.

piperno ·

Piet left the building – Piet jy gaan nogal ver kom, bly net daai kant dan. Weg hardloop vertel baie van jou karakter. Ek staan nie blind wat gebeur in SA maar niemand gaan eendag kan se ek gee net op nie. Ek staan met Flip. Staan sterk!! Trek daai moue op en bestuur dit self (soos dit gese word – as iets wil gedoen kry, doen dit self of ons kan dit saam doen?)

Johanna Botha ·

Kom net weg van die useless staat wat n groot bangkrot flop is onder die anc !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.