Lesingreeks skep bewustheid oor Afrikaanse Taalkommissie

Dr. Willa Boezak. (Foto: DAKnetwerk.com)

Met die oog op Afrikaans se honderd jaar van bestaan as amptelike taal wat in 2025 gevier word, het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) besluit om in aanloop tot die viering die organisasie se verskillende kommissies aan die breër publiek bekend te stel.

Dié inisiatief is op 21 Februarie, die dag waarop Internasionale Moedertaaldag gevier word, afgeskop met ʼn lesingreeks waarin die werksaamhede van die Afrikaanse Taalkommissie in die kollig geplaas word.

Dr. Willa Boezak het die reeks ingelei met ʼn lesing oor die kodifisering van die niestandaardvariëteite van Afrikaans. Die lesing was in ʼn hibriede formaat, en dit is vanuit die SA Akademie se kantoor in Pretoria aangebied.

Die uitgangspunt van Boezak se lesing is dat die kodifiseringstaak aangepak word op ʼn sintuiglike wyse en met die hart van die gemeenskap wie se variëteit opgeteken word.

Op ʼn vraag oor sy mening van die herstandaardisering van Afrikaans en die taal se eeufeesviering, het Boezak die metafoor van ʼn moederhen en haar kuikens gebruik om te verduidelik hoe hy oor die saak dink.

“Afrikaans is soos ʼn ma wat haar arms wyd oopsprei en al haar kuikens bymekaar bring. Dit is hoe die viering van die taal moet geskied. Nie met die beskouing van ʼn taal wat uit onafhanklike dele bestaan nie, maar eerder as ʼn eenheid waarin diversiteit voorkom.”

Boezak is ʼn antropoloog, dosent, navorser, skrywer en visuele kunstenaar. Hy het al op verskeie terreine ʼn bydrae tot die bevordering van die variëteite van Afrikaans, in besonder Griekwa-Afrikaans en Kaapse Afrikaans, gelewer.

Persone wat belangstel om die Afrikaanse Taalkommissie se reeks lesings in April en Mei aanlyn by te woon, kan op die volgende datums van 16:00 tot 18:00 inskakel:

  • 23 April: Geskiedenis van die Taalkommissie
  • 30 April: Inhoud van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls: deel 1
  • 7 Mei: Inhoud van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls: deel 2
  • 14 Mei: Werkwyse van die Taalkommissie
  • 21 Mei: Variëteite van Afrikaans

Hou die Taalkommissie se Facebook-blad dop vir meer inligting oor die komende lesings. Navrae kan aan Sanita Meyer gestuur word by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Ja, Die Son, kom op in die Kaapse… en ís dit ‘n son… Dit maak jou kop skoon seer; die growwe onverfyndheid. Het ons ‘n nuwe opgevoeterde woordeboek nodig? Die Russiese taalkundige, Baktin, het na kritiek van diegene wat gekla het dat die Russiese taal vervlak, verduidelik dat dit bloot maar net die natuurlike slymaanpaksels in die taal se dreinpype is wat eerder help om die Russiese taal uit te bou. In die Kaap het ons hoeka erge klankies in die lug… van alle kante van die kaai en die baai se sand af…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.