Meertaligheid, PanSAT se fokus in moedertaalveldtog

Foto: Briza Publications

Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) het Moedertaalmaand vroeër die maand met mening afgeskop deur ʼn praatwoordeboek bekend te stel wat Suid-Afrikaners kan help om sewe van dié land se tale te leer praat.

The Talking Dictionary is met die geleentheid vir die tweede keer bekendgestel en is ook in Mandaryns en N/uu, een van die oudste oorlewende San-tale, beskikbaar.

Sleutelwoorde en -frases word aan gedetailleerde volkleurillustrasies gekoppel deur middel van die Callfinder-toestel. Op dié manier kan lesers na die uitspraak van terme en frases in die verskillende tale luister.

Dr David Maahlamela, PanSAT se waarnemende hoof‑ uitvoerende beampte, het gesê dat PanSAT verskeie taalkundige uitdagings in die gesig staar en dat talle Suid-Afrikaners noodgedwonge van hul moedertaal afstand doen.

“Terwyl ons ons taalkundige en kulturele diversiteit asook meertaligheid vier, is dit belangrik dat ons nadink oor die gebruik van alle amptelike tale en dialekte soos vervat is in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.”

Hy benadruk PanSAT se behoefte om meertaligheid te bevorder en wys daarop dat dit die fokus van hul taalaktiwiteite in die komende maand sal wees.

“Die hoop is dat Suid-Afrikaners deur middel van dié veldtog die belangrikheid van die behoud van Afrikatale sal erken,” het Ntombentle Huluhulu, PanSAT se waarnemende hoof vir bemarking en kommunikasie, bygevoeg.

Tydens die geleentheid het Christo Reitz, bestuurder van Briza Publikasies, ʼn kort demonstrasie van die praatwoordeboek gelewer. Hy is deur Ouma Katrina Esau, die oudste N/uu-spreker, bygestaan.

“Woordeboeke bevorder hoogstens geskrewe taal,” het Maahlamela gesê. “Dit alleen is nie voldoende om ons tale te bevorder en te behou nie.”

Vir meer inligting oor die woordeboek besoek Briza Publikasies se webwerf.

  • Luister aan die bokant van die berig na ʼn groetvorm uit N/uu. Dit is die stem van Ouma Katrina en word gebruik wanneer ʼn persoon in die oggend, middag of aand gegroet word. Dit kan ook gebruik word wanneer jy vir iemand totsiens sê. Die klankgreep is goedgunstig deur Briza Publikasies beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.