Sprokies kry (feetjie)vlerke in Leon-Ben se kinderstories

Leon-Ben Lamprecht, skrywer van ‘Die Feetjiepolisiediens’ (2023) en ‘Wie skrik vir Wortel Wolf?’ (2021). (Foto: Henk Oets)

“Weet jy, ek het nooit gedink ek sal spesifiek kinderstories skryf nie. Dit is seker maar ʼn uitvloeisel van ouerskap. Dit is vreklekker! Jy kan met lekker mal idees speel, en volwassenes kan soms so wroeg, jy weet. Kinders sien, meestal, nog die positiewe in die lewe.”

Só sê die skrywer Leon-Ben Lamprecht uit wie se pen daar reeds ‘n paar prettige kinderboeke, onder meer Die Feetjiepolisiediens (2023) en Wie skrik vir Wortel Wolf? (2021), verskyn het. Barend, die barbaar is in 2022 deur Kraal Uitgewers (later AfriForum Uitgewers) uitgegee.

Leon-Ben se jongste boek, Die Feetjiepolisiediens, gaan oor kaptein Fanie en sersant Saartjie, die top-polisiefeetjies in die land, wat drie sake moet ondersoek. Die inbraak by die De Beers se huis in die Groot Woud, die diefstal van Jan Christoffel Reus se hennetjie wat goue eiers lê, en die verdwyning van Hansie en Grietjie Fick.

Dié stories is losweg op die alombekende sprokies van Goue Lokkies, Jan en die boontjierank en Hansie en Grietjie, gegrond. Leon-Ben plaas weergawes van hierdie karakters in ʼn splinternuwe en eietydse omgewing.

Leon-Ben sê daar is nie ʼn spesifieke rede waarom hy juis hierdie sprokies gekies het nie.

“Toe die idee by my opgekom het, het ek bloot gaan sit en skryf, en hierdie was die eerste sprokies wat by my opgekom het. Ek het ʼn verskeidenheid gesoek, maar dit moes bekende stories wees. En ek kon ook nou nie dié wat reeds in Wie skrik vir Wortel Wolf? gebruik is, weer aanwend nie.

“Die drie het toe lekker gewerk. Daar was wel ʼn paar mense wat gewonder het of die Hansie en Grietjie een nie te donker was nie, maar ek gaan eerlik wees – dit is my gunstelingstorie in die bundel,” vertel hy aan Maroela Media.

Die titel van die boek was ʼn uitvloeisel van die idee vir hierdie bundel, verduidelik Leon-Ben.

Hy het een oggend gaan draf en toe nagedink oor hoe dit sou wees as Feetjieland gewone dienste gehad het, soos in die gewone wêreld. Munisipale vullisverwydering, skole en, natuurlik, polisie. Die gedagte het by hom opgekom dat ʼn storie oor feetjies wat sake van bekende sprokies moet ondersoek ʼn lekker kinderboek sal wees.

“Ek hou mos daarvan om stories op hulle kop te keer. Die aanvanklike naam sou Die Feetjieland Polisiediens wees, want in my kop is nie al die beamptes feetjies nie. Die afkortings is dan FLPD, soos LAPD, maar my uitgewer, Michelle Cooper, het sinvol uitgewys dat dit nogal ʼn lang titel vir ʼn kind is om te lees.”

Wanneer ʼn mens hom pols oor karakters in die boek wat die meeste soos hy is, vertel Leon-Ben laggend dat hy eintlik met ʼn deel van elkeen van hulle identifiseer.

“Ek kan beslis nie ʼn snor groei soos kaptein Fanie nie, en ek is uiteraard nie ʼn vrou soos sersant Saarkie nie.

“Maar, ek kan vereenselwig met Mevrou Le-Vy wat net ʼn bietjie stilte soek, of met Hansie en Grietjie wat nie altyd lus is vir gesond eet nie. As ek wel ʼn gunsteling of twee kan uitsonder, sal dit Mevrou Le-Vy en Repies wees.”

Leon-Ben is op die oomblik nog heel gelukkig daarmee om sy skryftyd aan kinderboeke te wy. Dit beteken wel nie dat hy in die toekoms nie sy hand aan ander genres sal waag nie.

Leon-Ben Lambrecht. (Foto: Stefan Els)

“Ek kan nie sê ek sal nooit iets anders skryf nie. Ek het idees vir byvoorbeeld ʼn roman of twee, maar ek weet nie of ek dit ooit sal wil skryf nie. Dalk doen ek tog eendag ʼn reismemoire. Dit is immers my agtergrond, en ek hou nogal daarvan.

“So iets sal eers gebeur wanneer my kinders uit die huis is. Op die oomblik is dit gerieflik om kinderboeke te skryf terwyl hulle nog klein is. Ek het ʼn ready-made gehoor waarop ek my stories kan toets om te bepaal of die idee werk of nie.”

Leon-Ben sê hy is deurentyd besig om aan ʼn skryfprojek te werk of aan idees in sy onderbewussyn te timmer. Hy voeg by dat daar moontlik in die toekoms dalk nog stories oor kaptein Fanie en sersant Saarkie sal wees.

Luister hier na Mila Guy se voorlesing van “Die saak van die pap en die goue hare” uit Die Feetjiepolisiediens:

  • Die Feetjiepolisiediens kos R160 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.