Om talig uit te sluit

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Ek weet nie van jou nie, maar ek verstom my oor die herrie oor die Universiteit Stellenbosch se onwetenskaplike interpretasie en lomp toepassing van die taalbepalings. Ek is verbaas oor die herrie, nie oor US se taalreëls nie.

’n Mens is die vernietiging van moedertaal al te wagte, veral aan ons staatsbeheerde onderwysinstellings. Moedertaal beteken vir die staat niks meer nie as dat dit die taal is wat jy kleintyd met jou ma gepraat het, voordat Engels Suid-Afrika se enigste taal geword het. En dit verbaas my al hoe meer hoe absoluut onbeholpe die sogenaamde woordvoerders is as hulle oor die instelling se sogenaamde taalbeleid moet praat. En dan wag ek op die vermaaklike terugvoering wat die media uit taalvervreemde rektore gewurg kry. As dit nie so ernstig was nie, sou die gegorrel van universiteitsbesture oor taal(on)regte nogal komieklik kon wees.

Wat my egter die heel meeste verbaas, is dat die media en opportunistiese politieke partye nou eers agterkom dat die argument van uitsluiting lankal misbruik word om moedertale te vermoor. Ek weet eerstehands van groot maatskappye wat die sosiale gebruik van ’n moedertaal, veral Afrikaans, in hul teekamers en gange verbied onder die dekmantel van sogenaamde uitsluiting. Uitsluiting het nou die modewoord geword as jy iemand polities wil bykom. Sê net “uitsluiting” of “rassisme” en jy is kniediep in die politieke pekel.

Wat die owerhede en die ANC nie kan of wil verstaan nie, is dat die afdwing van Engels in ons almal se kele die skep van aparte taalinstellings bevorder. En ek gebruik die woord “apart” nie ligtelik nie, maar die gedwonge stigting van afsonderlike taalinstellings is niks anders as taalapartheid nie. Die verbod op die spontane gebruik van moedertale op hoër- of laerfunksievlak is die heerlikste insentief vir die skep van intellektuele linguistiese tuislande.

Daarom is die voortdurende bevoorregting van Engels op tersiêre vlak en die gelieg daaroor voldoende regverdiging vir die vestiging van moedertaalinstellings.

(Miskien moet die FAK dit oorweeg om ’n erepenning vir die bevordering van Afrikaans aan die rektor van die US toe te ken.)

Iets wat iemand nog vir my moet verduidelik, is hoe die ANC se kop oor privatisering werk. As jy dan so paranoïes teen privatisering op een vlak gekant is, hoekom stimuleer jy privatisering op ’n ander vlak? Aan die een kant klou jy verbete vas aan staatsbeheer van mislukkings soos die SAL en Eskom, maar terselfdertyd maak jy van ’n regverdige taalbedeling so ’n perfekte gemors dat moedertaalgemeenskappe nie anders kan as om taalinstellings, soos skole en universiteite, te privatiseer nie.

Miskien moet dit my nie so danig verbaas nie, want die spulletjie is so voorspelbaar subtiel.

As jy nog gewonder het oor ’n taalspesifieke instelling, kyk maar net wat gebeur met moedertale by die staatsondersteunde instellings, en as jy bekommerd is oor jou kind wat ’n graad sonder swaarkry in Afrikaans moet klaarkry, oorweeg dan maar Akademia. Die hegemonie van Engels in ons meertalige land is uiteindelik dan mos goed vir moedertale wat die wil en vermoë het om vir hulself te sorg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eden ·

As jy George Orwell se 1984 ken, sal hierdie tipe dubbelspraak bekend voorkom. Ons bevorder diversiteit en veeltaligheid deur Afrikaners te dwing om Engels te praat. My ouma wat in die 1920’s op skool in die plattelandse Vrystaat was is gedwing om English met haar maats te praat. As sy durf waag om Afrikaans te praat, moes sy ‘n plakkaat wat “donkey” op geskryf was om haar nek vir die res van die dag dra. Danksy die ruggraatlose De Klerk regering, die gemesmeraaisdes met Mandela se nuwe SA “wonderwerk” en die aktiewe afbreek van Afrikaans deur Afrikaanse akademici oor die laaste 25 jaar om polities korrek te wees, staan Afrikaans voor die afgrond. Gelukkig het julle darem verseker alles is so inklusief dat almal Engels moet praat.

Miskruier ·

Ek het nounet weer probeer om boeke in Sepedi, vir n 10jarige seun in Modimolle uit te neem by die plaaslike biblioteek. Is daar nie boeke geskryf die laaste 26 jaar??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.