Gedig: Vlakvers

Argieffoto (Foto: Wolfgang Hasselmann/Unsplash)

Die volgende gedig verskyn in Noord van Malelane, ʼn bundel deur Hennie Nortjé. Dit word met vergunning van Turksvy Publikasies op Maroela Media gepubliseer.

“Vlakvers” deur Hennie Nortjé

Die lyf is geheel-en-al kaal en grys.
Dis maar die vele poetse gebak,
al daardie komieklike aanhangsels,
wat hom so ʼn kleurvolle vark maak:

Skurwelik vratsig,
oordadig bemaanhaar,
met weglê-snor-slagtande
agter ʼn slordige bakkebaard.

Kompleet so in sy volle varklike glorie
het die ot my ʼn oomblik begluur
en toe duidelik deur soveel
onwelvoeglike naamwoorde gewalg,
met koddige lugdraadstertjie orent
eerder die varkepad gevat

na die wyfie met die kleintjies,
dalk na ʼn groendoring se wortels
of ondergrondse bunker …
Ja, asseblief tog enige ander plek
met beter ontvangs.

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.
  • Noord van Malelane kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek op Turksvy Publikasies se webwerf aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.