Moedertaalonderrig: gee jou kind die X-faktor

moedertaaldag

Argieffoto.

Deur Ingrid Erlank, redakteur by Afrikaans.com

Suksesvolle probleemoplossing verg kreatiwiteit, die soort kreatiwiteit wat jou:

  • ’n probleem laat raaksien en die oorsake help vasstel;
  • in staat stel om ’n probleem uit verskillende hoeke te benader om die regte antwoord te vind; en
  • in staat stel om jou oplossing in ’n uitvoerbare plan te omskep en uit te voer.

En dít is waar ’n goed ontwikkelde moedertaal so ’n belangrike rol speel. Dit gee ’n mens die vermoë om kreatief te dink, juis omdat ’n mens se begripsvermoë en die vermoë om jouself duidelik en verstaanbaar uit te druk, en moeilike konsepte te verstaan, soveel makliker in ’n mens se moedertaal of huistaal geskied.

Jou moedertaal is die taal waarin jy dink.

Hoe werk dit?

Prof. Mbulungeni Madiba. Foto: Verskaf.

Afrikaans.com het by prof. Mbulungeni Madiba, dekaan van die fakulteit onderwys aan die Universiteit Stellenbosch, gaan aanklop.

Prof. Madiba het meer as 30 jaar ondervinding in hoëronderwysonderrig. Hy het sy meestersgraad in Afrikatale en DLitt et Phil in linguistiek aan Unisa behaal. Sy navorsing is hoofsaaklik gerig op taalbeleid, taalbeplanning, die politiek van taal, taalontwikkeling, korpuslinguistiek, transtaling en konsepliteratuur. Hy het in Duitsland studeer en is ’n Mandela-genoot by die Harvard-universiteit, asook ’n Oppenheimer-genoot aan die Universiteit van Londen. Hy was ook die voorsitter van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en is tans voorsitter van USAf (Universiteite van Suid-Afrika) se Gemeenskapspraktyk aangaande Afrikatale. Hy het reeds talle artikels oor taalbeplanning en -beleid gepubliseer en het boeke in Tshivenda, sy moedertaal, gepubliseer.

Hy sê die volgende: Taal gee ons die vermoë om sinvol te kommunikeer, met ander woorde, taal stel ons in staat om begrip te vorm en om ons leefwêreld te verwoord.

Daarom is moedertaalonderrig so belangrik, want dit is die taal wat jy die beste verstaan en waarmee jy dus jou wêreld die beste ontsluit.

  • Jou kreatiwiteit is opgesluit in jou moedertaal omdat dit die taal is waarin jy jouself die beste kan uitdruk.

Daar is twee soorte kreatiwiteit: Taalkundige kreatiwiteit en kognitiewe kreatiwiteit. Albei is nodig om ’n tweede taal te bemeester. Wanneer ’n kind nie toegelaat word om te ontwikkel in die taal wat hy/sy die beste verstaan nie, gaan hierdie kreatiwiteit verlore.

  • Taalkundige kreatiwiteit stel jou in staat om woorde, sinskonstruksies, idees, ensovoorts in te span om komplekse idees en abstrakte konsepte te begryp.
  • Kognitiewe kreatiwiteit stel jou in staat om gedagtes en kreatiewe denke te orden en dan kreatief toe te pas.

Kry jou moedertaal goed onder die knie

Taalvaardigheid is die sleutel tot sukses, want dit stel jou in staat om sinvol te kommunikeer. Boonop word jou kognitiewe en akademiese taalvaardigheid ontwikkel – ’n voorvereiste vir akademiese sukses.

  • Die onvermoë om in die grondslagfase akademiese taal te bemeester, kan langdurige gevolge op prestasie hê, omdat leerders dit nodig het om hul handboeke te verstaan, woordsomme te verstaan en op te los en om sinvol aan gesprekke en besprekings in die klas deel te neem.

Wanneer kan jy ’n tweede taal begin aanleer?

Jy moet skoolgaan in die taal waarin jy die vaardigste is, maar ’n tweede taal kan wel vanaf graad 1 as ’n vak aangebied word en behoort nie taalverwarring te skep nie (mits die twee tale nie te veel ooreenstem nie).

  • Om egter akademiese taal goed te bemeester, behoort ’n leerder vir ten minste ses jaar moedertaalonderrig te ontvang.

Moedertaal lei tot meertaligheid

Jou moedertaal gee jou die grondslag om meer as een taal te bemeester. Hoe sterker jou vaardigheid in jou moedertaal, hoe makliker kan jy ’n ander taal aanleer omdat jy die beginsels van jou eie taal goed onder die knie het en dit daarom makliker op ander tale kan toepas.

Die vyf dinge wat ouers moet weet voordat hulle hul kinders skool toe stuur:

  • Verstaan die belangrike rol van moedertaal in jou kind se opvoeding, veral vir ten minste die eerste ses jaar van skool, maar weet ook dat jou kind die vermoë het om meer as een taal aan te leer;
  • Lees vir jou kind – so word hy/sy blootgestel aan akademiese taal;
  • Kies ’n skool wat veeltaligheid ondersteun, want blootstelling is belangrik sodat jou kind ’n addisionele taal kan bemeester; en
  • Kies ’n skool wat kinders toelaat om hul eie identiteite, kreatiwiteit en kritiese denke te ontwikkel.

Moedertaalonderrig is nie ’n opsie nie. Wat nou?

Die meeste kinders in Suid-Afrika het nie die geleentheid om onderrig in hul moedertaal te ontvang nie, veral ná graad 3. Daarom moet ouers hul kinders vir meertaligheid voorberei voordat hulle skool toe gaan. Doen die volgende:

  • Reël privaat klasse waar jou kind in sy/haar moedertaal onderrig word of neem self die leisels en help jou kind om 100% vaardig te word in sy/haar moedertaal.
  • Gebruik ander media, soos televisie en rolprente, om jou kind bloot te stel aan die taal waarin hy/sy onderrig ontvang.
  • Stig jou eie privaat skool, mits so ’n skool nie ander leerders op grond van hul taal uitsluit nie.
  • Bepleit moedertaalonderrig vir jou kinders.
  • Span veeltalige hulpbronne, soos boeke, in.

Kortom, gee jou kinders die X-faktor en laat hulle in hul moedertaal leer.

  • Kry die tien belangrikste vrae en antwoorde oor moedertaalonderrig hier. Lees die navorsing oor die belangrikheid van moedertaalonderrig hier. Kyk hier wat doen MOS en die AON om moedertaalonderrig in Afrikaans in Suid-Afrika te bevorder.

Kuier in Afrikaans met Maroela Media se eg Afrikaanse produkte in die Koöperasie. Februarie is die maand waarin jy jou trots vir Afrikaans op die mou kan dra met ʼn Afrikaanse hemp of selfs oor die skouer met ʼn boektas van egte leer. Klik hier om die mooiste Afrikaanse produkte te sien en ondersteun só jou moedertaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Nou wanneer maak prof. Mbulungeni Madiba sy stem so bietjie dik teen die verengelsingsbeleid wat sedert 1994 in SA geld?
Drie dekades is reeds verlore waar die nuwe ANC-regering nie ‘n steek werk gedoen het om swart kinders ‘n vaste fondament in hul moedertaal te gee nie.
Al wat ‘bereik’ is, is die uitwissing van Afrikaans, die moedertaal van ‘n beduidende, diverse groep in die land.
Al die prof. se taal-wyshede laat ‘n bitter smaak na.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.