Digter se ervarings in Krugerwildtuin neem lesers op reis

Die digter Hennie Nortjé se derde digbundel, getiteld ‘Noord van Malelane’ het pas verskyn. (Foto: Verskaf)

Volwaardige wildtuinbesoekers behoort nie lank na te dink oor wat net noord van Malalane in Mpumalanga lê nie. Uitgestrek oor etlike kilometers, vind jy die Nasionale Krugerwildtuin waar natuurliefhebbers en wildlewe-entoesiaste se siele daagliks verkwik word.

Daarom is die titel van Hennie Nortjé se jongste bundel, Noord van Malelane, geskik vir sy versameling verse oor die Krugerwildtuin wat uit jare se reisnotas en ervarings tydens persoonlike besoeke voortgespruit het.

“Wanneer ek en my vrou, Lettie, in die wildtuin is, verstadig ons. Ons vergeet van flikkerende skerms en verkeersknope, en dit is asof ʼn mens dan skielik ook bedagsamer teenoor ander mense is.

“Ek het telkens wanneer van die natuur se beste tonele voor ons afspeel, probeer om dit vas te vang. As dit nie met my kamera was nie, het ek gedagtes op papier neergepen en agterna êrens gestoor,” vertel Hennie in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Hoewel hy nie as kind die Krugerwildtuin besoek het nie, het hy en Lettie oor die jare saam ʼn skatkis vol herinneringe bymekaargemaak. Baie daarvan is so eie aan enige wildtuinbesoeker se reise.

“Ons slaan graag langs die grensdraad tent op en wag dan saans tot laataand langs die vuur vir die hiëna om sy rondtes te kom doen. Dan is daar ook hierdie ding dat jy vroegoggend uitry, laatoggend terugkom en rus, en vroegaand voor die hekke sluit weer ʼn draai gaan ry.”

Hennie het saam met die digter Daniel Hugo gewerk om hierdie brokkies, wat hy “meditatiewe gedagtes” noem, in ʼn bundel te omskep wat deur Turksvy Publikasies uitgegee is.

Lesers kry met gedigte soos “Vlakvers”, “Uitkenningsparade”, “Nesmoleste”, “Braai” en “Dig met die voete” ʼn blik op Hennie se bewondering vir die Krugerwildtuin. Tussendeur trakteer hy op kreatiewe beskrywings soos “langnek” vir kameelperd, “streeptrekkers” vir sebras en “skurwe slurpe” vir olifante.

“Ek verwoord my sienings oor verskillende interaksies tussen dier en mens, menslike emosies, bewaringskwessies en ʼn bietjie landspolitiek,” deel hy verder.

Met die eerste oogopslag bly daar niks snaaks aan die titel te wees nie, maar fyn waarnemers sal agterkom dat Malalane verkeerdelik as Malelane gebruik word. Hiermee lewer Hennie subtiel kommentaar op die dorp se naamsverandering, wat duidelik nie ʼn invloed op die spelling van die Krugerwildtuin se hek en satellietkamp gehad het nie.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Dié 67-jarige digter van Goodwood in die noordelike voorstede van Kaapstad, is ʼn internis, en hy werk al ʼn paar dekades as diabetes-spesialis. Hy en Lettie, ʼn Afrikaans-onderwyser, het drie kinders waarvan twee saam met hulle gesinne in die buiteland woon.

“Lettie het ook ʼn groot voorliefde vir Afrikaans. Sy tree dikwels as ʼn klankbord vir my op, al is dit partykeer deur nieverbale tekens soos om haar kop instemmend te knik of ʼn wenkbrou te lig.”

Bykans 15 jaar gelede het Hennie sy eerste tree as digter geneem. Hy het ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfkuns, onder leiding van Joan Hambidge, aan die Universiteit van Kaapstad voltooi, en sy debuutdigbundel, In die skadu van soveel bome, is in 2012 gepubliseer.

“My liefde vir poësie is by Hoërskool President deur ʼn passievolle Afrikaans-onderwyseres aangewakker. Ek is van graad 9 af aan die wonderlikste poësie bekendgestel. Dit is verstommend wat toegewyde onderwysers met kinders kan uitrig wat ontvanklik vir kennis is.

“Joan was eweneens ʼn absolute fenomenale leermeester. As digter het ek onder haar leiding geleer om nie fyngevoelig te wees nie, om kritiek te hanteer en raad te neem. Dit was ʼn ongelooflike leerervaring.”

Argieffoto (Foto: Krisztina Papp/Pixabay)

In die skadu van soveel bome is met beide die Ingrid Jonker- en Eugene Marais-prys bekroon. Sy tweede bundel, Kryt, wat in 2019 verskyn het, is vir die Elisabeth Eybers-prys benoem. Beide bundels is deur Queillerie, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee.

Noord van Malelane kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Om die bundel aan te skaf, stuur ʼn e-pos aan Hennie Nortjé na [email protected]. Die boek kan ook aanlyn op Turksvy Publikasies se webwerf bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LIEZL ·

‘n Voorreg om vir Dr Nortjé as my diabetiese spesialis te hê, die afgelope 24jaar. Dankie vir die verdraagsaamheid elke dag met diabete. Hy is voorwaar ‘n besonderse mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.