Gedig: Anna

liefde-hout-hart

Argieffoto (Foto: Ben_Kerckx/Pixabay)

TT Cloete (Geb. 1924)

In die ryping van ons jeug
het ons mekaar met die Prediker verheug.
En nou al meer en meer vel en been sonder
vleis is ons saamhoort ʼn groeiende wonder.

Baie van die rypword het ek vandag
vergeet en ons smoorverlief se smoor
is lankal oor en baie van ons saamlag,
maar ek het nog fragmente daarvan oor
in my onthou. Ons het saam in ʼn helder son
in a somer sesoun, whan softe was the sonne
in Brugge geloop. Ek onthou die carillon,
Gezelle se huis, gragte met swane
en Villon en Carcassonne
en ʼn mooi skildery van ʼn courtisane
in die Louvre, maar van alle onthou
van my en van jou onthou ek jou
helder langs my, in profiel langs my
oral uit die wit lig van my land gesny.

Daar is jy in ʼn fyn helder omtrek
dit in die helderste helder hou ek
teenaan my.

Ek herken jou voetstap in ʼn besige straat
in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.
Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.

Kyk ek sonder jou, is daar skille
oor my diep oogkasse, ek
kyk sonder pupille.
Ek soek jou omtrek om my getrek,
ek soek jou in die appel van my oog.

Kyk ek na die melkweg, in die gras,
in die water, na die boog
van die aarde, altyd iewers is jy ingepas

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.