Kom gesels saam oor Langenhoven se ‘Loeloeraai’ by KKNK

CJ Langenhoven, ‘n regsgeleerde, koerantredakteur en Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg.

Die Langenhoven Gedenkfonds vier vanjaar ʼn dubbele mylpaal: Cornelis Jakob Langenhoven is 150 jaar gelede in 1873 gebore, en sy grensverskuiwende werk, Loeloeraai, is ʼn 100 jaar gelede, in 1923, gepubliseer.

Hierdie mylpale word op 1 April by die KKNK met die Langenhoven-gedenklesing, ʼn gesprek oor die literêre relevansie van Loeloeraai ʼn eeu later, gevier.

“Ons het besluit om dit in die formaat van ʼn heerlike, informele gesprek aan te bied. Dit moenie hoogdrawend en so akademies wees dat Jan Publiek nie kan saam gesels nie,” sê Izak de Vries, die paneelfasiliteerder, aan Maroela Media.

Loeloeraai is volgens verskeie bronne die eerste wetenskapfiksieteks in Afrikaans. In hierdie teks, dekades voor Spoetnik, verduidelik Langenhoven reeds hoe mense in die ruimte sou slaap, hoe water in die ruimte sou reageer, en die belang van geprosesseerde kos kom ter sprake.

Nog ʼn belangrike aspek, is die ekokritiek in die roman. “Langenhoven was daar sy tyd baie ver vooruit. As die mens in 1923 na Loeloeraai sou luister, sou ons nie vandag in so ʼn groot ekokrisis gewees het nie,” meen Izak.

Die paneel bestaan uit Carien Smith, Jenny Paige, Mellet Moll en Nini Bennett.

Carien het in 2022 haar skryfdebuut gemaak met Bot, ʼn opspraakwekkende bundel kortverhale. Sy is tans ʼn doktorale kandidaat by die Universiteit van Sheffield in Brittanje en doen haar navorsing in klimaatsveranderingetiek.

Jenny is ʼn opgeleide geochemikus, ʼn digitale ontwerper en boonop ʼn kranige leser van wetenskapfiksie.

Mellet, professor in bedryfsingenieurswese, is ook ʼn voormalige dekaan van ingenieurswese by die Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Hy was ten nouste by Suid-Afrika se ruimteprogram betrokke.

Nini is ’n bekende resensent en letterkundige wat in 2003 met ʼn bundel kortverhale, Stoornis, gedebuteer het. Sy het ook drie poësiebundels gepubliseer en is tans besig met doktorale studie in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg.

  • Die Langenhoven-gedenklesing vind op 1 April om 13:00 in die Netwerk24-Feeskafee plaas. Toegang is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.