Gedig: Wrak

Argieffoto (Foto: Milan Seitler/Unsplash)

Die volgende gedig is gekies vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek en word heruitgegee met die toestemming van die AVBOB Poësieprojek . Om dié biblioteek van meer as 18 000 gedigte in al 11 landstale te besigtig, klik hier.

“Wrak” deur Molly Lubbinge  

Jy was ʼn lank verwagte skip
wat oor nege maande sou arriveer,
ʼn klomp nuwe voorraad sou bring
en ʼn plekkie in ons hawe sou annekseer.

Ons het die hawe reeds berei
in skakerings van pienk en wit.
Jy sou wag vir die regte gety
dat jou passasiers voet op land kan sit.

Maar toe breek daar ʼn storm los –
“Ons sal moet induseer!”
En die dokter swyg as ek vrae het
oor die skielike onweer.

Die skippie dobber die hawe in
en kantel van kant tot kant.
Die monitors lui en die dokter skree:
“Ons verloor die hart!”

Dan breek jou mas, jou seile skeur,
jou romp tref ‘n rots voor dit aan skerwe spat.
Maar jou anker was reeds in my siel, my kind.
Op die bodem van elke Februarie lê jou wrak.

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.