Moedertaaldag: Akademia trots op Afrikaans

prof-danie-goosen-akademia-2019-05

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia. (Foto: Verskaf)

Vandag vier Akademia met trots Afrikaans as onderrigtaal op Internasionale Moedertaaldag, en bedank elke Afrikaanssprekende vir hul rol om dié taal te laat voortleef.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia, noem dat die instelling ʼn noue verbintenis met Afrikaans as moedertaal het. Akademia bied uitnemende opleiding en opvoeding van hoogstaande gehalte aan Afrikaanse studente wat graag in hulle moedertaal wil studeer.

Volgens studies is Afrikaanse moedertaalonderrig baie doeltreffender as om in ʼn tweede taal te studeer. Hierdie studie toon ook aan dat dit nie noodwendig waar is dat Afrikaanse studente eerder in Engels wil studeer nie, en dat dié studente wel van mening is dat Afrikaans steeds relevant in die werkplek is.

Boonop is oor die afgelope dekades ook ontdek dat daar ʼn noue verband is tussen die ontwikkeling van jou moedertaal en jou vermoë om die werklikheid konseptueel te begryp, en logies daaroor na te dink. Hoe sterker jou moedertaal gevestig is, des te sterker is jou vermoë om ook abstrakte begrippe te hanteer. Daarom is konseptuele ontwikkeling sonder ʼn deeglike begronding in ʼn eie moedertaal veel moeiliker.

“Akademia is as hoëronderwysinstelling is juis daartoe verbind om ons moedertaal op die hoogste vlak te gebruik. Nog meer, Akademia is daartoe verbind om deur middel van sentrale universitêre funksies soos navorsing en dosering ruimtes oop te maak waarin ons moedertaal kan gedy.”

Goosen sê dat Akademia daarmee nie die belangrikheid van ʼn algemene taal soos Engels ontken nie. “Ons gaan egter uit van die standpunt dat ons eie moedertaal te midde van Engels ʼn florerende taal – ook in die akademiese wêreld van die hoër onderwys – kan wees.”

Studente wat in Afrikaans studeer kry die nodige vaardighede om in die bronne van ten minste drie sterk akademiese tale – naamlik Afrikaans, Nederlands en Engels –te delf. Vir studente wat slegs Engels besig, is eersgenoemde twee bronne ontoeganklik.

Hy meen dat Afrikaans nie net as algemene omgangstaal of as taal van die letterkunde ʼn bykans onuitputlike seggingskrag het nie. “Afrikaans het óók as akademiese taal ʼn besondere uitdrukkingsvermoë. Afrikaans het die afgelope jare uiteraard op akademiese gebied vele uitdagings beleef.

“Akademia is egter oortuig dat Afrikaans met oordeelkundige taalstrategieë weer ʼn florerende taal in belangrike segmente van die akademiese lewe sal wees.” Hy is verder van mening dat Afrikaans se vermoë om die unieke aard van ons eie wêreld ook akademies tot spreke te bring hierin ʼn belangrike rol speel.

“Moedertale is die voedingsbron vir ons konsepte, ons vermoë om te redeneer, ons logiese ordening van argumente. Sonder ons moedertale sou ons konseptueel veel armer gewees het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Uitstekend. Terwyl die wat nie kan bybly nie en probeer om studievelde soos wetenskap en wiskunde te “decolonize” bou afrikaans sprekendes ‘n universiteit wat studies in 2 europese tale en Afrikaans aanbied. Hoe meer die Afrikaner onderdruk word hoe meer floreer hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.