Omvattende projek wil variëteite van Afrikaans opteken

Prof Wannie Carstens (NWU en Afrikaanse Taalraad) en prof Frank Hendricks (UWK) by die stigtingsvergadering van ProVARIA. (Foto: Afrikaanse Taalraad)

Meer as 20 Afrikaanse taalkundiges van 14 universiteit landswyd het die afgelope naweek saam met verskeie Afrikaanse taalorganisasies begin werk om ʼn navorsingsprojek van Afrikaans se inherente verskeidenheid te begin.

Die omvattende navorsingsprojek is as die Projek oor Variasie in Afrikaans (ProVARIA) gedoop en is tydens die werkswinkel by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) in Stellenbosch van stapel gestuur.

“Dit is die eerste keer sedert 1984 dat so ʼn groot en verteenwoordigende groep taalkundiges byeenkom om hulpbronne saam te gooi en om saam aan een ondersoekterrein te werk.

“Die doel van ProVARIA is om navorsing oor die variëteite van Afrikaans beter te koördineer,” sê prof. Wannie Carstens, buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Carstens is ook projekfasiliteerder en navorsingsgenoot van die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Dr. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), meen dit was “ʼn plesier om as gasheer vir hierdie historiese byeenkoms te kon optree en om die rol as woordeskatoptekenaars in die projek te kan speel”.

ProVARIA het reeds ʼn opname van bestaande navorsing oor die variëteite van Afrikaans begin en wil die belangrikste tekste in die vorm van ʼn bundel deur die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) publiseer.

“Die projek sal ook verdere navorsingsbehoeftes identifiseer en samewerking tussen akademici bevorder om die vele gapings in ons kennis aan te vul. Dit is ʼn twintigjaarprojek,” voeg Carstens by.

Prof. Frank Hendricks, emeritusprofessor verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê ProVARIA is daarop toegespits om Afrikaans as heterogene taal te projekteer.

“Werk onder die ProVARIA-vaandel sal van meet af gerig word deur ʼn gelykevlakbenadering waarvolgens die standaardvariëteit en al die ander variëteite van Afrikaans as prinsipieel gelykwaardig beskou word.”

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Volgens dr. Conrad Steenkamp, hoof van die ATR wat as sameroeper van die werkswinkel opgetree het, is die voorgestelde navorsing van kritieke belang vir Afrikaans. “Dit raak aan belangrike politieke aspekte van die Afrikaanse taal en spreek sterk behoeftes aan die kant van variëteitsprekers aan.”

Marius Swart, ondervoorsitter van die Taalkommissie en dosent aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, sê die inherente taalverskeidenheid in Afrikaans is ʼn saak wat hom baie na aan die hart lê, terwyl Monique Rabé, verbonde aan die Vakgroep Afrikaans en Nederlands aan die NWU, dink die projek sal uiteindelik ook van enorme waarde vir die onderrig van variasietaalkunde wees.

Ian Kotzé, hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare, noem dat onderwysers in die Oos-Kaap en elders dikwels sukkel om taaldiversiteit in die klaskamer te hanteer.

“Deeglike navorsing sal dit makliker maak om Afrikaanse onderwysers op te lei om kwessies rakende taalvariëteite in die klaskamer te hanteer en om geletterdheidsvlakke in gemeenskappe te verbeter.”

Ria Olivier, projekbestuurder van die ATR, bevestig dat soortgelyke probleme ook in die Wes- en Noord-Kaap ervaar word. “ProVARIA se navorsing sal help om probleme op die grond aan te spreek.”

Kundige persone wat graag by ProVARIA se aktiwiteite betrokke wil raak of meer te wete wil kom, kan ʼn e-pos aan Roné Wierenga stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.