Onbekende Afrikaanse taalstryder gevier

Van links na regs is Werner van Ass, Magda van Ass, Kian van Ass, Victor Kessell, Marisa Kessell en Gerald Kessell by die graf van ds. August Ahrbeck in die Woltemade-begraafplaas. (Foto: Verskaf)

Sy naam is nie noodwendig vir die deursneemens sinoniem met die Afrikaanse taalstryd nie, maar ds. August Ahrbeck was een van agt flukse patriotte wat 147 jaar terug ʼn belangrike rol gespeel het om dié jong taal aan die suidpunt van Afrika te vestig.

Ahrbeck, tesame met Gideon Malherbe, CP Hoogenhout, Daniël Francois du Toit, Petrus Malherbe, SG du Toit, DF du Toit en sy broer SJ du Toit, het tydens ʼn geheime vergadering die vereniging Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 gestig en sodoende ʼn aktiewe stryd om die erkenning van Afrikaans, toe ʼn “kombuistaal”, as amptelike taal begin.

Daarom het die lede van die Noordelike Voorstede-FAK-Kultuurnetwerk onlangs Ahrbeck se graf in die Woltemade-begraafplaas in Maitland skoongemaak en die lewe en werk van dié minder bekende lid van die GRA, 87 jaar ná sy afsterwe, herdenk.

Ahrbeck, ʼn leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, is op 15 Augustus 1851 in Kaapstad gebore en was die jongste van drie seuns van ʼn Duits gebore rekenmeester. Hy het sy skoolopleiding in Kaapstad ontvang en het teologie studeer aan die destydse Victoria Kollege, later die Universiteit van Stellenbosch (US). Luidens ʼn verklaring van die FAK is dit hier waar hy in aanraking met die vroeë voorstanders van Afrikaans gekom het.

Ds. August Ahrbeck het ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel. (Foto: Verskaf)

Hy het veral ʼn kernrol in die stigting van die eerste Afrikaanse “koerant”, Die Afrikaanse Patriot (wat later deur die Paarl Post oorgeneem is), gespeel. Die eerste uitgawe is op 15 Januarie 1876 onder redaksie van Hoogenhout in die Paarl uitgegee en die nuusblad het binne twee jaar van ʼn maandelikse uitgawe na ʼn weeklikse een verander.

Weens die feit dat die teologiese professore verbonde aan die Victoria Kollege heftig gekant was teen die Afrikaanse taal en tot 1920 Nederlands as kanseltaal verkies het, was Ahrbeck se deelname aan die GRA nie sonder teenstand nie.

Hoewel hy in sy studentedae gereeld vanaf Stellenbosch GRA-vergaderings in die Paarl bygewoon het en as die Stellenbosch-agent vir Die Afrikaanse Patriot gelys was, het hy na bewering later in sy lewe nie openlik gepraat oor sy deelname aan die GRA nie.

Hy het ook in sy loopbaan as predikant en met sy gesondheid verskeie terugslae beleef.

Elizma Smith, projekkoördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaapprovinsies, sê dat Ahrbeck reeds op 16 jaar ná ’n ernstige oorinfeksie sy gehoor begin verloor en mettertyd heeltemal doof geword het.

Vrywilligers en FAK-lede hard aan die werk. (Foto: Verskaf)

“Sy eerste beroep as leraar in 1883 was na die NG gemeente Prieska en daarna die NG gemeente Ugie in 1903. In Prieska bearbei hy ʼn geestelik verwaarloosde en uitgestrekte gemeente met besondere toewyding en slaag ook suksesvol daarin om die kerk se drukkende kerkgebouskuld af te werk deur onder meer die kerk se eerste basaar in 1885 te reël. Hy het ook die grondslag vir plaaslike sending gelê, maar weens onenigheid in die gemeente moes hy noodgedwonge bedank en verlaat hy Prieska as ʼn arm man met slegs £500 in sy besit. In Ugie het sy gesondheid so vinnig agteruitgegaan dat hy verplig was om sy emiraat in 1905 te vra,” verduidelik Smith.

Ná sy vertrek van Prieska het hy afloswerk in verskeie gemeentes gedoen, maar weens sy gesondheid het hy en sy vrou, Fredericke, na Somerset-Wes toe verhuis. Hier het die egpaar, wat kinderloos was, lidmate van die plaaslike NG gemeente geword en hoewel hulle gereeld eredienste bygewoon het, het Ahrbeck in stilte aanbid sonder dat hy die preek kon hoor omdat hy toe reeds byna heeltemal doof was.

Ds. August Ahrbeck se graf is opgeknap. (Foto: Verskaf)

Smith vertel dat hy 1910 nóg ʼn terugslag beleef het toe ʼn lokomotief sy been verbrysel het omdat hy nie die trein kon hoor aankom nie. Hy het daarna weens sy fisieke beperkings ʼn rustige bestaan gevoer en is op 26 Februarie 1935 in die ouderdom van 84 oorlede.

Ds. PJ Pienaar van die NG gemeente Somerset-Wes het in sy doodsberig in die Kerkbode van 6 Maart 1935 geskryf dat Ahrbeck nooit gekla het nie en dat dit “ʼn genot was om by hom te gaan sit en sy moed te bewonder”.

“Ds. Ahrbeck was ʼn buitengewoon beskeie mens. In 1913 het eerwaarde Andries Dreyer, eerste argivaris van die Kaapse Kerk, hom gevra vir ʼn lewenskets. Hy het baie teësinnig slegs enkele basiese feite verstrek en gevra dat dit slegs ná sy dood gebruik moes word ás dit ter bevordering van die koninkryk van God sou wees,” sê Smith.

Twee jaar voor sy dood kon hy gelukkig nog ʼn verwesenliking van die GRA se belangrike werk beleef toe die eerste Bybel in Afrikaans in 1933 uitgegee is.

Smith het die Kessell- en Van Ass-gesinne van Parow bedank vir hul bydrae om Ahrbeck se graf skoon te maak en sodoende “die lewe van ʼn diensbare dominee en taalstryder weer te onthou”.

Vir meer inligting of om aan te sluit by die Noordelike Voorstede-FAK-Kultuurnetwerk, nader Smith by [email protected] of besoek www.fak.org.za om ʼn maandelikse bydrae tot die FAK te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.