Daniel Hugo, Rudie van Rensburg wen ATKV-Woordveertjies

Die land se beste skrywers, digters en dramaturge is die afgelope week deur die ATKV vir hul werk vereer. Hier volg die lys van die ontvangers van 2022 se ATKV-Woordveertjies.

Prys vir leesbevordering

Vanjaar se ATKV-Woordveertjie vir leesbevordering word aan die 17-jarige Sheldon Spear, ʼn graad 12-leerder aan die Curro Waterstone College in Kibler Park in die suide van Johannesburg, vir sy projek Need2Read toegeken.

“As deel van die ATKV-Woordveertjies gee ons elke jaar ʼn prys vir leesbevordering aan ʼn organisasie of persoon wat ʼn bydrae tot die bevordering van lees maak,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.

“Sheldon is ʼn absolute inspirasie en sy bydrae gaan nog lank in die lewe van ander jong mense eggo.”

Spear, ʼn seun wat sy liefde vir lees met ander wou deel, het die laaste agt jaar duisende boeke aan ander jong lesers geskenk.

ATKV-Prosaprys

Die ATKV-Prosaprys word vanjaar aan Gerda Taljaard vir Vier susters (Penguin Random House) toegeken. Francois Bekker, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe was die keurders in die kategorie.

Vier susters is ʼn gelykenis van die natuur se wraak as gevolg van die rowwe uitbuiting van grond, mens en dier. Die tema word reeds van meet af aan neergelê. Volgens die keurders is die karakter Sophie die waarnemer en optekenaar van die vernielsug van die grond, fauna, flora en die vernietiging daarvan deur oorloë en mense wat mekaar verniel en eindelik almal verontmenslik word.

“Die teks is deurweef van ʼn groen eko-gevoeligheid. Sterk karakters, met sterk beelding deur ʼn vaardige skrywer en storieverteller. Dis  ʼn teks wat insuig en die leser bybly, en wat die Afrikaanse letterkunde op die groot verhoog plaas,” meen die keurders.

Prys vir spanningslektuur

Hartedief (Quellerie) deur Rudie van Rensburg het die prys vir spanningslektuur gewen.

“Van Rensburg is ʼn maestro wat die leser van begin tot einde op ʼn naelbytreis neem. Hartedief is ʼn roman van hoogstaande gehalte waarin ʼn sterk spanningslyn deurentyd gehandhaaf word.

“Die grootste verdienste van die roman is egter die wyse waarop die vertelperspektief daartoe bydra dat die leser die verhouding tussen Pieter en sy ma aanvanklik heeltemal verkeerd inskat en dus ʼn kerndinamika in die roman miskyk. Sodoende is die onthulling aan die einde van dié roman net so groot soos in meer tradisionele krimi’s,” meen die keurders.

Thys Human, Valda Jansen en Bettina Wyngaard het dié kategorie beoordeel.

Niefiksieprys

Die niefiksieprys word toegeken aan Van Humpata tot Upingtonia wat deur Nicol Stassen geskryf en deur Protea Boekhuis uitgegee is.

Die keurders skryf: “Hy skryf nie net ʼn stuk meestal onbekende geskiedenis oop nie, maar hy doen dit boekmatig op ʼn manier wat gewoon nie misgekyk kan word nie. Hy sluit ook aan by ʼn groeiende tradisie om die kleingeskiedenis van afdraaipaaie wat moontlik nêrens groots heen gelei het nie, met piëteit en aandagtigheid te benader.”

Die keurders was Willie Breytenbach, Jean Meiring en Martie Retief Meiring.

Prys vir poësie

Daniel Hugo ontvang die poësieprys vir sy bundel Klinkklaar (Protea Boekhuis).

Die keurders beskou Hugo se digbundel as noodsaaklike leesstof en vermaak in die huidige depressiewe stand van sake in die wêreld.

“Die bundel is ʼn heerlike spel met die werk van klassieke digters soos Thomas, Cummings en Dickinson, en ʼn mengsel van ligte en ernstige reflektering op die lewe. Die strofes is kort en kragtig en mens verkneukel jou aan hoe die digter van ʼn ernstige tema iets ligs kan maak en andersom.”

Diana Ferrus, Bibi Slippers en Christo van der Westhuizen het die kategorie beoordeel.

Prys vir ʼn dramateks

Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster was die beoordelaars vir die prys vir ʼn dramateks en die prys gaan vanjaar aan Oom Bey, my pa deur Henque Heymans.

Die keurders skryf: “Hierdie sensitiewe en aangrypende teks oor die lewe van Beyers Naudé, Godsman en dienaar, het vanjaar uitgetroon. Dit gebeur so maklik dat ʼn biografiese drama in ʼn opeenhoping van chronologie en feite verval. Heymans vermy hierdie strikke deur Oom Bey aan ons bekend te stel by monde van sy jongste en enigste dogter, Liesel.”

Deur Liesel se monoloë en interaksie met ander karakters, word daar vir die gehoor ʼn duidelike beeld geskep van wie Oom Bey was, die innerlike en uiterlike stryd wat hy moes voer, en watter uitwerking sy bydrae op die demokratisering van Suid-Afrika gehad het.

Woordwystoekenning

Die doel van die ATKV-Woordwystoekenning is om praktykgerigte naslaanbronne te bekroon vir hul bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans in die praktyk. Die ATKV hoop ook dat die toekenning belangstelling in woordeboeke en taalgidse onder taalgebruikers en uitgewers sal aanwakker.

Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is deur Rufus Gouws, Marné Pienaar en Gerhard van Huyssteen beoordeel en is aan Alex Duffey en Susan Roets vir Kunswoordeboek/Arts Dictionary (2021) (Protea Boekhuis) toegeken.

Hierdie tweetalige woordeboek is bedoel vir leerders en studente van die kunste, onderwysers wat die opvoedkundige vakmateriaal moet aanbied, en ook vir belangstellendes wat meer inligting verlang. Die terme word duidelik en gebruikersvriendelik in Afrikaans en Engels verklaar met maklik verstaanbare definisies, goeie historiese inligting en ’n beskrywing van die periodes, skole en style.

“Hierdie woordeboek is nie net ’n bate vir die genoemde vakgebiede nie, maar verryk ook die Afrikaanse woordeboekversameling en bevestig weer eens dat Afrikaans nie net ’n spreektaal is nie, maar ook ’n gerekende vaktaal,” skryf die keurders.

Prys vir romanses

Helene de Kock ontvang die ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans vir Elisabeth se oorlog wat by Human & Rousseau verskyn het. Die keurders was Malene Breytenbach, Shireen Crotz en Ilse Salzwedel.

“Tussen die blaaie van hierdie boek word fiksionele karakters regte mense, en die leser word noodwendig ʼn intieme deel van die wreedheid en ontnugtering wat die oorlog vir hulle meebring.

“De Kock slaag daarin om dit so goed te beskryf dat jy voel of jy self daar was om die sirenes te hoor loei, die bomme te hoor val en die chaos in die stad te sien. Elisabet se binne-oorlog en pad na geluk is ewe meesleurend. ʼn Boek wat meevoer deur die karakters se wel en wee.”

Romanses, of korter liefdesverhale, is waarskynlik die topverkoper-genre in Afrikaans, en die keurders moes behoorlik kopkrap om ʼn wenner te kies uit al vanjaar se inskrywings.

Carol-Ann Alexander, Amanda Claasens en Kobie van Aswegen het die kategorie beoordeel en die prys word toegeken aan Dina Botha vir Die Kersfeeslysie (Romanza).

Jaco Jacobs (Foto: Verskaf)

ATKV-Kinderboektoekennings

Die ATKV-Kinderboektoekennings word vanjaar aan die eNuus-nuusleser en joernalis Daniëlla van Heerden en Megan Werner vir As jy droom en Jaco Jacobs vir Krok en Dil toegeken.

As jy droom is ʼn storie van durf, deursettingsvermoë, hoop en hartseer. Dit is gegrond op Megan Werner se lewensverhaal en droom om saam met ander tieners ʼn vliegtuig te bou en daarmee van Kaapstad na Kaïro te vlieg.

Krok en Dil, met illustrasies deur Nadia du Plessis, is ʼn grafiese roman vir beginnerlesers wat drie skreeusnaakse stories bevat. Die boek is ook die inspirasie vir die Krok en Dil-leesreeks waarvan Vlak 1 en 2 reeds beskikbaar is.

Jacobs is die skrywer van meer as 220 boeke vir kinders en meer as ʼn miljoen eksemplare van sy boeke is reeds verkoop. Hy spog met 44 bekronings vir sy werk en van sy boeke is in Engels, Nederlands, Italiaans en Portugees vertaal.

Dié toekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Boeke wat vir die pryse in aanmerking kom, word deur jong lesers self beoordeel en dit onderskei hierdie projek van alle ander toekennings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.