Gedig: Lig en donker

(Argieffoto: Pixabay)

Die volgende gedig is gekies vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek en word heruitgegee met die toestemming van die AVBOB Poësieprojek . Om dié biblioteek van meer as 22 000 gedigte in al 11 landstale te besigtig, klik hier.

“Lig en donker” deur Meyer van Rensburg

Lig en donker
ek sit nie in donker kamers nie
dis net bedoel vir slaap
of kinders se bangmaakspeletjies
– nie dat ek bang is nie! –
en die onverligte kamers van my hart
word belig deur helder lewensbloed
maar in herberge van my brein
is dit vir my verstand om te besluit
of die duister in sal kom
of ver uitgesmyt
sal word: “Toegang voorbehou!”

dit bepaal die toekoms
wat ek kry: hoe ek sal sukkel
met wat ek doen of sê:
want dis in donker kamers waar
ons negatiewe takseer en ontwikkel,
maar ek verkies om my kiekies positief te hê

tog, eindelik sal die donker
apokalipties kom
wanneer sinapsligflitse
van die serebrum totaal verdwyn
en ek finaal van hier af weg sal kwyn
maar as die donkerte só in my brein kom druis
hoop ek dat ek dan na ligkamers sal verhuis

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.