Die ATKV al 85 jaar lank deel van Afrikaans 90

afrikaans 90Afrikaans is dalk nie die grootste taal in die wêreld nie, maar dit is beslis nie ʼn liggewigtaal nie. Daarvan getuig die negentig jaar se amptelike status. Die ATKV is trots daarop om al 85 jaar lank te kan deel in die nege dekades waarin Afrikaans vele hoogtepunte bereik het. Vandag kan die ATKV spog dat dit ʼn inklusiewe organisasie met aktiwiteite vir die hele gesin is.

Die ATKV en die Talewet
Die feit dat Afrikaans se negentigste verjaarsdag gevier word, beteken egter nie dat Afrikaanssprekendes net agteroor kan sit nie. Die ATKV het daarom die toepassing van die Wet op die Gebruik van Amptelike tale en gevolglike taalbeleide ʼn saak van erns gemaak. Die organisasie het bewusmakingsveldtogte van stapel gestuur, gesprekke met die departement van kuns en kultuur gehou en lewer amptelik kommentaar op die taalbeleide van staatsdepartemente en ander staatsinstellings.

Tydens ʼn ATKV-simposium oor die Talewet het verskeie sprekers ook hulle mening oor die wet en die waarde vir Afrikaans gedeel. Prof. Theo du Plessis, taalkenner van die Universiteit van die Vrystaat, meen daar is ʼn hele aantal knelpunte wat betref taalbeleidsontplooiing in Suid-Afrika, en dat dit daarom soms moeilik is vir regeringsdepartemente om te besluit watter amptelike tale om te gebruik. Hy het ʼn beroep gedoen op die taalsektor van Suid-Afrika om as ʼn konstruktiewe en deelnemende waghond ʼn deurslaggewende rol te speel. “Sodoende kan die taalsektor ʼn besliste bydrae lewer tot die kultivering van sosiale kohesie, gekoester rondom ons lewende meertaligheid op gemeenskapsvlak, in stede van gebou rondom subtiele taaldwang,” het Du Plessis gesê.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, benadruk dit dat die ATKV vasbeslote is oor die bevordering van meertaligheid, maar dat dit nie die organisasie se styl is om “handtekeninge in te samel, plakkate te swaai of hof toe te gaan” oor Suid-Afrikaners se regte nie. “Ons glo steeds dat ʼn konsulterende en oplossingsoekende benadering die gewenste proses is en die beste resultate behoort te lewer,” het hy gesê. Gouws meen ons kan egter nie net altyd die staat blameer vir die toedrag van sake nie. “Die sakesektor, organisasies en individue dra ook nie altyd by tot die behoud en uitbouing van inheemse tale nie. Die ekonomie word dikwels as sondebok gebruik met die verskoning dat dit goedkoper is om alles maar net in Engels te doen.”

Klink ʼn glasie op Afrikaans 90 deur Afrikaans te praat, te sing, te lees en te skryf. Die ATKV, wat in 1930 in Kaapstad deur twaalf mense gestig is, bied vandag nog dieselfde platform vir die uitlewing van Afrikaans in al sy vorme. Vandag is hierdie nieregeringsorganisasie dié Afrikaanse kultuurtuiste met ongeveer 70 000 hooflede en 30 kultuurprojekte per jaar wat bykans 55 000 inskrywings genereer en meer as 220 000 mense regstreeks betrek.

Die ATKV se aktiwiteite en projekte is daarop gerig om Afrikaans op ʼn inklusiewe en kreatiewe wyse te bevorder. Dit strek van die rieldans (die oudste dansvorm in Suid-Afrika), koorkompetisies, toneelkompetisies vir tieners, filmverse (unieke kombinasie van animasie en digkuns) en skoolprojekte tot toekennings vir uitmuntende kreatiewe skryfwerk (ATKV-Woordveertjies) en joernalistiek (ATKV-Mediaveertjies).

Die ATKV is ernstig oor lees en die voordele wat dit vir kinders en volwassenes inhou. Die leesprojekte van die ATKV word gesterk deur LAPA Uitgewers, ʼn volfiliaal van die ATKV. Die woord ‘lapa’ beteken ‘huis’ – LAPA is dus as’t ware ʼn huis van boeke. LAPA ondersteun die Afrikaanse boek, skrywer en leser deur gehalteleesstof teen bekostigbare pryse te lewer. LAPA fokus hoofsaaklik op drie areas: kinder- en jeugboeke, fiksie wat die hele spektrum dek (van ontspanning tot letterkunde) en niefiksie (veral kook- en handwerkboeke). Bekende LAPA-skrywers vir die volwasse mark is onder meer Sophia Kapp, Irma Joubert, Chanette Paul en Abraham Phillips. Ook die boeke van toonaangewende skrywers van jeugboeke soos Fanie Viljoen, Jaco Jacobs en Carina Diederichs-Hugo verskyn by LAPA.

Afrikaans en meertaligheid
Die ATKV-taalafdeling bevorder Afrikaanse taalverwerwing in ’n meertalige konteks. Daar word regoor die land en regdeur die jaar werkswinkels aangebied deur kenners wat hoërskool-taalonderwysers in alle aspekte van taal- en leesonderrig opskerp.

Weeklikse Afrikaanse klasse wat op vyf verskillende plekke in Soweto aangebied word, is nog een van ons projekte. Hierdie Afrikaans-in-Sowetoprojek is deel van die ATKV se meertaligheidsbenadering. Klasse in ander Afrikatale word ook by die ATKV se hoofkantoor aangebied, en op hierdie manier word daar wedersydse goeie taalverhoudinge geskep.

Die organisasie bied ook jaarliks ʼn meertaligheidsgeleentheid aan in samewerking met die Universiteit van Johannesburg. Die ATKV, die Departement Afrikaans en Departement Linguistiek van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se tweede meertaligheidsnaweek word van 21 tot 23 Mei 2015 op die Kingsway-kampus van UJ en in Soweto gehou. Die ATKV en UJ is al jare lank betrokke by Afrikaanse klasse in Soweto. Die gedagte van ʼn meertaligheidsweek het ontstaan toe hierdie groepe hulle gesamentlike taalprojek in Soweto (informele Afrikaanse klasse) wou bekendstel. Die ATKV en UJ wil met die meertaligheidsnaweek die waarde van meertaligheid en tale belig, en vanjaar se tema is “Tale maak saak”.

Afrikaans in konteks
Het jy geweet daar is ongeveer 6 900 tale in die wêreld, maar net 4% van alle tale (dus, 275 tale) word deur 96% van die wêreldbevolking gepraat? Of, anders gestel, slegs 4% van die wêreldbevolking praat 96% van al die tale. Die agt grootste tale het meer as 150 miljoen sprekers, maar meer as die helfte van alle tale het minder as 10 000 sprekers.

Waar pas Afrikaans in?
Afrikaans is een van 1 000 grootste tale in die wêreld, en word nie net op eie bodem gepraat nie, maar ook as vak by universiteite in die VSA, Rusland, Pole, Tsjeggië, Duitsland, Oostenryk, België, Nederland en Namibië aangebied. Dit is dalk nie vreemde nuus nie, maar Afrikaans is die 12de grootste taal (27 387 sprekers) in Nieu-Seeland – ʼn taal met meer sprekers as Spaans of Nederlands. Iets wat ʼn mens partykeer uit die oog verloor, is dat Afrikaans deel is van die Germaanse taalfamilie. Ander tale in hierdie groot taalfamilie is Duits, Jiddisj, Nederlands, Engels, Deens, Noors, Sweeds en nog heelwat ander. Hierdie Germaanse tale word deur ongeveer 500 miljoen mense gepraat. Kennis van Afrikaans help jou om hierdie tale op ʼn manier te verstaan en redelik maklik aan te leer.

Bronne:
1000 Languages. The Worldwide History of Living and Lost Tongues. Peter K Austin. Uitgewer: Thames & Hudson. 2008.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gwen ·

Vir wat word my kommentaar verwyder? Kan die redaktrise dit asb. terugsit. Waarop dit neerkom is dat die ATKV vir die afgelope 20 jaar die sg. Afrikaanses bedien en het die organisasie ’n politieke instelling vir die Bruines geword.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.