Ekonoom nou beskermheer van ‘WAT’ se Borg ʼn woord-veldtog

Dawie Roodt (Foto: Efficient Group)

Dawie Roodt, direkteur en hoofekonoom van die Efficient Group, is pas as die nuwe beskermheer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn woord-veldtog aangewys.

Roodt het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê hy is oorbluf en uit die veld geslaan. “Ek dink natuurlik hulle het die verkeerde nommer gebel,” skerts hy.

Roodt sê dit is opwindend om op dié manier by die projek betrokke te wees. Hy sien daarna uit om mense bewus te maak van Afrikaans en om hulle aan te moedig om woorde te borg. Hy wil hom veral toespits op bewusmaking onder die jeug.

“Ek is om verskeie redes opgewonde, een daarvan is omdat ek so baie van Afrikaans hou,” sê Roodt.

Belê in ʼn wenner. Belê in Afrikaans deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal te ondersteun. My gunsteling-woord is ‘verruklik’. Wat is joune? Maak die taal jou eiendom en borg nou ʼn woord want die Borg ʼn woord-projek verdien jou ondersteuning,” sê Roodt.

“Dit is ook vir my belangrik om te beklemtoon dat Afrikaans een van die min moderne tale is wat tegnies goed gevorderd is.” Roodt verduidelik dat Afrikaans stewig in die finansiële bedryf gevestig is en dat hy graag eerder terminologie in dié taal gebruik. Hy skroom ook nie om mense te korrigeer wanneer hul taalgebruik onakkuraat is nie.

Hoewel Roodt in geheel passievol oor die taal is, het hy enkele voor- en afkeure.

“My gunsteling-woorde is ‘verruklik’ en ‘vermaaklikheid’,” verklap hy. “En ek haat dit wanneer iemand die woord ‘huidiglik’ gebruik. Dit is inderwaarheid ʼn anglisisme.”

Roodt vergelyk die borg van ʼn woord met die waarde van eiendomsreg. Hy sê deur dié veldtog te ondersteun kan jy ʼn stukkie van die taal besit.

“As ekonoom besef ek die waarde van eiendomsreg,” sê hy. “Deur ʼn woord te borg neem jy eienaarskap van jou taal en daarom is dit belangrik dat mense ʼn bydrae lewer.”

Oor die veldtog

Die Borg ʼn woord-veldtog is begin uit nood wat ontstaan het toe die staatsubsidie vir woordeboeke drasties ingekort is. Dit is een van die suksesvolle geldwerwingsinisiatiewe wat WAT in 2010 van stapel gestuur het met David Kramer as beskermheer. Kramer is opgevolg deur Charlene Truter (Lackay), Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, Hemelbesem, Tracey Lange en Laurika Rauch.

Die doel van hierdie veldtog is om mense bewus te maak van die waarde van woorde en die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van die Afrikaanse taal. Dit laat mense dink oor wat hul gunsteling-woorde is en watter woorde net eenvoudig vir hulle mooi is. Oor die vraag of slegs bestaande woorde geborg kan word, sê dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die WAT: “Jy kan enige denkbare woord borg. Dit hoef in geen woordeboek te wees nie.” Enige nuutskeppings wat dus tussen familie, vriende en sosiale omgewings ontstaan het, kan ook geborg word.

Hoe om ʼn woord te borg

Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy of haar naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook ʼn woord vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. As jy R5 000 skenk vir ʼn woord, ontvang jy ʼn 18A-belastingsertifikaat. Alle deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die aanlyn weergawe van WAT en indien jy ʼn woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

Een prys ter waarde van R25 000, geborg deur Sanlam, kan gewen word. Almal wat woorde borg of koop, kom vanselfsprekend vir hierdie prystrekking in aanmerking.

Dit is ʼn gewilde geskenk aan geliefdes, familielede en vriende. Indien jy ʼn woord wil borg, gaan na www.wat.co.za en klik op Borg ʼn woord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.