Gedig: Muskietejag

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire/Pixabay)

AD Keet (1888–1972)

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ʼn bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry –
My naam is Van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.

Verwekker van malaria
Sing maar jou laaste aria –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nóg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie…

Hoe sedig sit hy, o, die kring!
Sy kinders kan maar kranse bring,
Nóú gaan die vabond sterwe…
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dóód sal hy, sowaar ek sweer –
My naam is Van der Merwe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annatjie ·

Leer die kinders dit nog op skool? Dit bring heimwee van dae wat lankal verby is.

Lynette ·

AS DIT AL IS WAT MENS KAN SE VAN MISKIETE . EK SAL BAIE MEER SE . MAAR DIT IS OULIK GESE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.